Digitale Drome & Familiebome – my verlede tot op hede

CHONG Yolanda foto 2020 10 17Yolanda Chong:  17 Oktober 2020
Die GGSA Ntvl Tak was uiters bevoorreg om te kyk en luister na ‘n praatjie deur ‘n nuweling-genealoog, Yolanda Chong (nee Van der Mescht). Yolanda het met ons Ge- “Zoom”, al die pad uit Hong Kong in China, waar sy nou al reeds 14 jaar woon saam met haar man (‘n gebore Suid-Afrikaner) en dogter.
Haar praatjie was getiteld “Digitale Drome & Familiebome – my verlede tot op hede” en het gespruit uit navorsing wat sy begin doen het vir ‘n skooltaak van haar dogter. Yolanda het uiteraard geen toegang gehad tot enige plaaslike Suid-Afrikaanse argiewe of biblioteekgeriewe nie en moes daarom al haar navorsing doen met die hulp van internet bronne. Sy noem verder dat haar navorsing ‘n goeie hupstoot gekry het die afgelope jaar weens die tyd wat sy daaraan kon spandeer, hoofaaklik omdat sy tuis moes bly a.g.v die Covid-19 inperkingsmaatreëls.
Yolanda se praatjie word sterk aanbeveel as basiese riglyn vir enige beginner-genealoog wat ‘n basiese stamboom wil opstel. Haar ervarings bevestig dat dit vandag weens die internet moontlik is om vanuit ‘n woonstel in Hong Kong ‘n indrukwekkende en akkurate Suid-Afrikaanse stamboom op te stel. Uiteraard is die opstel van ‘n stamboom slegs die eerste stap op die genealogiese ontdekkingsreis. Die volgende stap is die opbou van ‘n volwaardige familiegeskiedenis. Dit is egter duidelik dat Yolanda se aansteeklike entoesiasme en internet-vindingrykheid haar ongetwyfeld spoedig in staat gaan stel om ook hierdie opwindende dimensie van genealogie baas te raak. Die NTvl tak wens haar graag alle sterkte toe op haar verdere ontdekkingsreise!