Skip to main content

GGSA HEADER AFR

Noord-Transvaaltak - Allegaartjie 2020

Die Allegaartjie byeenkoms is ‘n jaarlikse instelling van Noord-Transvaaltak, waartydens taklede ‘n verskeidenheid van praatjies aanbied – gewoonlik iets van alles. Die woord Allegaartjie beteken inderwaarheid dat mens verskillende dinge opgaar, versamel of bymekaarsit om die verskeidenheid saam te geniet.
Navigeer na die video, teks en skyfiesstel van die aanbieding. Die onderwerp reflekteer die taalkeuse van die aanbieding. Vir die opsomming van elke praatjie, lees hieronder.
        Click on the to open
DATUM
AANBIEDER
ONDERWERP
VIDEO 
TEKS
SKYFIES
 CV  
2020-11-14
Oosie Oosthuizen Programme Director
2020-11-14 
Louna Coetzee Op gister se spore
2020-11-14 Tinus Kühn Die foto in die gang
2020-11-14 David Engela Van watter Engela's is jy?
2020-11-14
Flip & Leonie de Witt  Familiegeskiedenis, aan die hand van foto's en gepaste musiek:
    Piet Retief: Lenie de Wet-soektog
  Zuurberg Soektog – Jan Christoffel Greyling
  Leonie Greyling Familie-register
  Flip de Witt Familie-register
2020-11-14 
  Afsluiting
  Wendy Cox Bedank die sprekers        
  Wilhelm Bernhardt Spreek die laaste woord        
ALLEGAARTJIE VIR OPKOMENDE JARE
2022 Noord-Transvaaltak - Allegaartjies
2021 Noord-Transvaaltak - Allegaartjies

Louna Coetzee - Op gister se spore

Louna Coetzee fotoLouna Coetzee, 14 November 2020
Met haar sub-onderskrif 'Ou kiekies, briewe en besoeke' wys Louna juis aan die hand van hierdie materiaal die spore; sy het reeds van 'n jong ouderdom in genealogie belang gestel.
Haar grootouers David en Helena Boshoff is in 1922 in Philippolis getroud, waar Louna se video die kykers neem. Dan verder na Springfontein en later Jagersfontein waar diamante gemyn is. Een hiervan is glo in die Britse kroonjuwele. Sy wys die historiese huise in Palmerstonstraat waar David en Helena gewoon het. Daar was nog 'n waterpomp waar mens 'n pennie moes ingooi om water te kon bekom. Ongelukkig is die ou munisipale kantore wat uit 1892 dateer deur betogers afgebrand.
In Fauresmith onthou sy hoe hulle as kinders by Oupa en Ouma gaan kuier het. Hier het die trein in die hoofstraat gery; Louna wys geskiedkundige foto's in haar video van die eerste keer dat die trein daar ingekom het. Mense is uitgevat in hul Sondag-beste. Vandag is die stasie verlate en oorgroei van onkruid.
Louna kon ook staan op die trappie waar haar ouers Johnnie en Lenie in 1946 met hul troue gestaan het. Sy besoek ook die Anglo-Boereoorlog-monument by die begraafplaas; haar Oupa het in die ABO geveg. By die Phoenix-koffiewinkel met sy uitstalling van historiese items vind sy uit dat iemand in die dorp sal weet waar haar voorsate gewoon het. Die huis in Du Toitstraat lyk vandag heel anders, maar 54 jaar later herken sy steeds die stoep en 'n sementblad waar die ronde dam eens was.
Oupa David was in sy dae 'n waterwyser; Louna wys nog 'n foto hiervan. Hy was ook lief vir hengel onder die Silwer Brug wat Louna later oppad na Koffiefontein sien; dis nou swart. Hy is in 1961 in Sasolburg begrawe.

