Noord -Transvaaltak - Onthoupaadjies 2020

Ons leef geskiedenis elke dag – en dit word uiteindelik ook deel van ons eie persoonlike geskiedenis. Die wêreld verander so vining dat ons jeugherinneringe reeds verstomming by vandag se jongmense ontlok: aande sonder TV, oproepe maak by ‘n tiekieboks, kerkdienste onder ’n groot boom tydens seevakansies…  Genealogie vra dat ons ook ons eie stories opskryf en ander saamneem op ons onthoupaadjies.
Navigeer na die video, teks en skyfiestel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder.
  Kliek op die vir oopmaak/aflaai
DATUM VERTELLER ONDERWERP
 VIDEO
TEKS
SKYFIES
2020-11-30 Neëltjie Zehnder Sorgvrye kaalvoetdae
2020-10-31 Nic Prinsloo Die lewe of Laerskool Alldays
2020-09-30 Vis Visagie   Enkele grepe uit my kinderdae
2020-08-31 Sam Basch Onskuldjare
2020-07-31 Oosie Oosthuizen Mooi herinneringe aan ons tye op Volmoed en Hopedale
2020-06-05 Rentia Landman My skooljare
2020-06-01 Trysie Joubert Toe Trysie Joubert Sersant W van Zyl was
2020-05-03 Thys du Preez My jeugjare
2020-03-15            Hannie Pretorius My jare as 'n jong kraamsuster
ONTHOUPAADJIES VIR OPKOMENDE JARE
2021 Noord-Transvaaltak - Onthoupaadjies 2021

Sorgvrye kaalvoetdae

ZEHNDER Sorgvrye kaalvoetdae DML Photo 2020 11 30Neël tjie Zehnder 30 November 2020
Neëltjie Zehnder sê sy weet mens se geheue is onbetroubaar as dit by geskiedskrywing kom; daarom skryf sy haar herinneringe neer. Gebore in 1943 op Heidelberg in Transvaal, is sy vernoem na haar ouma aan moederskant.
Die skool op Schaapplaats (die Nederlandse vorm van die naam) was 'n eenvertrek-sinkgeboutjie sonder lopende water met 'n stofie wat eers aan die gang gekom het ná die ergste oggendkoue reeds gewyk het. Hulle het met 'n 'trêppie' (perde-karretjie) skooltoe gery. Haar eerste onderwyser, oorspronklik van die Kaap, het hulle huistoe gestuur sodra swaar weer opsteek, waarvoor hy skynbaar bang was.
Haar ouers was baie arm, maar kon later 'n stuk grond, Skaapplaas, aankoop wat haar pa deels met 'n oom bewerk het. Hy het met mielies geboer en het later 'n Munktell-trekker aangeskaf. Beide ouers was fluks en het die samelewing gedien, onder meer die Landbou-unie en die kerk. Hulle het ook die plaaswerkers goed behandel. Sy en haar sibbe het met die kinders gespeel en het ook Sotho-name gekry.
Uiteindelik het 'n opening uit die kokon van sorgvrye kaalvoetdae op die plaas ontstaan. Sy het gaan studeer en is later met 'n Switserse man getroud.

Die Lewe op Laerskool Alldays

Oosie OosthuizenNic Prinsloo,  31 Oktober 2020
Nic se laerskooljare het geduur van 1947 tot 1953. Die meeste van die 120 kinders het in die koshuis tuisgegaan wat aanvanklik selfvoorsienend was. Daar was melkkoeie, hoenders, varke en groentetuin.
Met sy ouerhuis 35 km van die skool af, het die kinders daar byeen gekom om skooltoe geneem te word. Hulle moes deur 21 hekke gaan, die sogenaamde "smoelslaners" wat menige bestuurder aan die slaap gevang het. By een geleentheid is hulle ure lank deur vloedwaters opgehou en laat by die skool opgedaag, al die kinders vol modder bespat.
Die kinders is 'n ander keer met 'n lorrie geneem om die sirkus op Waterpoort, sowat 40 km van Alldays af, te gaan sien. Die lorrie is weer opgekommandeer vir 'n atletiekbyeenkoms op Louis Trichardt, waar Nic aangesê is om ook die 200 treë te hardloop waarvoor hulle nie eens geoefen het nie. Hy kan nie meer onthou hoeveelste hy by die wenpaal was nie.
Tydens 'n skooluitstappie na die Bosveldhotel, 'n warmwaterbron, het hy erg sonbrand opgedoen met sy rug vol blase. Hy kon nie 'n hemp naby sy lyf verdra nie en het 'n weeklank pyn verduur.

