Onskuldjare

Oosie OosthuizenSam J Basch, 31 Augustus 2020
‘n Klerehanger van Springs Uitrusters uit die 1950s waaroor sy baadjies vandag nog hang, het Sam sy kinderjare in daardie Oos-Randse dorp in herinnering laat roep. Hy en drie broers het op die Daggafonteinmyn grootgeword waar hul pa die hoof van die staatsmynskool was.
Hoewel die gevierde skrywer Nadine Gordimer, ook ‘n boorling van Springs, in later jare snedig oor die mynlewe geskryf het, was dit vir Sam in teendeel groot pret. Hy was ook lief vir die bioskoop in Springs waarheen hulle per trein gery het. Wintervakansies is die gesin met ‘n klein DKW Auto Union na Badplaas, dié vakansieoord vir Afrikaanssprekendes in daardie jare. Hulle het ook sy ma se familie in die Karoo besoek, sommige wie se familieverbintenis hy eers in later jare kon bepaal.
Sam was lief vir lees, hoewel daar min boeke in hul huis was, dalk te wyte aan die skraps finansies van die gesin. Desondanks het hy gespaar vir sy eerste kamera en so fotografie ‘n stokperdjie gemaak wat hy steeds beoefen.