Uit die Voorraadskuur van die Geskiedenis: Epidemies

Dr Elmien WoodDr Elmien Wood:  15 Augustus 2020
Die titel van haar aanbieding ‘Uit die Voorraadskuur van die Geskiedenis: Epidemies’ kom van Jan FE Celliers wat die verlede beskou het as ‘n “onuitputlike ryke voorraadskuur” vir die kunstenaar. Vanweë haar genealogienavorsing (oor haar Spies-voorsaat wat met die skip De Ketel aangekom het), haal sy die skrywer Dan Sleigh aan wat sê die meeste skeepsiektes was die gevolg van binneboordse epidemies en nie dieetsiektes nie.
Sy bespreek wel skeurbuik wat aanvanklik as aansteeklik beskou is, asook melaatsheid en pokke. Tydens die groot pokke-uitbrake van 1713, 1755 en 1767 het die VOC siekes afgesonder en lyke vinnig begrawe.
‘Plaag’ was ‘n generiese term vir enige epidemie of pandemie, maar verwys egter na ‘pes’, ‘n spesifieke en uiters besmetlike bakterie. Hieronder tel builepes, septisemiese en pulmonêre pes. Van die bekendste pandemies was die Swart Dood in 1346 tot 1353 en latere uitbrake, soos die Groot Pes van Londen in 1665. Inwoners van die Engelse dorpie Eyam het hulself eintlik opgeoffer deur in vrywillige afsondering te gaan.
‘n Derde plaag het groot dele van die wêreld getref, onder andere ook Johannesburg in 1904 waar Lord Alfred Milner swart inwoners verskuif en hul woongebied afgebrand het. Vervolgens het Elmien Wood die Groot Griep van 1918 bespreek wat wêreldwyd miljoene lewens geëis het.
Aanduidings is dat die grootste aantal sterftes in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog te wyte was aan masels en nie swak sanitasie soos beweer is nie. John Snow het reeds in 1854 besef cholera in Londen is te wyte aan gebrekkige sanitasie. Dit bevestig weer eens die waarde van menslike gedrag, veral nie-farmakologiese intervensie, om besmetting te voorkom, soos vir die Covid-19-pandemie.