Grepe uit my kinderdae

Oosie OosthuizenVis Visagie,  September 2020
Vis skryf dat hy enkele dae ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in Pretoria gedoop is. As spoorwegman is sy Pa later na Zeerust verplaas, waar Vis nog onlangs opnuut die geleentheid gehad het om die indrukwekkende stasiegebou te besigtig.
Wanneer sy Pa op ‘n Sondag diens gedoen het, kon hulle kinders met die kruierwaens op die perron speel. In die somer kon hulle ná skool in die koelkamer afkoel. Die Spoorweë het werk aan baie mense verskaf. Sy Pa is in 1949 na die Rand verplaas. Die kantoor het daardie jare nie oor telefone beskik nie; slegs ‘n telegraaf waarmee boodskappe in Morsekode gestuur is.
In die gruisgat agter hul huis kon hy met ‘n voëlrek jagmaak op paddas en hulle het ook in die spruit gaan visvang. Sy Ma het dan die ‘ghieliemientjies’ vir hom gaargemaak. Oupa en Ouma Visagie het gereeld met die trein kom kuier; die ouman het graag staaltjies uit die ‘Engelse Oorlog’ vertel.
Vis se lewe het onherroeplik verander toe hy vir die eerste keer in 1950 met Engels in die skool kennis gemaak het en hy boonop skoene en ‘n das moes dra.

Onskuldjare

Oosie OosthuizenSam J Basch, 31 Augustus 2020
‘n Klerehanger van Springs Uitrusters uit die 1950s waaroor sy baadjies vandag nog hang, het Sam sy kinderjare in daardie Oos-Randse dorp in herinnering laat roep. Hy en drie broers het op die Daggafonteinmyn grootgeword waar hul pa die hoof van die staatsmynskool was.
Hoewel die gevierde skrywer Nadine Gordimer, ook ‘n boorling van Springs, in later jare snedig oor die mynlewe geskryf het, was dit vir Sam in teendeel groot pret. Hy was ook lief vir die bioskoop in Springs waarheen hulle per trein gery het. Wintervakansies is die gesin met ‘n klein DKW Auto Union na Badplaas, dié vakansieoord vir Afrikaanssprekendes in daardie jare. Hulle het ook sy ma se familie in die Karoo besoek, sommige wie se familieverbintenis hy eers in later jare kon bepaal.
Sam was lief vir lees, hoewel daar min boeke in hul huis was, dalk te wyte aan die skraps finansies van die gesin. Desondanks het hy gespaar vir sy eerste kamera en so fotografie ‘n stokperdjie gemaak wat hy steeds beoefen.

 

Mooi herinneringe aan ons tye op Volmoed en Hopedale

Oosie OosthuizenOosie Oosthuizen, 31 July 2020
As oudste van drie broers, het Oosie in die omgewing van Somerset-Oos in die huidige Oos-Kaap grootgeword. Vir hulle was Cradock ver, Graaff-Reinet nog verder en Oudtshoorn byna onbereikbaar. Die familie het darem motors en bakkies gehad, maar papwiele op die grondpaaie het lang ritte geen plesier gemaak nie.
Sy jeugjare het hulle deurgebring op Volmoed van die Oosthuizens en op Hopedale van die Fouries vanwaar sy ma gekom het. Sy pa Neel se broer Ollie het met sy ma Susie se ouer suster Esther getrou. Die buurplase was op die oewer van die Groot-Visrivier geleë.
Om die huis op Volmoed was oop grond met doringbome wat heerlike speelplek gebied het. Hulle het paaie, krale en landerye in die sand gebou en dolosse en bottels was hulle vee. Hy onthou die ou huis met die heerlike reuke van tuisgebak en plaaskos. Familiekuiers op Sondae en Kersfees was spesiaal. In 2014 met ‘n besoek vind hy die huis mooi opgeknap en voorbereidings was aan die gang om sitrusboorde aan te lê. Vandag kyk hy terug op wonderlike kinderdae.

 

