Noord -Transvaaltak - Onthoupaadjies 2021

Ons leef geskiedenis elke dag – en dit word uiteindelik ook deel van ons eie persoonlike geskiedenis. Die wêreld verander so vining dat ons jeugherinneringe reeds verstomming by vandag se jongmense ontlok: aande sonder TV, oproepe maak by ‘n tiekieboks, kerkdienste onder ’n groot boom tydens seevakansies…  Genealogie vra dat ons ook ons eie stories opskryf en ander saamneem op ons onthoupaadjies.
Navigeer na die video, teks en skyfiestel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder.
Kliek op die om oop te maak
DATUM VERTELLER ONDERWERP
 VIDEO
TEKS
SKYFIES
2021-11-01
 Nerine Haddad
 Die Haddads al die pad van Beit Mery Libanon
 2021-10-01
 Neëltjie Zehnder
 Ouma en Oupa Theron – teenwoordig in my grootwordjare
 2021-09-01
 John Boje
 Riebeekstraat, Wynberg rondom die 1950s
 2021-08-01
 Hettie Muller
 My peetmoeders
 2021-07-01
 Louna Bischoff-Coetzee
 Die lemoenboere van Rustvoorbij
 2021-06-01
 Ina Hattingh
'n Tolletjiestoel en ‘n handsak met slegte medisyne
 2021-05-01
 Sam Basch
 Grootouers-kleinouers
 2021-04-01
 Rentia Landman Reid 
 My ouma Esther Reid (geb. Eksteen)
 2021-03-01          
 Pieter van Aardt 
 Genealogie verryk MaHlogola (die Reënmaker) se lewe
 2021-02-01
 John Boje
 Moenie oordeel nie
ONTHOUPAADJIE VIR VORIGE JARE
 2020
Noord-Transvaaltak - Onthoupaadjies 2020

Die Haddads al die pad van Beit Mery Libanon

Nerine HaddadNerine Haddad, 01 November 2021
Drie Haddadseuns het met die begin van die twintigste eeu vanuit Libanon na Suid-Afrika emigreer terwyl van die ander kinders van die gesin na die VSA is. Die redes vir die immigrasie word aangeraak en gedurende 1906 is Nerine se oupa terug Libanon toe om te gaan trou.
Hy was ‘n suksesvolle sakeman wat erg deur die depressie geknou is en hy is op 56 oorlede as gevolg van die komplikasies met diabetes. Een van sy seuns, Admoun (Nerine se pa), het na sy studies as onderwyser op Sannieshof beland waar hy ‘n groot bydrae tot die begin van die skool en skoolkoshuise gelewer het.  Hier is hy in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem, het hy vlot Afrikaans leer praat, met ‘n Afrikaanse meisie getrou, en in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) Belydenis van Geloof afgelê waar hy later op die kerkraad gedien het.
Sy skryf oor die skoollewe, lewe op die platteland, en haar ouers.  Haar pa word as ‘n ferm maar simpatieke man uitgebeeld. Daar is foto’s van al die generasies in Suid-Afrika.
Hierdie Onthoupaadjie is seker die enigste ‘paadjie in die Genealoog wat in Libanon begin en op die Transvaalse platteland eindig.

Ouma en Oupa Theron – teenwoordig in my grootwordjare

Neëltjie ZehnderNeëltjie Zehnde, 01 Oktober 2021
Soos onthou deur hulle kleindogter Neëltjie Zehnder nèe Strydom, 1 Oktober 2021
Die grootouers het by Neëltjie se ouers op die plaas in die Heilbron distrik gewoon omdat hulle geen ander heenkome gehad het nie.
Neëltjie is na haar ouma vernoem en het ‘n besondere band met haar gehad.
Sy was baie jonger as haar man (18 jaar) en omdat sy ‘’jonk’’ was, moes sy bv. stap na die naaste plaashuis om brandstof te vra as hulle sonder petrol gaan staan het oppad na Wolwehoek (algemene handelaar, poskantoor en stasie).
Neëltjie het hom beleef as ‘n korrelkop.  Hy was ‘n onsuksesvolle boer en ‘n gefrustreerde politikus.  Hy het gedurende die Anglo-Boere Oorlog onder generaal Smuts geveg en het gedink dat Smuts later polities heelteemal die kluts kwyt was.
Sy het graag stories oor haar wedervarings tydens die Anglo-Boere Oorlog vertel en sy het Neëltjie leer hekel en knoopsgate maak.
Een van die hoogtepunte in haar lewe was dat sy vir haar seun in die VSA kon gaan kuier.

