Prof Tinus Kühn - Die Foto in die Gang

Tinus Kuhn fotoTinus Kühn, 14 November 2020
Die verhaal wat in Tinus se PowerPoint-aanbieding ontvou, is ontstellend. Hoewel hy die foto in sy ouerhuis se gang goed onthou, het hy min inligting daaroor gehad. Sy pa het ook nie veel geweet nie.
Dit was Tinus se oupa aan vaderskant: Willem Johannes Kühn, die 6de geslag vanaf die stamvader Hans Kune. Laasgenoemde het van 1688 tot 1726 by die Kasteel in Kaapstad gewerk. Tinus se navorsing oor die voorsate wys dat Willem Johannes in 1854 in Swellendam gebore is en in 1887 met 'n nooi Combrink getrou het. Hulle het twee kinders gehad.
Hierna is hy 'n tweede keer getroud: met Hester Johanna Petronella Cilliers by wie hy ses kinders gehad het.
Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy op kommando, terwyl sy gesin in die konsentrasiekamp was. Ná die oorlog, met slegs die klere aan hul lyf, het hy met sy gesin en ander familielede na Duitswes-Afrika (later Suidwes-Afrika en nou Namibië) getrek. Hulle was nie deel van die Dorslandtrekkers nie; slegs vier gesinne wat in April 1904 getrek het. Tinus se pa Danie was enkele maande oud.
Hulle trek vanaf Sendelingspos in Marico oor Mafeking (nou Mafikeng) na Rietspruit op die grens, en weer verder na die omgewing van Mariental. Intussen is hul osse dood en moes hulle 'n skotskar en osse leen. Willem en sy skoonseun Tom Knoesen het met £3 000 (drieduisend pond) die binneland in, waar hulle vermoedelik deur die Witboois vermoor is – teen wie hulle gewaarsku is.
Volgens 'n verklaring wat ene Wouter Gronum afgelê het, is Willem aan 'n boom opgehang, terwyl Tom eers gevlug het maar later deur die Witboois geskiet en ook opgehang is.
Die agtergeblewenes is vir 'n tyd by 'n sendingstasie gehuisves en later oor Windhoek en Swakopmund na die Kaap terug. Uiteindelik het hulle weer na Sendelingspos teruggekeer.
Tinus sluit af met 'n foto van 'n pop wat sy Oupa Willem vir die een dogter Hester gekoop het; steeds in die oorspronklike verpakking. Dit is by 'n familielid in Pretoria.