Die Lewe op Laerskool Alldays

Oosie OosthuizenNic Prinsloo,  31 Oktober 2020
Nic se laerskooljare het geduur van 1947 tot 1953. Die meeste van die 120 kinders het in die koshuis tuisgegaan wat aanvanklik selfvoorsienend was. Daar was melkkoeie, hoenders, varke en groentetuin.
Met sy ouerhuis 35 km van die skool af, het die kinders daar byeen gekom om skooltoe geneem te word. Hulle moes deur 21 hekke gaan, die sogenaamde "smoelslaners" wat menige bestuurder aan die slaap gevang het. By een geleentheid is hulle ure lank deur vloedwaters opgehou en laat by die skool opgedaag, al die kinders vol modder bespat.
Die kinders is 'n ander keer met 'n lorrie geneem om die sirkus op Waterpoort, sowat 40 km van Alldays af, te gaan sien. Die lorrie is weer opgekommandeer vir 'n atletiekbyeenkoms op Louis Trichardt, waar Nic aangesê is om ook die 200 treë te hardloop waarvoor hulle nie eens geoefen het nie. Hy kan nie meer onthou hoeveelste hy by die wenpaal was nie.
Tydens 'n skooluitstappie na die Bosveldhotel, 'n warmwaterbron, het hy erg sonbrand opgedoen met sy rug vol blase. Hy kon nie 'n hemp naby sy lyf verdra nie en het 'n weeklank pyn verduur.