Skip to main content

GGSA HEADER AFR

Noord-Transvaaltak - Aanbiedings 2020

Een van die voordele van GGSA-lidmaatskap is die geleentheid om 'n maandelikse praatjie deur 'n kundige spreker te kan bywoon. Die Noord-Transvaaltak is bekend vir die gehalte, professionaliteit en relevansie van aanbiedings oor 'n magdom genealogie-verwante onderwerpe. Navigeer na die video, teks en skyfiesstel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder.
  Kliek  vir aflaai
DATUM
SPREKER
ONDERWERP
VIDEO
TEKS
SKYFIES
CV
2020-10-17 Yolanda Chong Digitale Drome & Familiebome - my verlede tot op hede
2020-09-12 Alta Jamison The four Jamison brothers in World War 2
2020-08-15 Dr Elmien Wood Uit die voorraadskuur van die geskiedenis: epidemies
2020-07-18
Matt Bode
Sources and searches on FamilySearch
2020-06-20
Matthew Marwick
Redharvest: A salute to South Africa's 'munition factories' of WWI
   
2020-05-16
Dr Wilhelm Bernhardt 
   
2020-04-14
Prof André Buys
Ons voorouers in Mauritius
   
2020-03-14
Prof Grietjie Verhoef
Carnegie, Armoede en Triomf
     
2020-02-08  
Charlie Els
Die Verstotelinge
 
 
AANBIEDINGS VIR OPKOMENDE JARE
2023  Gauteng-Noordtak - Aanbiedings
2022  Noord-Transvaaltak - Aanbiedings 
2021  

Digitale Drome & Familiebome – my verlede tot op hede

CHONG Yolanda foto 2020 10 17Yolanda Chong:  17 Oktober 2020
Die GGSA Ntvl Tak was uiters bevoorreg om te kyk en luister na ‘n praatjie deur ‘n nuweling-genealoog, Yolanda Chong (nee Van der Mescht). Yolanda het met ons Ge- “Zoom”, al die pad uit Hong Kong in China, waar sy nou al reeds 14 jaar woon saam met haar man (‘n gebore Suid-Afrikaner) en dogter.
Haar praatjie was getiteld “Digitale Drome & Familiebome – my verlede tot op hede” en het gespruit uit navorsing wat sy begin doen het vir ‘n skooltaak van haar dogter. Yolanda het uiteraard geen toegang gehad tot enige plaaslike Suid-Afrikaanse argiewe of biblioteekgeriewe nie en moes daarom al haar navorsing doen met die hulp van internet bronne. Sy noem verder dat haar navorsing ‘n goeie hupstoot gekry het die afgelope jaar weens die tyd wat sy daaraan kon spandeer, hoofaaklik omdat sy tuis moes bly a.g.v die Covid-19 inperkingsmaatreëls.
Yolanda se praatjie word sterk aanbeveel as basiese riglyn vir enige beginner-genealoog wat ‘n basiese stamboom wil opstel. Haar ervarings bevestig dat dit vandag weens die internet moontlik is om vanuit ‘n woonstel in Hong Kong ‘n indrukwekkende en akkurate Suid-Afrikaanse stamboom op te stel. Uiteraard is die opstel van ‘n stamboom slegs die eerste stap op die genealogiese ontdekkingsreis. Die volgende stap is die opbou van ‘n volwaardige familiegeskiedenis. Dit is egter duidelik dat Yolanda se aansteeklike entoesiasme en internet-vindingrykheid haar ongetwyfeld spoedig in staat gaan stel om ook hierdie opwindende dimensie van genealogie baas te raak. Die NTvl tak wens haar graag alle sterkte toe op haar verdere ontdekkingsreise!

