Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) 2022

Die Nasionale Raad sal bestaan uit die Nasionale Uitvoerende Komitee (verkose en gekoöpteerde lede) en alle takvoorsitters en ondervoorsitters, of hul genomineerde verteenwoordigers, as ex officio-lede, en al hierdie lede sal huidige en ten volle opbetaalde lede wees van die Genootskap.
 NAAM
 POSISIE
 PORTEFEULJE
 KONTAK
  TAK
 1
 Hendrik Louw
 President
 National
 Noord-Tranvaal
 2
 Johan Pottas
 Visie-President 
 National
 Vrystaat
 3
 Ellen Harmse
 Tesourier
 National
 Noord-Tranvaal
 4
 Glynis Steer
 Sekretaris
 National
 Johannesburg (Tesourier)
 5
 Alta Griffiths
 Bykomende Lid
 Bemarking
 eGGSA (Voorsitter)
 6
 Wilhelm Bernhardt
 Bykomende Lid
 National
 Noord-Transvaal (Voorsitter)
 
 7
 Petro Coreejes-Brink
 Aangestelde lid
 GGSA Nasionale Familia Redakteur
 8
 Germaine Smith
 Aangestelde lid
 GGSA Nasionale Webmeester
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.s
 Vaaldriekhoek (Voorsitter)
NASIONALE UITVOERENDE KOMITEE VAN KOMENDE / VORIGE JARE
2023
2022

 

President - Hendrik Louw 2022

Hendrik LOUWEk is op 9 September 1959 in Kenhardt gebore as die tweede kind (vier seuns) van Willem Jacobus Nicolaas Louw en Elizabeth Maria de Waal.
My kinderdae op die plaas Loogkolk waar ek grootgeword het, was sorgeloos. Ons moes van vroeg af help, maar het ook die ope wye veld gehad waar ons gespeel het. In my jare voor skool was dit droogtejare in die Boesmanland. Soos baie boere het my ouers tydelik weiweld in Suidwes-Afrika gaan soek; my moeder se ouers was Suidwesters.
Ek het Sub A in Kenhardt begin, maar Sub B was weer 'n droë jaar en opnuut was dit Suidwes toe. In 1968 is ek terug in die Boesmanland en voltooi my skoolloopbaan in Kakamas aan die Hoërskool Martin Oosthuizen.
Ná skool is dit Bloemfontein toe waar ek ‘n B.Com-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) verwerf. In 1986 tree ek in die huwelik met Sharon Gail Lockhart. Ons het drie kinders, Chantel, Jaco en Sindy.
Ná 39 jaar in die bankwese, begin ek my eie eiendomsfirma (HESHA Eiendomme) HE = Hendrik + SHA = Shar in Kemptonpark waar ons steeds woon.
Die Genealogie-gogga het my gebyt toe ek rondom 1970 vir Oupa Izaak Jacobus Louw sy broers en susters se name moes neerskryf. Hoewel hy sestien kon onthou (hy sterf op 103 jaar in 1990), wys navorsing dat daar minstens 22 kinders was. In 2009 dien ek vir die eerste keer as president van die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika (GGSA). Ek hanteer steeds GGSA se produkteportefeulje.

Visie-President - Johan Pottas 2022

Johan Pottas 1Johan Jacob POTTAS is op 13 April 1961 in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) gebore, een van vyf kinders van Johan Jacob Pottas (Skerf) en Elizabeth Mathilde Potgieter (Lilli) van Windhoek. Johan is een van vier oorlewende kinders en die enigste oorlewende seun. Hy voltooi sy skoolloopbaan by Windhoek Hoërskool waar hy as sportman uitblink (verwerf SWAAIKS-kleure in atletiek en gimnastiek, en speel hokkie vir die eerste span).

Ná skool doen hy diensplig voordat hy gaan studeer aan die Universiteit van Vrystaat, waar hy BComm en BComm (Hons) (Kapitale Investering) verwerf. Hy word ‘n professionele fotograaf vir twee jaar, en daarna werk hy vir Pick n Pay en vir die Universiteit van die Vrystaat in verskeie hoedanighede.

Hy tree op 21 September 1985 in Bloemfontein in die huwelik met Eureka Dannhauser SMITH. Sy is op 26 Februarie 1961 in Edenburg gebore, die dogter van Gert Hendrik Dannhauser Smith en Maria Elizabeth Botha (Mary).

