My skooljare

Rentia webRentia Landaman (née Reid), 5 Junie 2020
Van die bitter-koue Wakkerstroom waar Rentia se pa ‘n onderwyser was, het sy goeie herinneringe aan die plot (kleinhoewe) waar sy grootgeword het, asook die skool wat vir haar nog “lekkerder” was. Hier het sy hop-scotch en ‘vyf-klip’ gespeel (wat hulle hand-oog-koördinasie ontwikkel het). Daar was ‘manna’ om onder die bloekombome te soek om te eet, paddavissies om tussen die riete te vang om groot te maak en mostuine aan te lê.
Met kortpouse het Rentia tyd gehad om Ma se toebroodjies te eet, terwyl sy met langpouse wanneer speletjies georganiseer is, verkies het om ‘rounders’ eerder as korfbal te speel. In die winter het sy en haar maats op ‘n oopgetrapte kartonboks teen ‘n skuinste afgegly of op ‘n geroeste paal gebalanseer om die droë watersloot oor te steek – ‘n oefening wat skynbaar vandag vir kinders met disleksie gegee word.
Hoewel plattelandse dorpies ‘n gebrek aan leesstof gehad het, het Rentia die Jongspan en Patrys deur die pos ontvang, en ook die Transvaler-koerant ‘n dag of wat laat kon lees. Vir die kinders was dit opwindend om boeke van die provinsiale boekewa te kry wat die biblioteek kom aanvul het. Dit was Vrydagoggende en Dinsdagmiddae oop, en jy het vinnig een van die twee toegelate boeke klaargelees om nog een uit te neem voordat dit sluit.
Rentia glo die grootste geskenk was om net gewoon kind te kon wees.