Die vier Jamison-broers in die 2de Wêreldoorlog

Alta JamisonAlta Jamison:  12 September 2020
Met haar onderwerp gefokus op die wedervaringe van vier Jamison-broers in die Tweede Wêreldoorlog, het Alta eers ‘n kort video oor die verloop van die konflik vertoon.  Die Jamison-familie waarin sy getrou het, se verhaal begin by die pater familias Reginald (1878-1942) wat tydens die Eerste Wêreldoorlog deel was van die Britse Noord-Russiese Ekspedisiemag. Hy was getroud met Eanswythe Elstrith Heyworth (1877-1925), van Walliese afkoms. Uit hul huwelik is vier seuns gebore waarvan een later die oupa geword het van Alta se eggenoot.
Sy het die lewensverloop van elkeen op ‘n besonder interessante manier bespreek, met foto’s en videosnitte. Interessant ook was die feit dat die oudste, Peter Lawrence (1909-1962), sy van moes verander na Mortimer om te voldoen aan die vereistes van ‘n nalatenskap. Twee van die broers het in die Britse magte gedien, ofskoon almal in Suid-Afrika grootgeword het. Die jongste broer, Reginald Ivor, was in die Suid-Afrikaanse artilleriekorps. Die derde seun, Robin Ralph (1912-1991), kon vanweë mediese redes nie in die gevegsmagte dien nie, maar as ingenieur by Rolls-Royce in Brittanje was hy ten nouste gemoeid was met die ontwikkeling van die Merlin-enjin vir Spitfire- en Hurricane-vegvliegtuie en maritieme patrolliebote. Uit sy nageslag is Alta se man gebore.
Alta het welverdiende lof vir haar aanbieding gekry.

Uit die Voorraadskuur van die Geskiedenis: Epidemies

Dr Elmien WoodDr Elmien Wood:  15 Augustus 2020
Die titel van haar aanbieding ‘Uit die Voorraadskuur van die Geskiedenis: Epidemies’ kom van Jan FE Celliers wat die verlede beskou het as ‘n “onuitputlike ryke voorraadskuur” vir die kunstenaar. Vanweë haar genealogienavorsing (oor haar Spies-voorsaat wat met die skip De Ketel aangekom het), haal sy die skrywer Dan Sleigh aan wat sê die meeste skeepsiektes was die gevolg van binneboordse epidemies en nie dieetsiektes nie.
Sy bespreek wel skeurbuik wat aanvanklik as aansteeklik beskou is, asook melaatsheid en pokke. Tydens die groot pokke-uitbrake van 1713, 1755 en 1767 het die VOC siekes afgesonder en lyke vinnig begrawe.
‘Plaag’ was ‘n generiese term vir enige epidemie of pandemie, maar verwys egter na ‘pes’, ‘n spesifieke en uiters besmetlike bakterie. Hieronder tel builepes, septisemiese en pulmonêre pes. Van die bekendste pandemies was die Swart Dood in 1346 tot 1353 en latere uitbrake, soos die Groot Pes van Londen in 1665. Inwoners van die Engelse dorpie Eyam het hulself eintlik opgeoffer deur in vrywillige afsondering te gaan.
‘n Derde plaag het groot dele van die wêreld getref, onder andere ook Johannesburg in 1904 waar Lord Alfred Milner swart inwoners verskuif en hul woongebied afgebrand het. Vervolgens het Elmien Wood die Groot Griep van 1918 bespreek wat wêreldwyd miljoene lewens geëis het.
Aanduidings is dat die grootste aantal sterftes in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog te wyte was aan masels en nie swak sanitasie soos beweer is nie. John Snow het reeds in 1854 besef cholera in Londen is te wyte aan gebrekkige sanitasie. Dit bevestig weer eens die waarde van menslike gedrag, veral nie-farmakologiese intervensie, om besmetting te voorkom, soos vir die Covid-19-pandemie.

Bronne en soektogte op FamilySearch

Matt BodeMatthew Bode:  18 Julie 2020
In 'n eerste vir Noord-Transvaaltak, het ons 'n virtuele byeenkoms via Zoom met die Tasmanië-gebaseerde spreker Matthew (Matt) Bode gereël wat nie minder nie as 67 lede van regoor die land toegespreek het. Gegewe die tydsverskil met Australië, het die vergadering om 10:00 begin in plaas van die gewone 13:30.
Matt is bekend vir sy YouTube-video's oor genealogie en is ook aktief in die Suid-Afrikaanse Genealogie Facebook-groep.
Navorsers kan op twee maniere toegang tot data op FamilySearch (FS) verkry, deur geïndekseerde rekords (of versamelings) op die Suid-Afrikaanse tuisblad deur te blaai of deur die FS-katalogus waar die meeste ongeïndekseerde rekords gevind kan word. Daar is toegang tot die doop-, huweliks- en sterfterekords van die drie Afrikaner ‘susterkerke’, asook enkele Anglikaanse en Metodistiese rekords. Hy het daarop gewys dat daar 'n 100-jaar-privaatheidsreël ten opsigte van die NG Kerk se gegewens bestaan. Geen sulke rekords is beskikbaar vir die Presbiteriaanse, Katolieke, Joodse of Moslem-gelowe nie, hoewel burgerlike rekords van hierdie gelowe ingevolge die wet gehou word.
Matt het sy soekmetodologie met vier voorbeelde geïllustreer en daarna die gehoor op 'n interaktiewe wyse betrek deur enkele vrae intyds na te vors.
Hierdie vergadering het baie positiewe kommentaar en reaksies ontlok.