Hy skryf: my belangstelling in genealogie kom 'n lang pad. As kind was ek die een wat gedurig die familiestories oor en oor wou hoor. Ek sluit in 2000 by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika aan, maar ernstige belangstelling het in 2001 begin toe ek besef die geslag vóór is my besig om almal uit te sterf. Teen 2003 het ek die Pottas-lyn kon uitsorteer en word omgehaal om die Vrystaat-tak te herstig.My eerste genealogiese publikasie is "Die Van den(r) Berg's van die Kaap tot Witkraal, Petrusburg" 2005 wat ek vir 'n jarelange vriend Cas van der Berg saamstel; daarna verskyn my eie familieregister wat vir my pa Skerf Pottas se 80ste verjaarsdag geskryf is: "Die Pottas skerwe vanaf Schwalenberg tot Windhoek" 2006.

Families waaraan ek tans nog werk: VAN DEN(R) BERG(H), KLOPPER, POTTAS, MENTZ, dele van BEKKER, SMIT, POTGIETER, OOSTHUIZEN, DANNHAUSER, al die nakomelinge van Elizabeth VOOGD, die dogter van Claus VOIGT ('n Duitser) en Christina, ‘n Khoisan-vrou. Dan is daar ook nog die Vrystaatse stamvader-projek, dit wil sê al die mans en vrouens wat in die tydperk 1820 tot 31 Mei 1902 die Vrystaat ingekom het en alhier gevestig het.


Tesourier - Ellen Harmse 2022

Ellen HarmseEllen HARMSE née RUSCH, is op 13 Junie 1950 in Windhoek gebore, in die destydse Suidwes-Afrika. Volgens Duitse tradisie is 'n pienk vlag ter verwelkoming by die hospitaal gehys en 'n kennisgewing in die plaaslike koerant geplaas! My ouers is Franz *1908 Windhoek, Duits-Suidwes-Afrika x Else KAPPEL * 1911 Berlyn, Duitsland. Oupa Ernst Julius, die stamvader, was een van die eerste 41 Schutztruppler (Duitse beskermingsmagte) wat vrede tussen die Herero’s en Nama’s moes bewerkstellig en het in Januarie 1890 in Namibia voet aan wal gesit. Vanaf 1970 woon Ellen in Johannesburg en Kemptonpark waar sy in die konstruksiebedryf en as dosent by volwasse-onderrig vir die Departement van Onderwys tot 1995 werksaam is.
In 1973 is sy getroud met Neels Harmse *1939 Schweizer Reineke en hulle het twee dogters, Benita en Anja, en een kleinseun Tristan. Sy het besef daar is nog nie veel navorsing oor die HARMSE-familie gedoen nie, en is nou daarmee besig. Sy het die konsepsamestelling in die boekery van die Erfenisstigting en by die "Library of the Cape Peninsula University of Technology (CPUT)” in Wellington wat die GISA-versameling bevat, geplaas vir kommentaar en om jaarliks met die nuutste inligting aangevul en vervang te word.
Ellen organiseer elke jaar die toer na die verskillende argiewe vir die GGSA. Van 'n klein begin waar aanvanklik net na die Wes-Kaap Provinsiale Argief (voorheen KAB) gegaan is, het dit gegroei; soveel so dat daar nou ook toere na die Vrystaat Provinsiale Argief en ook na die Nasionale Argief in Pretoria gereël word.

Sekritaris - Glynis Steer 2022

Glynis Steer Ek is in Johannesburg gebore en getoë en bly met trots steeds daar. My belangstelling in genealogie het reeds in die 1990's begin toe my skoonma haar navorsing laat vaar het nadat sy ontdek het dat haar ouma tronk toe was vir moord en kindermoord en in die tronk gesterf het. Wat 'n aansporing om die gesinsgeheime te begin navors!
Ek het voorheen op die Suid-Transvaal se (nou Johannesburg) takkomitee as bibliotekaris en nuusbriefredakteur gedien, en ook hul opleidingskursusse oor die navorsing van 'n mens se familiegeskiedenis aangebied.
Ek is as 'n bibliotekaris opgelei en mettertyd na IT-stelselondersteuning oorgestap.
Ek en my man Rob het 'n Zoeloe-pleegdogter en 'n Mexikaanse/Zoeloe-kleindogter. Wanneer ek nie in Johannesburg is nie, geniet ek dit om tyd in die klein gehuggie Rosendal in die Oos-Vrystaat deur te bring.

 

 


Bykomende Lid - Alta Griffiths - Bemarking 2022

Ellen Harmse
Alta Griffiths, gebore Rudolph, is gebore en het grootgeword in die skilderagtige dorp Heidelberg in Gauteng.
Sy is die oudste van twee kinders. Alta se familiewortels in hierdie dorp strek terug na die vroeë 1845's. Alhoewel haar ma as Kruger gebore is, was die moederkant van die families Rossouws, Brits en Slabbert baie vroeër daar met doopname in die Potchefstroomse register wat aan die Suikerboschrand opgeteken is.
Alta doen die afgelope sestien jaar familienavorsing, met nog 'n paar baksteenmure waaraan gewerk moet word. Aan die Rudolph-kant het sy bande met die Voortrekkers. Daar is geglo dat daar soveel weeskinders onder die Voortrekkers was dat haar oupagrootjie as die ‘Weesheer’ (Weeskindmeester) aangestel is.
Alta is voorsitter van eGGSA, die virtuele tak van die genootskap, en is aangestel as 'n addisionele lid in die NUK met die portefeulje van bemarking. Sy werk as voltydse verpleegkundige in Kaapstad terwyl sy twee kinders grootmaak.

