Wat is genealogie? Definisie

Die woord “Genealogie” is afgelei van die Grieks: “genos” (geslag of familie) en “logos“ (logika, rede of kennis).
Genealogie is dus die studie van 'n geslag of 'n familie. Dit sluit in die studie van 'n persoon se voorgeslagte en die samestelling van geskikte metodes om verwantskappe aan te dui, bv. 'n stamboom (wat die manlike voorgeslagte en hulle families bevat) of 'n kwartierstaat (wat die persoon se vier grootouers en hulle direkte voorgeslagte aandui).
Genealogie sluit ook die studie van 'n persoon se nageslag in. Dit kan die vorm aanneem van 'n geslagregister wat die persoon se nasate bevat, of 'n afstammingtafel wat die manlike en vroulike nageslag insluit.
Deur biografiese besonderhede, sosiale en kulturele tradisies en die algemene geskiedkundige agtergrond by te voeg, kan 'n genealogiese studie uitgebrei word tot 'n familiegeskiedenis. Deur die genealogiese gegewens in die konteks te plaas van heersende ekonomiese, godsdienstige en politieke tydlyne, kan verdere insig in die familie se lewens en besluite verkry word.