Redharvest: 'n Eerbetoon vir Suid-Afrika se 'ammunisiefabrieke' van die Eerste Wereldoorlog

Matthew Marwick webMatthew Marwick, 20 Junie 2020
Onder die opskrif 'Redharvest: A Salute to South Africa's “munitions factories” of the Great War (1914-1918)', het Matthew Marwick die bydrae van jong Engelssprekende Suid-Afrikaanse mans uiteengesit. Baie wat gesterf het, was leerlinge van privaatskole soos Maritzburg College waar Matthew skool gegaan het en waar hy Geskiedenis onderrig.
Matthew is geïnspireer om hierdie navorsing te onderneem deur die skool se monument vir 100 oud-leerlinge en drie onderwysers wat gesterf het. Die “vader” van Maritzburg College RD Clark se eie seun was ook een van hulle.
Die uitdrukking “ammunisiefabrieke” word toegeskryf aan 'n voormalige skoolhoof van St Andrews, PWH Kettlewell, wat dit onbehoorlik gevind het om sulke ererolle te vergelyk. Tog is Matthew se databasis hiervan insiggewend: ses van die prominentste skole het elk tussen 86 en 164 oud-leerlinge verloor. Uit 'n totaal van 8 551 Suid-Afrikaners wat in die Groot Oorlog omgekom het, was meer as 1 300 uit 17 skole. Heelwat van hulle het hoë eerbewyse ontvang, soos die Victoria Cross.
Hierdie gesprek via 'n Zoom-byeenkoms het baie vrae ontlok ​​van ons oorwegend Afrikaanssprekende gehoor oor die rol van eer en plig, spesifiek teenoor “King and Country” - wat Afrikaners om politieke redes teëgestaan het.

Net 'n doodgewone man: Die lewensverhaal van James Herman, 1820 Setlaar

Dr Wilhelm Bernhardt
Dr Wilhelm Bernhardt,  16 Mei 2020 via Zoom
Hoewel die naam van James Herman prominent in Willie Bernhardt se familieregister van sy ouma aan moederskant voorkom, het hy niks van hom geweet nie. In die grendeltyd vanweë Covid-19 kon hy derhalwe slegs inligting deur webbronne opspoor en naspeur – sonder om enigsins die argiewe te kon besoek.
Dit was wel moontlik om vas te stel dat James (ook soms Jiems in Afrikaans genoem) in Engeland gebore is en as skrynwerker, of dan maker van stoelpote, gewerk het. Herman (soms verkeerdelik as Hermann in die rekord aangedui) het uiteindelik as deel van die Wait-groep 1820 Britse Setlaars na Suid-Afrika gekom. Hier het hy in die Afrikaanse gemeenskap gewerk, twee huwelike met Afrikaanse vroue gehad en ook saam met die Voortrekkers na die binneland verhuis. Daar is aanduidings dat hy in die Rustenburg-omgewing gevestig het, maar daar het sy spore doodgeloop, tesame met dié van sy vrou.
Willie is van mening dat hulle tydens ’n malaria-epidemie gesterf het, waarvoor daar beduidende rekords bestaan.Willie se aanbieding is gebou op feite, sowel as aannames, waarvolgens hy ‘n prentjie van ‘n “gewone” mens kon teken. In sy slotopmerkings daag hy die tak uit om dieselfde met ‘n “onbekende” in ons stamboom of familieregister te doen.