Riebeekstraat, Wynberg rondom die 1950s

John BojeJohn Boje,  1 September 2021
Vandag is ‘n Wynberg-adres ‘n ‘’goeie’’ adres – in die veertigjare was dit nie.
John onthou die inwoners van die skakel-huise – een van die huise is bewoon deur Engelssprekendes wat Rooms-Katoliek was.en dus dubbel volksvreemd.  Daar was ook ‘n ander Engelse gesin, maar hulle was ‘’net‘’ Engels.
Die huisbaas was bejaard – hy het honderd geword en het ‘n telegram van die koning ontvang.
Verder is die feit dat Suid-Afrikaners onder die baasskap van Engeland was, blyk uit die rympie wat hulle op skool moes leer dat ‘’hulle moes veg dat Groot Brittanje groots sal wees…’’
Daar was ‘n winkel wat indiese musiek gespeel het en waar hulle lekkers soos toorballetjies en vrylekkers kon koop.
Oorkant hulle huis was Gurbakh Singh se huis en sy gemmerbierfabriek.  Hy het soms ‘n sikspens in die kinders se hand gedruk.  Vir hulle was dit baie geld.
John skryf oor die Lutherse skool wat hy bygewoon het, die onderwysers en die klasindeling.  Voor skool kon, die leerlinge wat wou, Duitse klasse bywoon en daar het hy Duitse liedere geleer.  Hy onthou sy klasmaats se name.
Die tydsgees kom duidelik na vore. Die onreg van apartheid word deur die oë van ‘n kind beleef – een klasmaat wat verdwyn het omdat sy hare te kroes was, ‘’ou’’ Emmie langs die winkel moes trek, daar was twee ingange by die poskantoor... 
Die Onthoupaadjie vertelling is geïllustreer met pragtige eietydse foto’s van die straat.

My peetmoeders

MULLER Peetmoeders DML 2021 08 01 FotoHettie Muller,  1 Augustus 2021
Met die viering van Moedersdag dink Hettie aan haar twee peetmoeders, albei haar moeder se susters en verpleegkundiges.
In ‘n era toe daar nog briewe geskryf is, is briewe aan haar moeder afgesluit met: ‘’… gee vir Hettie ‘n soen.’’
Die twee was in noue kontak met die suster en kinders in die Petrusburg omgewing. Die drie susters het dieselfde liggaamsbou gehad en daar is klerasie, soos skoene, aangestuur en vir die kinders skulpies uit Oos-Londen.
Die band met die peetmoeders is verder verstewig nadat Hettie se moeder oorlede is toe sy begin het op universiteit.  Hulle het liefdevol na haar omgesien.
Een van hulle se man is oorlede en sy het in haar vyftigs met ‘n Skot getrou en Glasgow toe getrek. Sy het daar vir haar peetma gaan kuier en kon haar meer sien toe hulle teruggekom het SA toe om die koue winters in Skotland te ontsnap.
Hulle het ‘n verreikende invloed op haar lewe gehad en hulle het haar, as plattelandse Afrikaanse dogter, se lewe verryk en bygedra tot haar ontwikkeling.
Hettie sluit af met ‘n matriargale en patrirgale geslagslyn van die drie Cloete-susters.

