My reis met ‘n geborduurde lappie

Wilhelm BernhardtWilhelm Bernhardt, 12 November 2022

Wilhelm se praatjie het oor 'n geborduurde lappie gehandel, maar nie sommer enige lappie nie. Dit is 'n lappie met 'n storie, ‘n lappie wat op 'n besondere wyse by hom uitgekom het. Boonop is die raaisel daaragter nog steeds nie heeltemal opgelos nie. Dit het alles begin toe Ina Hattingh op 'n dag, vroeg in 2022 na haar nuwe bure toe  oorgestap het om 'n guns te gaan vra.

Wilhelm het ‘n verhaal van ‘n lappie, so 30 cm x 30 cm vertel wat met ‘n ompad in sy besit gekom het.  Daarop is die Italiaanse gevangenekamp by Zonderwater op ‘n ongekunstelde manier uitgebeeld. Hy was onsuksesvol om die ‘lappie se oorspronklike eienaar op te spoor en toe kontak hy die Italiaanse ambassade. 

Die lappie is oorhandig en hy is toe na die viering van die Italiaanse nasionale dag gedurende Junie genooi en later is hy ook na die jaarlikse funksie by die begraafplaas by Zonderwater genooi. Die lappie is geraam en  dit is nou in die begraafplaas se museum uitgestal.