Stigters van GGSA / Familia

Die oprigting van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) in 1964 is geïnspireer deur Philip Myburg, eienaar van die geskiedkundige plaas Joostenberg naby Stellenbosch. (‘n Vroeëre entiteit, die Suid-Afrikaanse Genealogiese Vereniging, gestig in 1939 onder die leiding van Prof. S. Engelbrecht, is by die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ontbind.)
Met ‘n intense belangstelling in familienavorsing, het Myburg agt enersdenkende en vooraanstaande individue genooi wat die vêrsiendheid gehad het om te besluit op die oprigting van ‘n Suid-Afrikaanse genealogiese genootskap, wat daarna op 17 Junie 1964 in Kaapstad totstand gekom het.
Die stigterslede van die huidige suksesvolle GGSA was Dr Anna Böeseken, Prof. Cornelis (Con) de Villiers, Dr Johannes Heese, Mr Louis Hiemstra, Ds. Charles Hopkins, Prof André Hugo, Mnr Philip Myburg, Dr Cornelis (Cor) Pama, en Mnr Johannes van der Bijl.

GSSA Founders 1

Van links staan: André Hugo, Hans Heese, Charles Hopkins, Marge Myburgh, Louis Hiemstra, Philip Myburgh;
Van link sit: Anna Böeseken, Jan van der Bijl, Frieda Pama, Con de Villiers, Cor Pama.

