Net 'n doodgewone man: Die lewensverhaal van James Herman, 1820 Setlaar

Dr Wilhelm Bernhardt
Dr Wilhelm Bernhardt,  16 Mei 2020 via Zoom
Hoewel die naam van James Herman prominent in Willie Bernhardt se familieregister van sy ouma aan moederskant voorkom, het hy niks van hom geweet nie. In die grendeltyd vanweë Covid-19 kon hy derhalwe slegs inligting deur webbronne opspoor en naspeur – sonder om enigsins die argiewe te kon besoek.
Dit was wel moontlik om vas te stel dat James (ook soms Jiems in Afrikaans genoem) in Engeland gebore is en as skrynwerker, of dan maker van stoelpote, gewerk het. Herman (soms verkeerdelik as Hermann in die rekord aangedui) het uiteindelik as deel van die Wait-groep 1820 Britse Setlaars na Suid-Afrika gekom. Hier het hy in die Afrikaanse gemeenskap gewerk, twee huwelike met Afrikaanse vroue gehad en ook saam met die Voortrekkers na die binneland verhuis. Daar is aanduidings dat hy in die Rustenburg-omgewing gevestig het, maar daar het sy spore doodgeloop, tesame met dié van sy vrou.
Willie is van mening dat hulle tydens ’n malaria-epidemie gesterf het, waarvoor daar beduidende rekords bestaan.Willie se aanbieding is gebou op feite, sowel as aannames, waarvolgens hy ‘n prentjie van ‘n “gewone” mens kon teken. In sy slotopmerkings daag hy die tak uit om dieselfde met ‘n “onbekende” in ons stamboom of familieregister te doen.