In die hart van die Pilanesberg

Maya RoonMe Maya Roon, Saterdag 09 April 2022
Maya, wat in Nederland gebore is, het in gemaklike Afrikaans vertel van haar navorsing oor die plase in die Pilanesberg van destyds.
Sy het by Friends of the Pilanesberg aangesluit en gehelp om ou murasies op te ruim en grafte skoon te maak. Op die kaart van die Pilanesberg kan mens die krater goed sien. Die grootte van die plase het afgehang van hoe ver mens in ‘n uur te perd kon ry.
Sy het aktes begin soek by die Staatsdrukker en met baie moeite uitgehou en aangehou om die plase te identifiseer asook die families wat daar gewoon het. Sy moes notarisse se skrif ontsyfer, die aktes was in ‘n kelder en kon nie uitgeneem of gefotostateer word nie. Dit was voor die tyd van selfone met kameras.
Dit was vir haar wonderlik om te sien aan wie van die plase behoort het, soos aan Paul Kruger en Sammy Marks. Sy het plaasname geïdentifiseer soos Leeuwfontein, Nooitgedacht en Palmietfontein asook die vanne van eienaars – sowat 35 vanne. Vanne is verskillend gespel en dit het navorsing bemoeilik bv. Schoombee, Schoonbee, Scroombee. Sy het met families kontak gemaak om meer uit te vind . Sommige wou nie inligting deel nie.
Die praatjie was toepaslik en goed geïllustreer met foto’s en kaarte.
Sy het ‘n boek geskryf oor haar navorsing en daar is nie meer eksemplare beskikbaar nie. Tans word daaraan gewerk om dit digitaal beskikbaar te stel.
Na die interessante praatjie, toegelig met foto’s, is heelwat vrae gevra en is die mense wat teenwoordig is, vriendelik genooi om die argief te besoek.