Louna Coetzee - Op gister se spore

Louna Coetzee fotoLouna Coetzee, 14 November 2020
Met haar sub-onderskrif 'Ou kiekies, briewe en besoeke' wys Louna juis aan die hand van hierdie materiaal die spore; sy het reeds van 'n jong ouderdom in genealogie belang gestel.
Haar grootouers David en Helena Boshoff is in 1922 in Philippolis getroud, waar Louna se video die kykers neem. Dan verder na Springfontein en later Jagersfontein waar diamante gemyn is. Een hiervan is glo in die Britse kroonjuwele. Sy wys die historiese huise in Palmerstonstraat waar David en Helena gewoon het. Daar was nog 'n waterpomp waar mens 'n pennie moes ingooi om water te kon bekom. Ongelukkig is die ou munisipale kantore wat uit 1892 dateer deur betogers afgebrand.
In Fauresmith onthou sy hoe hulle as kinders by Oupa en Ouma gaan kuier het. Hier het die trein in die hoofstraat gery; Louna wys geskiedkundige foto's in haar video van die eerste keer dat die trein daar ingekom het. Mense is uitgevat in hul Sondag-beste. Vandag is die stasie verlate en oorgroei van onkruid.
Louna kon ook staan op die trappie waar haar ouers Johnnie en Lenie in 1946 met hul troue gestaan het. Sy besoek ook die Anglo-Boereoorlog-monument by die begraafplaas; haar Oupa het in die ABO geveg. By die Phoenix-koffiewinkel met sy uitstalling van historiese items vind sy uit dat iemand in die dorp sal weet waar haar voorsate gewoon het. Die huis in Du Toitstraat lyk vandag heel anders, maar 54 jaar later herken sy steeds die stoep en 'n sementblad waar die ronde dam eens was.
Oupa David was in sy dae 'n waterwyser; Louna wys nog 'n foto hiervan. Hy was ook lief vir hengel onder die Silwer Brug wat Louna later oppad na Koffiefontein sien; dis nou swart. Hy is in 1961 in Sasolburg begrawe.