Ons voorouers in Mauritius

Our ancestors in MauritiusProf André Buys, 14 April 2020
Die meeste Suid-Afrikaners assosieer Mauritius met 'n eksotiese tropiese eiland­vakansie in die Indiese Oseaan of met ʼn eiland bekend vir die uitgestorwe dodo’s. Dit is egter nie algemeen bekend dat sommige van die Afrikaners se stamouers 300 jaar gelede 'n verbintenis met die eiland Mauritius gehad het nie.
'n Nederlandse ekspedisie na Indonesië het op 17 September 1598 op die eiland Do Cerne afgekom en dit Mauritius ter ere van die Stadhouer Prins Maurits van Nassau genoem. Die eerste Nederlandse besetting van Mauritius (1637 – 1658) het feitlik geen verbintenis met ons voorouers gehad nie. Die teenwoordigheid van Engelse en Franse mededinging in die Indiese Oseaan het die VOC enkele jaar later weer laat besluit om Mauritius te beset. In 1663 kry Zacharias Wagenaer, die goewerneur aan die Kaap, opdrag om ʼn Nederlandse nedersetting in Mauritius te hervestig. Tydens die tweede besetting vind ons ʼn hele aantal van ons voorouers in Mauritius. Hieronder tel Pretorius, Blom, Van Eeden, Zaaijman (Zaayman/Saayman), Bruijns, De Vries, Vlok, en ander.
Vanweë die Covid-19-inperking, kon hierdie aanbieding slegs as ‘n video-byeenkoms plaasvind.

Carnegie, Armoede en Triomf

Prof Grietjie Verhoef
Prof Grietjie Verhoef, 14 Maart 2020
In Prof. Grietjie Verhoef van die Universiteit van Johannesburg se uiteensetting van Afrikanerarmoede het sy verskeie faktore  behandel, soos beskawingsgolwe wat sosiale en ekonomiese impak het. Die Afrikaner se isolasie van ontwikkeling elders in die wêreld (die Nywerheidsrevolusie) en dan ook eksterne faktore soos die runderpes, droogtes en die Anglo-Boereoorlog het die kiem vir verarming bevat.
Daarby het die verstedeliking van Afrikaners wat nie langer volhoubaar kon boer nie, ook armoede in die hand gewerk; Afrikaners was nie gerat en toegerus vir die noodwendige mededinging in die stede nie.  ʼn Gevoel van minderwaardigheid en afhanklikheid het ontstaan. Daar was ʼn algehele onvermoë by die individu om self iets aan sy/haar situasie te doen. Die Carnegie-Kommissie van Ondersoek na die armblankevraagstuk in 1933 het bevind dat die sirkel van armoede omkeerbaar is maar dat ʼn ekonomiese opbou deur ʼn kulturele en maatskaplike onderbou gevoed moes word. Buiten onderwys en opleiding moes ʼn gevoel van selfstandigheid en selfvertroue ontwikkel word.
Met die totstandkoming van instansies soos die Reddingsdaadbond en eie finansieringshuise is binne een dekade − 1936 tot 1946 − ʼn ommekeer te weeg gebring. Dit staan in skrille kontras, het sy terloops opgemerk, met die huidige bestel van maatskaplike toelaes. Hierdie beleid is teenproduktief om armoede te verlig, aangesien die afhankliheid van aalmoese bly.

Die Verstotelinge - My soeke na my verlore stieftante

Charlie ElsCharlie Els, 8 February 2020
Reeds in die Bybelse tyd is mense wat aan melaatsheid gely het, verstoot en uit die gemeenskap verwerp. Daar is geglo dat die siekte ‘n goddelike straf vir sonde was. Gevolglik het godsdienstige Afrikaners melaatsheid in hul familie as 'n skande beskou wat hulle so goed as moontlik verbloem het. ʼn Melaatse familielid se naam is eenvoudig verswyg.
Charlie Els se deeglik nagevorste artikel, Die Verstoteling, handel oor so ‘n geval in sy eie familie. Hy is bykans terloops deur ‘n niggie op die spoor gesit van ‘n dogter van sy ouma wat in die Instituut vir Melaatses in Pretoria opgeneem was en oor wie die familie nooit gepraat het nie. Dié dogter, Dina Margaretha van der Merwe (1887-1915), is totaal deur die familie verwerp, verstoot en vergeet. In sy navorsing het Charlie ook op ander familielede se besonderhede afgekom wat eweneens verswyg is.
Sulke mense word nie in die familieregisters vermeld nie en waar hulle wel vermeld word, word die sterfplek óf nie gemeld nie óf met opset verkeerdelik as die persoon se woonplek aangedui. Waar die  oorsaak van dood aangegee word, is dit dikwels vals.
Met hierdie artikel is Charlie Els vereer met GGSA se toekenning van Beste Familia-artikel vir 2018 (gepubliseer in Familia No. 55/2) – nie die eerste maal dat hierdie toekenning na sy kant toe kom nie..