My skooljare

Rentia webRentia Landaman (née Reid), 5 Junie 2020
Van die bitter-koue Wakkerstroom waar Rentia se pa ‘n onderwyser was, het sy goeie herinneringe aan die plot (kleinhoewe) waar sy grootgeword het, asook die skool wat vir haar nog “lekkerder” was. Hier het sy hop-scotch en ‘vyf-klip’ gespeel (wat hulle hand-oog-koördinasie ontwikkel het). Daar was ‘manna’ om onder die bloekombome te soek om te eet, paddavissies om tussen die riete te vang om groot te maak en mostuine aan te lê.
Met kortpouse het Rentia tyd gehad om Ma se toebroodjies te eet, terwyl sy met langpouse wanneer speletjies georganiseer is, verkies het om ‘rounders’ eerder as korfbal te speel. In die winter het sy en haar maats op ‘n oopgetrapte kartonboks teen ‘n skuinste afgegly of op ‘n geroeste paal gebalanseer om die droë watersloot oor te steek – ‘n oefening wat skynbaar vandag vir kinders met disleksie gegee word.
Hoewel plattelandse dorpies ‘n gebrek aan leesstof gehad het, het Rentia die Jongspan en Patrys deur die pos ontvang, en ook die Transvaler-koerant ‘n dag of wat laat kon lees. Vir die kinders was dit opwindend om boeke van die provinsiale boekewa te kry wat die biblioteek kom aanvul het. Dit was Vrydagoggende en Dinsdagmiddae oop, en jy het vinnig een van die twee toegelate boeke klaargelees om nog een uit te neem voordat dit sluit.
Rentia glo die grootste geskenk was om net gewoon kind te kon wees.

Toe Trysie Joubert Sersant W van Zyl was

Trysie Joubert banier webTrysie Joubert, 1 Junie 2020
In 1972 is Trysie se aandag getrek deur ‘n koerantbylaag oor die opleiding van vroue in die SA Polisie, wat haar aangespoor het om daarvan ‘n loopbaan te maak. In hierdie vertelling wei sy entoesiasties uit oor die aanvanklike basiese opleiding wat bykans ‘n militêre karakter met streng dissipline behels het. Hulle moes leer marsjeer, is met traanrook bestook (darem met ‘n gasmasker toegerus) en geleer om ‘n pistool veilig te hanteer en te skiet.
Daarná het hulle verdere opleiding ontvang in misdaadondersoek, regsvakke, hantering van ramptoestande, noodhulp en selfverdediging. Haar uitpassering het ‘n indrukwekkende parade ingesluit. Trysie was later een van ‘n handvol vroue wat ‘n speurderskursus voltooi het en op verskeie plekke gedien het. Sy is ooglopend trots op haar polisieloopbaan – wat net te kort was.

My jeugjare

Thys du Preez, 3 Mei 2020Thys du Preez
In sy volgepakte geskrewe bydrae oor sy jeugjare, vertel Thys hoe hy op die platteland grootgeword het, deels in 'n erg afgesonderde gemeenskap bo-op die Piketberg in skoon lug en die pragtige natuur.
Sy pa was ʼn laerskoolonderwyser wat in 1937 deur die onderwysdepartement gevra is om die skool daar te gaan regruk omdat dit het nie goed gegaan nie. Die skool is later na hom vernoem. In daardie jare is hulle nog onderrig in die “simpel” Imperiale stelsel van ponde, sjielings en pennies. Vir die Britse koningsgesin se besoek in 1947 het hulle min ooghare gehad; hulle was “nie juis liefhebbers van konings wat boonop Engels praat nie.” Hy was ‘n groot liefhebber van Tarzan-boeke.
Thys het later op Stellenbosch gaan studeer, en gesorg dat hy elke jaar “veilig slaag”, omdat sy pa gemaan het dat hulle nie geld het om te mors nie. Hy is later na Ikeys vir nagraadse studie en nog later na Tukkies vir ‘n M-graad. Tog glo Thys dat hy as een wat ‘n lewenslange aanvoeling vir die komiese gehad het, dalk nooit werklik sy jeug ontgroei het nie.

My jare as 'n jong kraamsuster

HHannie Pretoriusannie Pretorius, 14 Maart 2020
Die eerste spreker in ons nuwe rubriek Onthoupaadjies (‘Down Memory Lane’) was Hannie Pretorius. In ʼn kort en pittige praatjie het sy haar ervaring as jong verpleegstudent en later as kraamsuster met die tak gedeel. In daardie dae is diagnoses sonder vandag se moderne apparaat gemaak. Hulle het darem ʼn fetoskoophorinkie gehad waarmee na die hartjie van die baba geluister is om afleidings te kon maak.
Die eerste opleiding van vroedvroue in die Transvaal het in die Krugerhuis in Kerkstraat plaasgevind waar president Kruger se kleindogter, mev. Elsie Broekhuizen, die woning vir elementêre kraamopleiding beskikbaar gestel het. Daarna is die Bond vir Afrikaanse Moeders in 1919 gestig wat tot die oprigting van die Moedersbond gelei het. Sy het haar praatjie afgesluit met die boodskap dat die lewe kosbaar en die geboorte van elke babatjie baie spesiaal is.
Luister na Hannie se vertelling in haar eie stem. Met dank aan Neels Niesing wat die video-opnames van die middag se praatjies gemaak het.