Prof Tinus Kühn - Die Foto in die Gang

Tinus Kuhn fotoTinus Kühn, 14 November 2020
Die verhaal wat in Tinus se PowerPoint-aanbieding ontvou, is ontstellend. Hoewel hy die foto in sy ouerhuis se gang goed onthou, het hy min inligting daaroor gehad. Sy pa het ook nie veel geweet nie.
Dit was Tinus se oupa aan vaderskant: Willem Johannes Kühn, die 6de geslag vanaf die stamvader Hans Kune. Laasgenoemde het van 1688 tot 1726 by die Kasteel in Kaapstad gewerk. Tinus se navorsing oor die voorsate wys dat Willem Johannes in 1854 in Swellendam gebore is en in 1887 met 'n nooi Combrink getrou het. Hulle het twee kinders gehad.
Hierna is hy 'n tweede keer getroud: met Hester Johanna Petronella Cilliers by wie hy ses kinders gehad het.
Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy op kommando, terwyl sy gesin in die konsentrasiekamp was. Ná die oorlog, met slegs die klere aan hul lyf, het hy met sy gesin en ander familielede na Duitswes-Afrika (later Suidwes-Afrika en nou Namibië) getrek. Hulle was nie deel van die Dorslandtrekkers nie; slegs vier gesinne wat in April 1904 getrek het. Tinus se pa Danie was enkele maande oud.
Hulle trek vanaf Sendelingspos in Marico oor Mafeking (nou Mafikeng) na Rietspruit op die grens, en weer verder na die omgewing van Mariental. Intussen is hul osse dood en moes hulle 'n skotskar en osse leen. Willem en sy skoonseun Tom Knoesen het met £3 000 (drieduisend pond) die binneland in, waar hulle vermoedelik deur die Witboois vermoor is – teen wie hulle gewaarsku is.
Volgens 'n verklaring wat ene Wouter Gronum afgelê het, is Willem aan 'n boom opgehang, terwyl Tom eers gevlug het maar later deur die Witboois geskiet en ook opgehang is.
Die agtergeblewenes is vir 'n tyd by 'n sendingstasie gehuisves en later oor Windhoek en Swakopmund na die Kaap terug. Uiteindelik het hulle weer na Sendelingspos teruggekeer.
Tinus sluit af met 'n foto van 'n pop wat sy Oupa Willem vir die een dogter Hester gekoop het; steeds in die oorspronklike verpakking. Dit is by 'n familielid in Pretoria.

David Engela - Van watter Engela’s is jy?

Louna Coetzee fotoDavid Engela, 14 November 2020
Die titel van David se aanbieding kom uit sy skooljare toe hy in Pretoria by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) deur 'n senior gevra is: "Van watter Engelas is jy?" Hy was baie verbaas, want tot toe was David onder die indruk daar is slegs twee Engelas in die land, sy Pa en hyself.
Hoewel sy belangstelling in die familie reeds vroeg beslag gekry het (van sy Ouma aan moederskant), het David eers onlangs in 2018 ernstig navorsing begin doen.
Hy het wel met sy Ma se oorlye in 2016 'n boekie deur Hercules Jurgen Engela gekry: Die Engela-familie 1738-1991. Sy oogmerk is nou om die boekie se data by te werk.
Sy metodiek was om aan te sluit by MyHeritage en Ancestry, wat gratis is indien jy 'n stamboom daarop bou, en hy het ook gou besef Google en FamilySearch is waardevol: "van onskatbare waarde" soos hy sê. So-ook Facebook.
Hy het in Oktober 2018 lid van GGSA se Noord-Transvaaltak geword. Vir die Erfenisstigting se biblioteek het hy groot waardering en spandeer baie tyd daar.
Onder die opskrif 'Vrae, Ontdekkings, Skades, Skandes en bietjie Brag', lig David interessante feite oor die Engela-voorsate uit. Uit die skeepsregister van die 'Beukensteijn' wat hy uit die Nederlandse argiewe gekry het, sien hy dat Jurgen Hendrik Engelaar na die Kaap gekom het en as onderwyser by Casper Batenhorst gewerk het.
'n Testament wys dat Jurgen se van Engela is, dus nie meer Engelaar nie. Hy  is in 1746 in die Kaap met Anna van Staden, weduwee van Van Niekerk, getroud. Daar is geen verwysing na 'n eerste vrou nie, wat moontlik gesterf het, of nooit self na Suid-Afrika gekom het nie. Die ander moontlikheid is dat Jurgen 'n bigamis was, indien hy nooit van die eerste vrou geskei is nie.
David se oupagrootjie Thomas Willem Engela (1880-1928) was 'n Kaapse Rebel wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het en gevange geneem is. Hy is by Graaff-Reinet verhoor en na Bermuda verban, tot lewenslange harde arbeid gevonnis. Dit is egter verkort en later is amnestie verleen. Hy het 'n tabakhandelaar en haarkapper-onderneming in Bureaulaan in Pretoria bedryf.
Van die Engela-familie was ook slagoffers van die Spaanse Griep van 1918. Ander familielede het opgang in kultuurkringe gemaak, onder andere Johann Engela, 'n komponis en radio-omroeper wat eens met Mimi Coertse getroud was. Daar was ook 'n skilder en komponis, skrywers en Charl Andries Engela (1911-1994) wat 'n beeldhouer was. Vandag bevind Engelas hulself oral in die wêreld.
Lesse wat David geleer het, sluit in om 'n spesifieke doel na te streef en altyd inligting te verifieer. Genealogie is 'n obsessie en navorsing kom nooit klaar nie. Belangrik is ook om genealogie nie in isolasie te bedryf nie. Moet nooit opgee nie; vra iemand wat kan help.
 