Die lemoenboere van Rustvoorbij

Louna Bischoff-Coetzee, 1 Julie 2021
Die plaas het sy treffende naam gekry omdat, na die Groot Trek, die rus verby was en nou gewerk moet word, het haar ouma die plaasnaam verduidelik.
Louna neem ons terug na ‘n vervloë era en die plaaslewe van destyds.
Haar oupa en sy twee broers het die plaas geërf. Daar was lemoenboorde wat op die tradisionele manier natgelei is en Louna onthou hoe lekker sy in die leivoortjies gespeel het.
Die familie is ook aangeraak deur gebeurtenisse wat menige Afrkanerfamilie beleef het – die Dorsland Trek, ‘n sterfte in ‘n konsentrasiekamp, deelname aan asook die nadraai van die Anglo-Boere-oorlog.
Hulle was meer gegoede Afrikaners soos blyk uit die uitvoer van lemoene na Engeland, die invoer van ‘n traporreltjie vanaf Engeland en hulle het ‘n tweede motor gekoop in 1949.
Hulle was leiers in die gemeenskap.
Die onthoupaadjie is met pragtige foto’s geïllustreer.

‘n Tolletjiestoel en ‘n handsak met slegte medisyne

VAN AARDT Die Reenmaker DML Foto 2021 03 01Ina Hattingh, 1 Junie 2021
Ina stel ons aan haar oupa Hansie (Johannes Gerhardus Schoeman) en ouma Ellie (Ellie Catharina Holtzhausen) voor.
Oupa Hansie was ‘n boer, met ‘n liefde vir houtwerk.  Deur die houtwerk blyk sy liefde vir sy kleinkinders en agterkleinkinders duidelik.  Hy het garetolletjies gebruik om vir hulle stoeltjies te maak.  Ina het nog die trousseaukis wat hy uit seepkisplanke gemaak het.asook haar stoeltjies. Soos ‘n regte boere-oupa betaam, het hy altyd ‘n knipmes byderhand gehad, lemoene geskil en met Ina gedeel,en ons stap saam met Oupa en kleindogter om te gaan grenadellas eet.
Ouma Ellie was slank en aantreklik.  En streng. Met slegte medisyne vir elke kwaal - van Lennon-medisyne tot kasterolie - in haar handsak.  Niemand het gewaag om in haar teenwoordig te hoes of van maagpyn te kla nie.
Ina het ‘n spesiale band met haar oupa gehad en haar liefde vir hom straal uit die onthoupaadjie.
Die “paadjie’’ is mooi geïllustreer met foto’s.

Grootouers-kleinouers

VAN AARDT Die Reenmaker DML Foto 2021 03 01Sam Basch, 1 Mei 2021
Was my grootouers klein? – mense met ‘n groot hart
Sam skryf met deernis oor sy grootouers. Sy oupas het hy nie geken nie. As hy na beskikbare foto’s kyk, skep dit die indruk dat albei kort was in teenstelling met sy oumas.
Al het hy sy oupas nie geken nie, het hy heelwat inligting oor hulle. Oupa Basch was ‘n boer en dit het finansieel swaar gegaan, veral tydens die depressiejare. Ouma Alie Basch het geruime tyd by hulle gewoon en hy het haar toe goed leer ken.
Sy ander grootouers was Karoomense. Hy was 11 jaar ouer as sy.  Hulle het ook finansieel noustrop getrek.  Hy kon met water werk en het gesorg vir besproeing – hy het met behulp van ‘n stoomenjin water gepomp uit die Buffelsrivier.  Sy ouma Martha het ook soms by hulle gebly.
Sam skryf met empatie en hy wonder of die inwoon by kinders as gevolg van finansiële redes was. Of het kinders jare gelede na hulle ouers omgesien?
Sam het foto’s by sy vertelling wat ‘n mens ‘n glimps gee van die kleredrag en op een plek, in die agtergrond, van ‘n woning.

