Die vier Jamison-broers in die 2de Wêreldoorlog

Alta JamisonAlta Jamison:  12 September 2020
Met haar onderwerp gefokus op die wedervaringe van vier Jamison-broers in die Tweede Wêreldoorlog, het Alta eers ‘n kort video oor die verloop van die konflik vertoon.  Die Jamison-familie waarin sy getrou het, se verhaal begin by die pater familias Reginald (1878-1942) wat tydens die Eerste Wêreldoorlog deel was van die Britse Noord-Russiese Ekspedisiemag. Hy was getroud met Eanswythe Elstrith Heyworth (1877-1925), van Walliese afkoms. Uit hul huwelik is vier seuns gebore waarvan een later die oupa geword het van Alta se eggenoot.
Sy het die lewensverloop van elkeen op ‘n besonder interessante manier bespreek, met foto’s en videosnitte. Interessant ook was die feit dat die oudste, Peter Lawrence (1909-1962), sy van moes verander na Mortimer om te voldoen aan die vereistes van ‘n nalatenskap. Twee van die broers het in die Britse magte gedien, ofskoon almal in Suid-Afrika grootgeword het. Die jongste broer, Reginald Ivor, was in die Suid-Afrikaanse artilleriekorps. Die derde seun, Robin Ralph (1912-1991), kon vanweë mediese redes nie in die gevegsmagte dien nie, maar as ingenieur by Rolls-Royce in Brittanje was hy ten nouste gemoeid was met die ontwikkeling van die Merlin-enjin vir Spitfire- en Hurricane-vegvliegtuie en maritieme patrolliebote. Uit sy nageslag is Alta se man gebore.
Alta het welverdiende lof vir haar aanbieding gekry.