Die Begraafplaas-rekorderinginisiatief - Inleiding

Konteks
Genealogiese brondata is 'n voorvereiste vir die beoefening van genealogie en daarom het die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) verskeie projekte binne bepaalde fokusareas: die lewe van 'n persoon, in sy mees basiese vorm, word gedefinieer deur die gebeure wat verband hou met geboorte en dood. Die eerste fokusarea lê dus klem op inligting rakende sterftes. Dit sluit in begraafplase en hul liggings, begraafplaas-rekords, grafstene, begrafnisbriewe en 'n virtuele ruimte om geliefdes te onthou (“in herinnering”).
Oorsig van die Begraafplaas-rekorderinginisiatief
Dit is 'n inisiatief van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) onder leiding van Peter & Beverley Moss en Riana le Roux.
Die doel is om die genealogiese inligting in begraafplase van Suid-Afrikaanse belang te bewaar en die inligting vir genealogiese navorsers toeganklik te maak.
Die oogmerk is om inligting behoue te laat bly deur die insameling, opname, verwerking en die veilige bewaring van begraafplaas-data te bestuur. As sodanig bevat die genealogiese inligting wat opgeteken is geboorte-, sterfte- en begrafnisgegewens, plus enige persoonlike historiese gegewens (bv. beroep, huwelik of enige ander familieverhoudings) wat in die begraafplaas-rekords voorkom.
  • Die data word versamel uit alle soorte begraafplaas-bronne, soos grafstene, begrafnis-registers, gedenktekens en verassingsgedenkplate.
  • Die projek dek alle begraafplaas-data van Suid-Afrikaanse belang, binne en buite Suid-Afrika.
  • ‘n Belangrikste fokuspunt van die projek is die versameling van inligting uit die vele plaas-begraafplase wat oral in Suid-Afrika voorkom. Plaas-begraafplase het geen begrafnis-registers nie en die grafstene word verwaarlos en beskadig, anders as stedelike begraafplase wat nou ook toenemend bedreig word.
Die volgende drie projekte is onderling gekoppel en inter-afhanklik van mekaar. Saam vorm hulle die GGSA-Begraafplaas-rekorderinginisiatief: die Begraafplaas-liggingsprojek; die projek vir die indeksering van Begraafplaas-rekords; en die Grafsteen-fotoprojek.
PROJEK Begraafplaas-liggings
Tegnologie soos Google Earth en GPS-koördinate (“global positioning system”) maak dit maklik om begraafplase op te spoor wat reeds geindekseer is / of nie, asook plaas-begraafplase wat dikwels moeilik is om op te spoor. Wanneer dit opgestel is, en met die toepaslike .KMZ-lêer gelaai is, wys Google Earth die begraafplaas-liggings relevant tot die begraafplaas-verwante projekte en dui die posisie aan met ‘n geskikte ikoon. Twee stelle inligting is beskikbaar: GGSA-Begraafplase (die geïndekseerde begraafplase) en 50K-Begraafplase (ongeïdekseerde begraafplase). Die verwante KMZ-lêers kan via die Genza.org.za webwerf afgelaai word.
PROJEK Begraafplaas-rekords
Die Begraafplaas-rekordsprojek transkribeer die inligting uit verskillende bronne en neem dit deurlopend in interne databasisse op. Dit verskaf die inligting om twee indekse te produseer: 'n Begraafplaas-indeks en 'n Grafsteen-transkripsie-indeks.
Die Grafsteen-transkripsie-indeks word jaarliks op ‘n gegewe afsnypunt as 'n uitgawe gepubliseer. Die jongste, Grafsteen-transkripsie-indeks Uitgawe 20, wat in Maart 2023 gepubliseer is, bevat 953 225 name van 3 196 begraafplase. Hierdie uitgawe van die Grafsteen-transkripsie-indeks is digitaal aflaaibaar via die AanlynWinkel en bevat die volledige indeks soos op die datum van die uitgawe.
Alternatiewelik is die Grafsteen-transkripsie-indeks, wat deur die loop van die jaar deurlopend bygewerk en maandeliks gepubliseer word, ook op die volgende manier beskikbaar: Individuele rekords van die Grafsteen-transkripsie-indeks kan verkry word via die WebWinkel - dit bied 'n soekenjin om spesifieke rekords te kies en aan te skaf en wel met 'n koopbewys (“token”).
Uittreksels (op Excel-spreistate) van die Begraafplaas-indeks is gratis op die Genza-webwerf beskikbaar. Dit word gebruik om die opnamepoging te bestuur en bevat drie hoofareas: begraafplaas-name; dokumente en begraafplaas-liggings.
PROJEK Grafsteen-foto’s
Die Grafsteen-transkripsie-indeks word deur foto’s van die grafstene met byskrifte, aangevul. Hierdie grafsteen-foto’s word in alfabetiese albums beskikbaar gemaak en is soekbaar, op familienaam, begraafplaas, ens. - gratis op die webwerf graves-at-eggsa.org. Hierdie albums bevat tans meer as 925 000 foto’s, met baie foto’s wat nog verwerk moet word.
Verskeie riglyne is beskikbaar, byvoorbeeld oor die beplanning van 'n uitstappie na 'n begraafplaas, hoe om grafstene te fotografeer, ens.
Uitnodiging en versoek
Benewens die opnames van begraafplase deur die verskillende GGSA-takke, het ons baie vrywilligers wat data opneem en help met die verwerking daarvan. Jy is welkom om tot die inisiatief by te dra - die uitnodiging is oop vir die publiek. Ons het wel enkele riglyne vir opname wat gevolg moet word om inligting vir hierdie projek aan te teken. As jy belangstel om te help met die fotografering en transkripsie van begraafplaas-registers, of om onderskrifte by grafsteen-foto’s te voeg, kontak Peter MossHierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Riana le Roux  Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Meer inligting
Hierdie dokument stem ooreen met die GGSA se webwerf (Genza.org.za). 'n Projekoorsig vir elk van hierdie projekte word voorsien, met ondersteunende inligting wat gewoonlik afgelaai kan word en met uitgebreide skakels na relevante bladsye en webwerwe.
Aksies
  • Aflaai van die Begraafplaas-rekorderinginisiatief – 'n Inleiding.
  • Aflaai van die Begraafplaas-rekorderinginisiatief – In 'n neutedop diagram.