My ouma Esther Reid (geb. Eksteen)

VAN AARDT Die Reenmaker DML Foto 2021 03 01Rentia Landman Reid, 1 April 2021
Die onthoupaadjie handel hoofsaaklik oor gebeure tydens die Anglo-Boereoorlog en daar word sterk gesteun op briewe wat Esther ontvang het van haar 21-jarige swaer, Charlie Reid. Esther Eksteen is in 1869 gebore en sy trou n 1896 met William George Reid.
Wat mens uit die briewe kan aflei, is dat Esther ‘n goeie kok was en besorgd was oor haar swaer op kommando – sy het hom kosmaak-wenke, voordat hy op kommando vertrek het, gegee.  Hy skryf: ‘’ the training you gave me in the kitchen stands me in good stead’’.
Tydens die beleg van Ladysmith ontvang Esther heelwat briewe wat mens insig gee oor die lewe gedurende die beleg van bykans vier maande. almost four months. Hulle tel tot die bosluise op hulle bene. Hy skryf: ‘’…we caught no less than 13 ticks hanging on by their eyelashes on to our legs…”
Charlie sterf op 22 Januarie 1900 by Spioenkop.
Esther is die voorbeeld van die destydse ystervroue wat agter hul mans op die slagveld gestaan het, soos blyk uit haar brief aan generaal Ben Viljoen.  Sy beland in die Howick konsentrasiekamp. Haar man het die oorlog oorleef.  Hy was ‘n Bittereinder.  

Genealogie verryk MaHlogola (die Reënmaker) se lewe

VAN AARDT Die Reenmaker DML Foto 2021 03 01Pieter van Aardt, 1 Maart 2021
Pieter is in 1935 in Chrissiesmeer gebore.
Hy het aanvanklik op ‘n plaas grootgeword, gedurende die Tweede Wêreldoorlog – sy pa het aangesluit – het hulle in Middelburg gewoon en daarna het hulle Pretoria toe getrek.  Hy het in Pretoria sy skoolloopbaan voltooi en hy moes na skool gaan werk. Hy kerf vir hom ‘n loopbaan by die Landbank uit na suksesvolle studie by o.a. Unisa.
Hy slyp halfedelstene as stokperdjie.  In 1976 lees hy die boek Slagtersnek en sy mense van J A Heese en was verras oor die rol van die van Aardts en wou hy meer weet.
Daarna was hy vuur en vlam en het hy sy belangstelling in sy familiegeskiedenis met ywer aangepak. Hy het baie argiewe besoek, selfs inligting vanaf Delft in Nederland bekom en die familie tot in 1590 nagespeur.
Hy gee baie interessante inligting oor Chrissiesmeer en Nu Scotland en die poging om Skotte daar te vestig. Dit was nie suksesvol nie en heelwat van die plase in die omgewing het nog Skotse name.
Hy het ‘n boekie, Die Van Aardts van Chrissiesmeer, in 1985 gepubliseer.

Moenie oordeel nie

BOJE My oupa DML Foto 2021 02 01John Boje, 1 Februarie 2021
Vernoem na sy oupa Johannes Gerhardus Bornman, onthou John dat dié oupa ál een was wat hom op die naam Johannes genoem het, eenlettergrepig Jaans. Almal anders het om John genoem. Sy oupa het, anders as baie ander wat kinders geïgnoreer, met hom gesprekke gevoer en by een geleentheid saamgeneem om van 'n vriend afskeid te neem. Dit was 'n kameraad uit die Anglo-Boereoorlog wat, soos Oupa Johannes en sesduisend ander krygers, met die val van Bloemfontein die wapen neergelê het.
Dit het hulle die skeldwoord hensopper op die hals gehaal. Vir John was dit onaanvaarbaar dat mense oordeel oor ander, sonder om te besef welke keuses daartoe gelei het. Derhalwe het hy onder leiding van prof. Fransjohan Pretorius 'n proefskrif hieroor geskryf en aan sy oupa opgedra.
Voordat John in 1957 na Engeland verhuis het, moes hy hoor sy oupa lê op sterwe en het hom gaan groet. Dit het geblyk dat Oupa sy vrou sou oorleef en vir nog ses jaar in 'n tweede huwelik sou oorleef. Met John se terugkeer na Suid-Afrika in 1961 het hy sy jong vrou aan Oupa Johannes gaan voorstel, waarop die ou heer van 90 verskoning vir sy Engels gemaak het: "I have not spoken it since the Boer War."
John beskou dit as 'n voorreg om só 'n oupa te kon hê.