Visie-President - Johan Pottas 2022

Johan Pottas 1Johan Jacob POTTAS is op 13 April 1961 in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) gebore, een van vyf kinders van Johan Jacob Pottas (Skerf) en Elizabeth Mathilde Potgieter (Lilli) van Windhoek. Johan is een van vier oorlewende kinders en die enigste oorlewende seun. Hy voltooi sy skoolloopbaan by Windhoek Hoërskool waar hy as sportman uitblink (verwerf SWAAIKS-kleure in atletiek en gimnastiek, en speel hokkie vir die eerste span).

Ná skool doen hy diensplig voordat hy gaan studeer aan die Universiteit van Vrystaat, waar hy BComm en BComm (Hons) (Kapitale Investering) verwerf. Hy word ‘n professionele fotograaf vir twee jaar, en daarna werk hy vir Pick n Pay en vir die Universiteit van die Vrystaat in verskeie hoedanighede.

Hy tree op 21 September 1985 in Bloemfontein in die huwelik met Eureka Dannhauser SMITH. Sy is op 26 Februarie 1961 in Edenburg gebore, die dogter van Gert Hendrik Dannhauser Smith en Maria Elizabeth Botha (Mary).

Hy skryf: my belangstelling in genealogie kom 'n lang pad. As kind was ek die een wat gedurig die familiestories oor en oor wou hoor. Ek sluit in 2000 by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika aan, maar ernstige belangstelling het in 2001 begin toe ek besef die geslag vóór is my besig om almal uit te sterf. Teen 2003 het ek die Pottas-lyn kon uitsorteer en word omgehaal om die Vrystaat-tak te herstig.My eerste genealogiese publikasie is "Die Van den(r) Berg's van die Kaap tot Witkraal, Petrusburg" 2005 wat ek vir 'n jarelange vriend Cas van der Berg saamstel; daarna verskyn my eie familieregister wat vir my pa Skerf Pottas se 80ste verjaarsdag geskryf is: "Die Pottas skerwe vanaf Schwalenberg tot Windhoek" 2006.

Families waaraan ek tans nog werk: VAN DEN(R) BERG(H), KLOPPER, POTTAS, MENTZ, dele van BEKKER, SMIT, POTGIETER, OOSTHUIZEN, DANNHAUSER, al die nakomelinge van Elizabeth VOOGD, die dogter van Claus VOIGT ('n Duitser) en Christina, ‘n Khoisan-vrou. Dan is daar ook nog die Vrystaatse stamvader-projek, dit wil sê al die mans en vrouens wat in die tydperk 1820 tot 31 Mei 1902 die Vrystaat ingekom het en alhier gevestig het.