Familia Beste Artikels

Die GGSA se Noord-Transvaaltak borg jaarliks die toekenning vir die ‘Beste FAMILIA-artikel’ wat gedurende die voorafgaande jaar verskyn het. Van die kriteria wat die beoordelingspaneel in ag neem, sluit in:
  • Lewer die artikel ‘n wesenlike bydrae tot ons genealogiese kennis, m.a.w. verskaf dit nuwe inligting?
  • Is die artikel professioneel opgestel met goeie bronverwysings, ens.?
  • Lees die artikel lekker, is die aanbieding interessant, boeiend en word daar ‘n goeie balans tussen leesbaarheid en akademiese korrektheid gehandhaaf?
 Jaar  Outeur  Titel  Oorspronklik
 Uitgawe
Artikel
 2021  Nic Dinham  Louisa Hack (1873-1945) – Gevalle engel?  Vertaal 58/1
 2020  Dr Rentia Landman  Voorvader van Afrika na Afrika  Afrikaans 57/1
 2019  Dr Wilhelm Bernhardt  'n Ekonomiese raamwerk vir genealogiese navorsing?  Afrikaans 53/3
 2018  Charlie Els  Die verstoteling  Afrikaans 55/2
 2017  Sam Basch  Van my en myne - 'n Blik op aftammelinge van Alexander Basch SA  Vertaal 54/1

Louisa Hack (1873-1945) – Gevalle Engel?

3H7B3588 WillieNic Dinham [Familia 2021 Vol. 58/1 ]
Nic Dinham beskryf die lewe van Louisa Hack, die stiefma van sy ouma Thelma Holland White (gebore Smith). Thelma het die herinneringe van die familie – Louisa en die uitgebreide familie – uit haar geheue geweer en geensins met haar dogter of nasate gedeel nie. Moontlik was Thelma oorsensitief oor Louisa as stiefma, een wat ‘n uitsonderlike harde lewe gelei en uiteindelik arm en eensaam gesterf het. Daar bestaan geensins eers ‘n foto sodat Nic kan weet hoe Louisa gelyk het nie.

 

 

 


Voorvader van Afrika na Afrika

3H7B3588 WillieDr Rentia Landman Reid [Familia 2020 Vol. 57/1 p38-47]
Met die vraag of haar Reid-voorsate afstam van die oertydse Picts van hedendaagse Skotland of Vikings uit Skandinawië, het die skrywer haar broer se DNS as basis gebruik vir die artikel oor die herkoms van hedendaagse mense.
Homo sapiens (mens wat slim is) het uit Afrika ontstaan toe hoë reënval die Sahara en sub-Sahara hoogs vrugbaar gemaak het. Die laaste ystydperk het dit verander en die prehistoriese mens het noodwendig migreer. Haar familie se manlike lyn, Haplogroep IJK het hom later in die Vrugbare Halfsirkel (‘Fertile Crescent’) in die huidige Midde-Ooste bevind. Haar navorsing toon dat die stigtingsvoorvader ongeveer 43 000 jaar gelede aan die Europese kant van die Caucasusberge gebore is. Sy chromosoomvariant sou binne die Haplogroep I-M170 kon resorteer. Draers van hierdie haplogroep het weer na die huidige Oekraïne noord van die Swartsee migreer, en kon selfs grootwild jag met wapentuig van been en kwarts. Hulle het ook Venusfigure as simbole van vrugbaarheid gefatsoenneer. Hul lewenswyse staan as die Gravettiaankultuur bekend.
Verdere klimaatsveranderings het telkens tot migrasie en veranderde lewenswyse gelei, wat ook verdere chromosoomvariasie meegebring het. Die skrywer se navorsing het getoon dat migrante ongeveer 13 000 jaar gelede Skandinawië bereik het. Haar familie het, volgens DNS-resultate hoofsaaklik genetiese bande met Denemarke.
Vervolgens bespreek sy die ontstaan van landbou en veeteelt, asook taal wat weer eens met kontak tussen verskillende haplogroepe op mekaar ingewerk het. Sy wys dat haar voorvaders se taal mettertyd deel van die groot Indo-Europese taalfamilie geword het. Dat die voorvader uit Denemarke in Skotland beland het, kan sy toeskryf aan Viking-strooptogte en ook handel. Hoewel sy geen antwoord kon vind op die vraag of hy ‘n Viking-plunderaar of ‘n Deense visserman was nie, wat sy wel weet is dat haar familie se Skotse spore in Suid-Afrika dateer van 1861.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
Hoewel nie ‘n artikel met veel name en datums soos meeste genealogiese artikels, is dit die verhaal van ons almal se voorouers... dis goed nagevors met die nodige verwysings en in vlot leesbare skryfstyl.
Die artikel spreek natuurlik van besondere navorsing in ‘n tot nog toe relatief onbekende veld.
DNS-data speel ‘n al hoe groter rol in genealogie. Hierdie artikel is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe rou DNS-data in ‘n genealogiese familienavorsing ingeweef kan word en ‘n akkurate raaiskoot en aanvaarbare teorie gekoppel kan word om historiese vrae te beantwoord.

'n Ekonomiese raamwerk vir genealogiese navorsing?

