Toe Trysie Joubert Sersant W van Zyl was

Trysie Joubert banier webTrysie Joubert, 1 Junie 2020
In 1972 is Trysie se aandag getrek deur ‘n koerantbylaag oor die opleiding van vroue in die SA Polisie, wat haar aangespoor het om daarvan ‘n loopbaan te maak. In hierdie vertelling wei sy entoesiasties uit oor die aanvanklike basiese opleiding wat bykans ‘n militêre karakter met streng dissipline behels het. Hulle moes leer marsjeer, is met traanrook bestook (darem met ‘n gasmasker toegerus) en geleer om ‘n pistool veilig te hanteer en te skiet.
Daarná het hulle verdere opleiding ontvang in misdaadondersoek, regsvakke, hantering van ramptoestande, noodhulp en selfverdediging. Haar uitpassering het ‘n indrukwekkende parade ingesluit. Trysie was later een van ‘n handvol vroue wat ‘n speurderskursus voltooi het en op verskeie plekke gedien het. Sy is ooglopend trots op haar polisieloopbaan – wat net te kort was.