Die Verstotelinge - My soeke na my verlore stieftante

Charlie ElsCharlie Els, 8 February 2020
Reeds in die Bybelse tyd is mense wat aan melaatsheid gely het, verstoot en uit die gemeenskap verwerp. Daar is geglo dat die siekte ‘n goddelike straf vir sonde was. Gevolglik het godsdienstige Afrikaners melaatsheid in hul familie as 'n skande beskou wat hulle so goed as moontlik verbloem het. ʼn Melaatse familielid se naam is eenvoudig verswyg.
Charlie Els se deeglik nagevorste artikel, Die Verstoteling, handel oor so ‘n geval in sy eie familie. Hy is bykans terloops deur ‘n niggie op die spoor gesit van ‘n dogter van sy ouma wat in die Instituut vir Melaatses in Pretoria opgeneem was en oor wie die familie nooit gepraat het nie. Dié dogter, Dina Margaretha van der Merwe (1887-1915), is totaal deur die familie verwerp, verstoot en vergeet. In sy navorsing het Charlie ook op ander familielede se besonderhede afgekom wat eweneens verswyg is.
Sulke mense word nie in die familieregisters vermeld nie en waar hulle wel vermeld word, word die sterfplek óf nie gemeld nie óf met opset verkeerdelik as die persoon se woonplek aangedui. Waar die  oorsaak van dood aangegee word, is dit dikwels vals.
Met hierdie artikel is Charlie Els vereer met GGSA se toekenning van Beste Familia-artikel vir 2018 (gepubliseer in Familia No. 55/2) – nie die eerste maal dat hierdie toekenning na sy kant toe kom nie..