Carnegie, Armoede en Triomf

Prof Grietjie Verhoef
Prof Grietjie Verhoef, 14 Maart 2020
In Prof. Grietjie Verhoef van die Universiteit van Johannesburg se uiteensetting van Afrikanerarmoede het sy verskeie faktore  behandel, soos beskawingsgolwe wat sosiale en ekonomiese impak het. Die Afrikaner se isolasie van ontwikkeling elders in die wêreld (die Nywerheidsrevolusie) en dan ook eksterne faktore soos die runderpes, droogtes en die Anglo-Boereoorlog het die kiem vir verarming bevat.
Daarby het die verstedeliking van Afrikaners wat nie langer volhoubaar kon boer nie, ook armoede in die hand gewerk; Afrikaners was nie gerat en toegerus vir die noodwendige mededinging in die stede nie.  ʼn Gevoel van minderwaardigheid en afhanklikheid het ontstaan. Daar was ʼn algehele onvermoë by die individu om self iets aan sy/haar situasie te doen. Die Carnegie-Kommissie van Ondersoek na die armblankevraagstuk in 1933 het bevind dat die sirkel van armoede omkeerbaar is maar dat ʼn ekonomiese opbou deur ʼn kulturele en maatskaplike onderbou gevoed moes word. Buiten onderwys en opleiding moes ʼn gevoel van selfstandigheid en selfvertroue ontwikkel word.
Met die totstandkoming van instansies soos die Reddingsdaadbond en eie finansieringshuise is binne een dekade − 1936 tot 1946 − ʼn ommekeer te weeg gebring. Dit staan in skrille kontras, het sy terloops opgemerk, met die huidige bestel van maatskaplike toelaes. Hierdie beleid is teenproduktief om armoede te verlig, aangesien die afhankliheid van aalmoese bly.