Krotoa beland op Tweebosch en sy wonder wat het van haar weiveld geword

Die betekenis van die interessante titel het stadig deurgeskemer tydens die aanbieding waarin die plaas Tweebosch, geleë tussen Sannieshof, Ottosdal en Delareyville, ‘n sentrale rol gespeel het. Andries Buys reis terug op die genealogiese spore van sy Buys- en Schutte voorvaders wat op Tweebosch gewoon het totdat hy uiteindelik by Krotoa uitkom. Krotoa is in 1663 aan die Kaap gebore en sy was ‘n hoogs intelligente persoon wat ‘n belangrike rol as tolk gehad het.
Die stamregisters van die Schuttes en die Buyse en hul verbintenis met Tweebosch is met fyn besonderhede en illustrasies uiteengesit.
Die geskiedenis van Tweebosch kan in verskillende fases ingedeel word. Aanvanklik was dit weiveld maar tydens winters was ekstra voer nodig. Daarna saaiveld, waar seuns met pikke die lande vir saai moes voorberei. Eers in 1948 het die eerste Vaaljapie trekker (Ferguson TE20) sy verskyning gemaak.
Tweebosch was ook ‘n slagveld tydens die Anglo Boere-Oorlog en daarna mynveld toe diamante ontdek is en delwers begin delf het gedurende die 50/60er jare. Delwery het later opgehou as gevolg van onder andere duur diesel en ‘n tekort aan water. Alles is netso gelos en dit het slegte gevolge vir die omgewing ingehou. Die hope gruis lê in die loop van die Klein Hartsrivier en om die gebied te rehabiliteer sal baie duur wees.
Van die aanvanklike weiveld, waar die nasate van Krotoa gewoon het, het niks oorgebly nie.