Sy jeugjare het hulle deurgebring op Volmoed van die Oosthuizens en op Hopedale van die Fouries vanwaar sy ma gekom het. Sy pa Neel se broer Ollie het met sy ma Susie se ouer suster Esther getrou. Die buurplase was op die oewer van die Groot-Visrivier geleë.
Om die huis op Volmoed was oop grond met doringbome wat heerlike speelplek gebied het. Hulle het paaie, krale en landerye in die sand gebou en dolosse en bottels was hulle vee. Hy onthou die ou huis met die heerlike reuke van tuisgebak en plaaskos. Familiekuiers op Sondae en Kersfees was spesiaal. In 2014 met ‘n besoek vind hy die huis mooi opgeknap en voorbereidings was aan die gang om sitrusboorde aan te lê. Vandag kyk hy terug op wonderlike kinderdae.