Dr Anna Jacoba Böeseken (1905-1997)
Anna Böeseken, gebore van Nederlandse ouers, was 'n prolifieke skrywer en redakteur wat baie tot die argiefdiens bygedra het. Haar kennis van vroeë Nederlands en dié se skrif was nog altyd van groot hulp vir genealogiese en ander navorsers. Onder haar waardevolle privaat gepubliseerde werke is 'n studie oor Jan van Riebeeck. Benewens haar studie aan die universiteite van beide Kaapstad en Stellenbosch, waar sy ook haar doktorsgraad verwerf het, het sy eredoktorsgrade van twee ander Suid-Afrikaanse universiteite ontvang. As 'n stigterslid van die Genealogiese Genootskap Suid-Afrika (GGSA) in 1964, dien sy op die raad tot in 1986, waarna sy erelidmaatskap gekry het.
Dr. Cornelius Gerhardus Stephanus (Con) de Villiers (1894-1978)
Alombekend as dr. Con, het hy 36 jaar lank Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, sy alma mater, gedoseer. As wetenskaplike en skrywer het sy belangstellingsveld gestrek van volksmusiek en sang, drama en letterkunde tot genealogie, waaroor hy in Engels en Afrikaans kon skryf. Sy publikasies oor die families De Villiers en Swart getuig van die diepte van sy navorsing. Sy essays oor die mense en plekke van die Overberg-streek, waar hy gebore is, roep tye op wat vir altyd verby is. Hy was 'n gereelde bydraer tot FAMILIA.
Dr. Johannes August (Hans) Heese (1907-1990)
Met 'n D.Ed.-graad van die Universiteit van Stellenbosch, het Dr. Heese as  opvoedkundige onderwys gegee en later as skoolhoof in die Kaapprovinsie gewerk. As stigterslid van die GSSA het hy jare lank die pos van beide sekretaris en tesourier beklee. Ná sy aftrede het hy die res van sy lewe aan genealogie gewy. Sy uitset het vele artikels vir FAMILIA en vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing  (RGN) se Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek ingesluit, asook die omvattende naslaanreeks, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters. Sy mees omstrede boek was Die Herkoms van die Afrikaner. In 1982 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom die gesogte DF du Toit Malherbe-prys toe vir genealogiese navorsing.
Mnr Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra (1897-1978)
As joernalis en redakteur het Louis Hiemstra sy hele loopbaan in diens van die invloedryke mediagroep Nasionale Pers gewy. Hy het as jong joernalis by die Volksblad koerant begin werk en later by Die Burger in Kaapstad aangesluit, waar hy taalredakteur was. Sy belangrikste prestasie was by die samestelling van die nuwe Tweetalige Woordeboek wat deur Tafelberg uitgegee is.
Ds Charles Hopkins (1918-1992)
Ná voltooiing van sy teologiese studies op Stellenbosch in 1943, het ds. Hopkins talle gemeentes in die Kaapprovinsie bedien, waaronder Oudtshoorn waar hy ook aan die militêre kamp verbonde was. Ná 'n soortgelyke pos as kapelaan in 'n ander kamp by Wynberg in Kaapstad, word hy argivaris by die NG Kerk-argiewe in Kaapstad. Sy genealogiese kundigheid en kennis van rekords was vir ander genealoë van onskatbare waarde. Sy uitset sluit die geskiedenis van verskeie NGK-gemeentes in, asook heelwat artikels in FAMILIA. Hy dien in 1964 as die eerste voorsitter van die pas gestigte GSSA.
Professor André Malan Hugo (1929-1975)
Professor Hugo was hoof van die Departement Klassieke Tale aan die Universiteit van Kaapstad. 'n Afstammeling van die Hugenote-vlugtelinge van 1688, was hy goed vertroud met hul geskiedenis. Hy het hy lang tydperke in Frankryk deurgebring en uitgebreide navorsing gedoen. Dit het inslag gevind in artikels wat hy tot FAMILIA bygedra het. Dit was hy wat ook hierdie naam vir GSSA se kwartaalblad voorgestel het. Naas sy betrokkenheid by die samestelling van die Hugo Familieboek (gepubliseer ná sy dood), was hy 'n raadslid van die Van Riebeeck-vereniging, waar hy betrokke was by die publikasie van verskeie historiese versamelings.
Mnr Philip Albert Myburgh (1910-1992)
Gebore op die familieplaas Joostenberg naby Stellenbosch, het Philip sy hele lewe aan hierdie plaas gewy, behalwe vir 'n tydperk van vier jaar toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog 'n krygsgevangene in Italië en Duitsland was. Dit was van sy oupa dat Philip van jongs af sy liefde vir genealogie geërf het. Dit het daartoe gelei dat hy die stigtingsvergadering van die Genootskap in 1964 aangebied het, waarvoor hy as eerste tesourier en later as voorsitter gedien het. Philip het jare lank op die raad gedien en was ook 'n gereelde bydraer tot FAMILIA.
Dr. Cornelis (Cor) Pama (1916-1994)
Dr Pama, die mees produktiewe skrywer oor genealogie en heraldiek in Suid-Afrika, is in Rotterdam gebore. Sy hele lewe het om boeke, skryf, navorsing en publisering in Nederland, Engeland en Suid-Afrika gewentel. Sy hersiening van die vroeë De Villiers Geslagsregister en algemeen bekend as die 'De Villiers/Pama' het genealogie tot binne-in die huise van gewone individue gebring. Boeke oor plaaslike geskiedenis het ook uit sy pen verskyn. Hy was 'n stigterslid van die Genealogiese Genootskap in 1964 en het 28 jaar lank die tydskrif FAMILIA geredigeer. Pama was nou betrokke by die stigting van die Suid-Afrikaanse Buro vir Heraldiek in wie se direksie hy gedien het. Hy was ook die voorsitter van die Heraldiese Vereniging van Suid-Afrika.
Mnr Johannes (Jan) van der Bijl (1901-1977)
Gebore in Stellenbosch, het Jan van der Bijl altyd 'n groot liefde vir sy geboorteplek gehad en by sy dood sy huis vir gebruik as museum bemaak. 'n Fisikus van beroep het hy aan Stellenbosch en Harvard in die Verenigde State studeer, maar sy aktiewe loopbaan as fisikus aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein gevolg. Ná sy aftrede het hy sy energie aan genealogie en geskiedenis gewy, waarin hy belangrike werk gepubliseer het. 'n Manuskripwerk bestaande uit twee volumes oor die toekennings en erwe in Stellenbosch toon sy toewyding om die geskiedenis van sy tuisdorp op te teken. Sy publikasie oor die Van der Bijl-familie vanaf die vestiging van die stamvader op Stellenbosch in 1680, is 'n meesterwerk in genealogiese navorsing.