Bykomende Lid - Wilhelm Bernhardt 2022

Ellen HarmseWilhelm Bernhardt is op 7 Januarie 1970 in die Provinsiale Hospitaal op Belfast in die destydse Transvaal gebore, die oudste seun van Wilhelm Bernhardt en Jacomina Johanna Venter. Sy kinderjare n is meestal deurgebring op die dorpie Waterval Boven waar sy ouers onderwys gegee het. Hy matrikuleer in 1987 aan die die Hoërskool Belfast.
In 1990 behaal hy 'n graad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies), gevolg deur 'n Honneursgraad in Staatsleer. Hy sluit in 1992 by die Nasionale Intelligensiediens aan, tans die Staatveiligheidsagentskap. In 1998 behaal hy 'n Meestersgraad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en voltooi in 2004 sy D.Phil aan Tukkies, weer eens in Staatsleer.
Wilhelm se voorliefde vir geskiedenis en genealogie is veral deur sy oupa aan moederskant, Willem Frederik Venter aangevuur. Oupa Willem, 'n besonder intelligente man en boer van die Machadodorp-distrik, het die geskiedenis en stories van sy voorgeslagte op die punte van sy vingers geken, en het dit male sonder tal aan sy kinders en kleinkinders oorvertel.
Wilhelm, wat in die jaar 2000 met Isabel Nel getroud is, het reeds enkele genealogiese publikasies agter sy naam, waaronder sy magnum opus, wat in 2015 verskyn het: "Die Familiegeskiedenis van Corli en Anica Bernhardt". Hierin verken hy die voorgeslagte en geskiedenis van sy twee dogters aan beide vaders- en moederskant (altesaam 32 families), tot by die onderskeie stamvaders en -moeders.
Hy is 'n sterk voorstander van 'n holistiese benadering tot genealogie, en bevorder dus stamboomnavorsing, sowel as die breër konsep van wetenskaplik-gefundeerde familiegeskiedskrywing. In 2020 wen hy die GGSA se toekenning vir beste artikel in Familia, en in 2021 word hy tot voorsitter van die GGSA se Noord-Transvaaltak verkies. Wanneer hy nie met genealogie besig is nie, bestee hy sy vrye tyd aan geskiedskrywing, boekversameling, die restourasie van klassieke motors, motorfietsritte, reis saam met sy vrou, snuffel in oudhede-winkels en -markte, en om sommer net in sy motorhuis aan allerhande dinge te peuter.