Flip en Leonie de Witt - Familiegeskiedenis, aan die hand van fotos en gepaste musiek

Louna Coetzee fotoFlip en Leonie de Witt, 14 November 2020
Tydens die pouse is 'n reeks videos deur Flip en Leonie de Witt vertoon. Dit was met groot moeite saamgestel, met foto's en pragtige musiek en sang. Die insiggewende produksie het gehandel oor Leonie se voorsate en die soektog na hul grafte of waar hulle gesterf het:
Die eerste het gehandel oor Magdalena Johanna Greyling (gebore De Wet) wat met Piet Retief getroud was. In die volgende video het Flip en Leonie in die Zuurberg-omgewing (in die Oos-Kaap naby Somerset-Oos) gesoek na die plek waar Jan Christoffel Greyling en sy manskappe in 'n hinderlaag gelei en vermoor is. Laastens is Leonie Greyling se stamboom uitgelig en daarna ook Flip de Witt stamboom.
 

Wilhelm Bernhardt - Die laaste woord

"Die verlede glip weg en raak verlore, vloei weg soos water, stroom weg soos sand, en ons hoor die lae geruis en merk hoe dit verlore gaan. Ek is al  wat dit sien, die enigste waarnemer, die enigste getuie: die stof op die blink  swart stewels, die spore van die perde in die pad, die wiegende gordyn voor die venster of die lintjie op die drumpel; ek is al wat daarvan weet, en as ek dit nie opteken nie, sal dit verlore gaan asof dit nooit bestaan het nie. Ek is al wat hoor, en as daar stemme uit hierdie duister sou opklink, sal die woorde verlore gaan as ek nie luister en dit opteken nie”.
Uit: Verliesfontein, Karel Schoeman ,1998
he only observer, the only witness: the dust on the shiny black boots, the tracks of the horses in the road, the swaying curtain in front of the window or the ribbon on the threshold; I'm the only one who knows about it, and if I did not record it, it would be lost as if it never existed. I alone hear, and if there were voices
The past slips away and is lost, flows away like water, drains away like sand, and we hear the low murmuring of noise and notice how it is lost. I am the one seeing it, the only observer, the only witness: the dust on the shiny black boots, the tracks of the horses in the road, the swaying curtain in front of the window or the ribbon on the threshold; I'm the only one who knows about it, and if I did not record it, it would be lost as if it never existed. I alone hear, and if there were voices sounding from this darkness, the words would be lost if I did not listen and record them”.
Direct translation from: Verliesfontein, Karel Schoeman ,199
sounding from this darkness, the words would be lost if I did not listen and record them”.
Direct translation from: Verliesfontein, Karel Schoeman ,199