So wat het dit nou alles met genealogie te doen. Eerstens het hierdie kulture baie meer waarde aan genealogie geheg want dit het praktiese waarde gehad beide as 'n metode om ondertrou te verhoed en as 'n baie kragtige geheuemetode. In sommige van hierdie kulture kan mense vir jou hulle genealogie van tot 30 geslagte terug gee - en nie alleen dit nie - maar ook die komplekse ondertrou lyne. Vergelyk dit met baie mense wat skaars die name van hulle grootouers ken of soos ek, nie eers weet wie my kleinniggies/neefs is nie. En hulle kan dit doen 30 geslagte diep en 3-4 lyne verwyderd per geslag!
Maar wat my meer getref het was hoe genealogie in baie van hierdie kulture die kern is waar rondom hulle al hulle praktiese kennis organiseer. Soos die geheuemetodes wat pa my geleer het en wat ek verder ontwikkel het - werk geheue die beste wanneer dit geassosieer kan word op ‘n kreatiewe manier aan dinge wat ons reeds ken. En dis wat genealogie doen in baie van hierdie kulture. Elke node en verbinding in die genealogie word geassosieer met ‘n storie/prent/dans (wat self dieper kennis enkodeer) en wat die sneller is vir ‘n ritueel (‘n ritueel is ‘n herhaalde aksie wat meestal ‘n manier was om die kennis te herhaal sodat dit nie vergeet word nie). Met ander woorde – vir hierdie kulture is genealogie krities vir oorlewing. Kyk op die oppervlakte en jy sien slegs name van voorvaders, kyk dieper en hierdie name en hulle konneksies bevat dramas (in die vorm van stories, prente, danse, liedjies) kyk nog dieper en jy vind elkeen van hierdie ‘drama-eenhede’ word vertaal op verskeie vlakke in praktiese kennis oor plante, diere, seisoene, wette, roetes, ens, ens. Dis nogal ongelooflik. En dan reken mense hierdie kulture is agterlik want hulle kan nie skryf nie! Vergeleke met hierdie metodes is skrif verskriklik armoedig en primitief.