3H7B3588 WillieDr Wilhelm Bernhardt [Familia 2019 Vol. 56/3 p23-41
Die artikel sit uiteen dat genealogiese aktiwiteite in ‘n spektrum van minstens vyf tipes wedersyds ondersteunende velde van belangstelling verdeel kan word. Al vyf hierdie tipes kan waarde put uit gedeelde metodes van ondersoek. Een so ‘n metode wat al vyf tipes navorsing in ‘n mindere of meerdere mate tot diens kan wees, is die skrywer se voorgestelde ekonomiese raamwerk vir genealogiese navorsing, en die gepaardgaande gebruik van tydlyne. Die voorgestelde raamwerk word verduidelik met voorbeelde uit die outeur se eie navorsing.
Deur kennis van die voorgeslagte te versamel, leer genealoë in werklikheid die hede beter ken, en beweeg nader aan antwoorde op die kernvrae van die genealogie: “Wie is ek?”, “Waarom is ek?” en “Wat het in die verlede gebeur dat ek is wie ek is?“ Die mees basiese doel – en vreugde – van genealogiese navorsing lê in die soektog na en die vind van antwoorde op vrae oor ons voorsate. Uit hierdie oogpunt beskou, is die voorgestelde ekonomiese raamwerk vir genealogiese ondersoek hopelik dus nog ‘n metode te midde van vele ander, wat genealoë van hulp kan wees om selfs nog meer genot uit hul gekose belangstellingsveld te put.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
  1. Die outeur slaag goed daarin om moderne navorsingspraktyke, naamlik genealogiese en historiese navorsing, te gebruik deur die opstel van ‘n ekonomiese raamwerk en ‘n nuwe manier om ‘n geïntegreerde prentjie te verskaf van hoe jou voorouers geleef het. Die artikel dien as uitstekende voorbeeld vir ander genealoë hoe om soortgelyke navorsing aan te pak, is iets besonders en lees lekker. Tegnies, is dit egter nie ‘n suiwer genealogiese artikel nie maar die oorspronklikheid van die aanslag, skep nie ‘n groot probleem nie.
  2. Dié artikel is een van dié beste wat nog in ‘n Familia verskyn het, maar ek plaas dit derde omdat my interpretasie is dat artikels genealogiese gegewens moet bevat, om vir dié toekenning te kan kwalifiseer. Aan die einde is daar wel genealogiese gegewens van die outeur se vader maar dit is net gebruik om die primêre doel, nl. om die ekonomiese raamwerk waar binne ‘n artikel geskryf kan word, te ondersteun.
  3. Die artikel beklemtoon opnuut die waarde van die inagneming van die veranderende omgewing waarteen die stamboom se generasies mekaar opvolg. Sy insluitende model moedig navorsers aan om doelbewus tydlyne van verskillende aard te benut om bv. insig in familiebesluite te verbeter EN dit verskaf ook riglyne vir verdere navorsing (bv. deur by ekonomies-sterker plekke na rekords te soek). Die artikel is goed aangebied met enkele bronverwysings.  In die lig daarvan dat dit sy voorstel (en eie breinvrug) is, is daar minder bronne ter sprake. Die outeur wou ‘n relatief vreemde konsep (veral die tydlyn-aspek) verduidelik en hy moes dit toelig met voorbeelde.
Die outeur het ‘n gemaklike skryfstyl en hy vul dit aan met tabelle en ander voorbeeldmateriaal.

Die Verstotelinge

3H7B0022 Charlie Els 1Charlie Els [Familia 2018 Vol. 55/2 p56]
Hierdie insiggewende artikel handel oor die soeke na die skrywer se stieftante, van wie die familie niks geweet het nie. Al wat een van sy niggies geweet het is dat hul ouma, Catharina Elizabeth Els (gebore Uys) voorheen met ‘n Van der Merwe getroud was en dat twee dogters uit die huwelik gebore is, waarvan een vroeg dood is. Die skrywer kon volgens die naamgee-patroon bepaal dat sy tante se naam Dina Magrietha van der Merwe was. Met hierdie inligting kon die skrywer haar spore volg tot by die Pretoria Melaatse Inrigting wes van Pretoria waar hy bevestiging kon kry dat sy die dogter van Catharina Elizabeth Els was. Dina word ook vermeld in die rekords van die Middelburg-konsentrasiekamp waar die toestande buitengewoon haglik was. Hy kon ook ander familielede opspoor wat op dergelike wyse deur die familie ontken is.
Die skrywer gee baie interessante inligting oor hierdie siekte wat reeds van Bybelse tye as verwerplik beskou is. Hy bespreek die hantering daarvan deur die eeue, wat daartoe gelei het dat hierdie mense deur hul families misken, verstote en vergete was. Ironies genoeg, is dit 'n bakteriële siekte wat maklik behandel kan word, soos ons vandag weet.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
Oor baie eeue is in die Christelike wêreld geglo dat melaatsheid as straf oor die mensdom gebring is a.g.v. sy sondes. Die Christelike oortuiging was so sterk dat melaatses wêreldwyd uit gemeenskappe verwyder en in isolering geplaas is. Teen die agtergrond word die tragiese verhaal van Dina van der Merwe en van haar ander familielede met ‘n tikkie hartseer gelees. Die artikel bied nuwe inligting tot ons genealogiese kennis. Is professioneel, interresant en lees lekker met volledige verwysings.
Die tema van hierdie artikel is verfrissend oorspronklik en die skryftrant hou die leser se aandag gevange. Hoewel die tema van melaatsheid beskou word in die konteks van die skrywer se ‘verlore’ familielid, word ook die oorsaak van die siektetoestand, die oorsprong van die gepaardgaande stigma en die wyer implikasies vir geaffekteerde individue en hul families deur die eeue heen in detail en met empatie hanteer.
Die skrywer maak die soekende genealoog indirek bewus van nog ‘n moontlike bron waar ‘n afwesige, verlore of verdwene familielid gesoek kan word – die rekords van melaatheidsheidshospitale, psigiatriese fasiliteite of soortgelyke instansies – waaraan menige genealoog nog nooit aan gedink het as ‘n soekplek nie.