Wat is genealogie? Die essensie van genealogie

Elke kind het twee biologiese ouers, ‘n vader en moeder, en saam vorm hulle ‘n kernfamilie. Die drie persone en die  verwantskappe tussen hulle is fundamentele genealogiese konstrukte en dis universeel, dit wil sê dit geld vir elke persoon / familie in die wêreld.
Buiten die fundamentele biologiese konstrukte, erken genealogie ook ander sosiale verhoudings soos huwelike en aannemings. Dit gee, byvoorbeeld erkenning aan aangetroude familie en selfdegeslag-huwelike.
In die raamwerk van genealogie is almal eenders en gelyk - genealogie staan ​​neutraal ten opsigte van godsdiens, kultuur, geskiedenis, politiek, ras, etnisiteit, ens. Die teenoorgestelde is waar van die konteks waarbinne 'n individu se genealogie manifesteer en elke persoon / familie het 'n unieke verhaal om te vertel. Ons verhale word verryk deur dit in die betrokke omgewing te plaas, hetsy kultureel, histories, ekonomies, ensomeer.
Genealogie verskaf dus ’n robuuste raamwerk (ruggraat).  Die beginsels en dinamika wat verband hou met genealogie is relatief standaard, eenvoudig en objektief. Die konteks aan die anderkant, verskaf interpretasie, kleur die storie in en sluit byvoorbeeld kultuur, geskiedenis, godsdiens, politiek, ekonomie, ensomeer in. Konteks kan uit verskeie lae bestaan, dit kan kompleks wees – dis tipies persoonlik, situasioneel en subjektief.