word n lid
Mense van alle vlakke van die samelewing sluit by die GGSA aan om hul belangstelling in genealogie en familienavorsing aan medelede te deel. Lede wissel van aspirant-genealoë tot ervare genealoë, met uiteenlopende belangstellings in veral families, geografiese gebiede, genetika, fotografie, ens.
Lede sluit by die organisasie aan om ander genealoë te ontmoet, deel te word van die genealogiese netwerk, vertroud te raak met genealogiese bronne, werksmetodes en tegnologie-kortweg, om te leer en te groei.
Oor die algemeen bepaal lede hul eie fokus en bestuur hulle hul eie navorsing. Wat die GGSA bied, is kontak met geesgenote wat hul passie vir genealogie deel. Onder die lede van die GGSA vind jy mense wat graag hul kennis, begrip en insig wil deel, wat leiding en ondersteuning kan bied; sowel as blootstelling aan tegnologie en verskillende maniere om navorsing te benader. In sommige gevalle het nuwelinge toegang tot 'n maat en meer ervare lede neem soms mentorrolle in.
Onder die honderde GGSA-lede is daar 'n onskatbare bron van kennis en ervaring en 'n seldsame kameraadskap.

 Skakel in op genealogie en die GGSA se genealogiese netwerk.