Argentynse Afrikaans
Sam J Basch 2021-05-16 - Rapport Weekliks
Briewe van ‘n Argentynse vrou het ‘n Afrikaans kleinood opgelewer, ietwat anders as moderne Afrikaanse skryfwyse.
‘n Aantal Boerefamilies het kort ná die Anglo-Boereoorlog na Argentinië uitgewyk, onder andere Johannes Norval en sy vrou Hester Jacoba (gebore Coetsee). (Hul name is volgens wet verspaans na Juan en Esther). ‘n Kleindogter van die egpaar Hetta Rodriguez Norval (84) skryf steeds in Afrikaans, soos Doreen Piner van Pretoria deur Facebook uitgevind het. Hetta woon in Comodoro Rivadavia, ‘n kusdorp in die verre suide van Argentinië.
Naas die Norval-emigrant, was daar ook Visser, Stegmann, Myburg, De Bruyn, Van Zyl, Verwey, Henning, Du Plessis, Van der Walt, Grimbeek, Olivier, Coetzee, Venter, Snyman, Grobbelaar, Schlebusch, Viviers, Kruger en ander.
Vanweë die aanvanklike geslotenheid van daardie Afrikaanssprekende gemeenskap in die vreemde, het Hetta uitsluitlik Afrikaans tot in haar tienerjare gepraat. Sy is later met ‘n Argentyn getroud, wat intussen oorlede is, derhalwe is haar huistaal Spaans.
My artikel wat in Rapport-Weekliks verskyn het, gee uittreksels uit Hetta se briewe aan haar ver-langse niggie Doreen Piner. Ek noem dit “annerlike” Afrikaans, na aanleiding van dr. Anton Prinsloo se woordeboektitel oor streeks-Afrikaans. ‘n Voorbeeld is haar beskrywing van die klimaat in daardie streke:
In die jare het dit baie kepok in reent in die Winter. Tant Betta het my vertel, toe ek geboore is in Agustes van 1937, het dar in meter kepok geval. Hulle moes in pad eytkap om eyt die huis te gaan.
[Foto: Johannes (Juan) en Hester (Esther) Norval met hul twee seuns, skoondogters en kleinkinders in 1941. Hetta is die vierjarige regs voor.]