In die gruisgat agter hul huis kon hy met ‘n voëlrek jagmaak op paddas en hulle het ook in die spruit gaan visvang. Sy Ma het dan die ‘ghieliemientjies’ vir hom gaargemaak. Oupa en Ouma Visagie het gereeld met die trein kom kuier; die ouman het graag staaltjies uit die ‘Engelse Oorlog’ vertel.
Vis se lewe het onherroeplik verander toe hy vir die eerste keer in 1950 met Engels in die skool kennis gemaak het en hy boonop skoene en ‘n das moes dra.