Tesourier - Ellen Harmse 2022

Ellen HarmseEllen HARMSE née RUSCH, is op 13 Junie 1950 in Windhoek gebore, in die destydse Suidwes-Afrika. Volgens Duitse tradisie is 'n pienk vlag ter verwelkoming by die hospitaal gehys en 'n kennisgewing in die plaaslike koerant geplaas! My ouers is Franz *1908 Windhoek, Duits-Suidwes-Afrika x Else KAPPEL * 1911 Berlyn, Duitsland. Oupa Ernst Julius, die stamvader, was een van die eerste 41 Schutztruppler (Duitse beskermingsmagte) wat vrede tussen die Herero’s en Nama’s moes bewerkstellig en het in Januarie 1890 in Namibia voet aan wal gesit. Vanaf 1970 woon Ellen in Johannesburg en Kemptonpark waar sy in die konstruksiebedryf en as dosent by volwasse-onderrig vir die Departement van Onderwys tot 1995 werksaam is.
In 1973 is sy getroud met Neels Harmse *1939 Schweizer Reineke en hulle het twee dogters, Benita en Anja, en een kleinseun Tristan. Sy het besef daar is nog nie veel navorsing oor die HARMSE-familie gedoen nie, en is nou daarmee besig. Sy het die konsepsamestelling in die boekery van die Erfenisstigting en by die "Library of the Cape Peninsula University of Technology (CPUT)” in Wellington wat die GISA-versameling bevat, geplaas vir kommentaar en om jaarliks met die nuutste inligting aangevul en vervang te word.
Ellen organiseer elke jaar die toer na die verskillende argiewe vir die GGSA. Van 'n klein begin waar aanvanklik net na die Wes-Kaap Provinsiale Argief (voorheen KAB) gegaan is, het dit gegroei; soveel so dat daar nou ook toere na die Vrystaat Provinsiale Argief en ook na die Nasionale Argief in Pretoria gereël word.