 


Bykomende Lid - Wilhelm Bernhardt 2022

Ellen HarmseWilhelm Bernhardt is op 7 Januarie 1970 in die Provinsiale Hospitaal op Belfast in die destydse Transvaal gebore, die oudste seun van Wilhelm Bernhardt en Jacomina Johanna Venter. Sy kinderjare n is meestal deurgebring op die dorpie Waterval Boven waar sy ouers onderwys gegee het. Hy matrikuleer in 1987 aan die die Hoërskool Belfast.
In 1990 behaal hy 'n graad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies), gevolg deur 'n Honneursgraad in Staatsleer. Hy sluit in 1992 by die Nasionale Intelligensiediens aan, tans die Staatveiligheidsagentskap. In 1998 behaal hy 'n Meestersgraad in Politieke Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch en voltooi in 2004 sy D.Phil aan Tukkies, weer eens in Staatsleer.
Wilhelm se voorliefde vir geskiedenis en genealogie is veral deur sy oupa aan moederskant, Willem Frederik Venter aangevuur. Oupa Willem, 'n besonder intelligente man en boer van die Machadodorp-distrik, het die geskiedenis en stories van sy voorgeslagte op die punte van sy vingers geken, en het dit male sonder tal aan sy kinders en kleinkinders oorvertel.
Wilhelm, wat in die jaar 2000 met Isabel Nel getroud is, het reeds enkele genealogiese publikasies agter sy naam, waaronder sy magnum opus, wat in 2015 verskyn het: "Die Familiegeskiedenis van Corli en Anica Bernhardt". Hierin verken hy die voorgeslagte en geskiedenis van sy twee dogters aan beide vaders- en moederskant (altesaam 32 families), tot by die onderskeie stamvaders en -moeders.
Hy is 'n sterk voorstander van 'n holistiese benadering tot genealogie, en bevorder dus stamboomnavorsing, sowel as die breër konsep van wetenskaplik-gefundeerde familiegeskiedskrywing. In 2020 wen hy die GGSA se toekenning vir beste artikel in Familia, en in 2021 word hy tot voorsitter van die GGSA se Noord-Transvaaltak verkies. Wanneer hy nie met genealogie besig is nie, bestee hy sy vrye tyd aan geskiedskrywing, boekversameling, die restourasie van klassieke motors, motorfietsritte, reis saam met sy vrou, snuffel in oudhede-winkels en -markte, en om sommer net in sy motorhuis aan allerhande dinge te peuter.

Aangestelde lid - GGSA Nasionale Familia Redakteur - Petro Coreejes-Brink 2022

Ellen HarmsePetro Coreejes-Brink (gebore Coreejes) is op 2 Junie 1973 in Bellville in Kaapstad gebore. Sy is die oudste van twee dogters van Magrietha Louisa (Marina) van Wyk (van Brackenfell) en Gerhardus Johannes (Basie) Coreejes (van Carnarvon).
Sy matrikuleer aan die High School Brackenfell in 1991 en begin met 'n B.Bibl-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Kort ná die voltooiing van haar biblioteekkwalifikasie begin sy as bibliotekaris by die Cape Technicon in Kaapstad werk. Petro doen graag navorsing en behaal ook 'n BA Hon en 'n meestersgraad in Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Die fokus van haar laaste kwalifikasie was op geslagsregisters en benoemings patrone in die Coreejes-familie oor 'n tydperk van 200 jaar. Petro doen sedert 1992 genealogiese navorsing oor die Coreejes-familie in Suid-Afrika.
Eers nadat sy haar studies voltooi het, het sy by die GGSA betrokke geraak. Sy was een van die voormalige presidente van die GGSA en was jare lank baie aktief met die opname van die grafsteenprojekte.
Petro werk die afgelope 25 jaar by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (Cape Peninsula University of Technology - CPUT) en is betrokke by spesiale versamelings wat die versamelings van GISA insluit wat in 2018 aan die Biblioteek geskenk is.
Sy is getroud met Sybrand Abraham Brink ( * 08/04/1972) en het twee kinders (Kiran * 2007 en Milina * 2008).

Aangestelde lid - GGSA Nasionale Webmeester - Germaine Smith 2022

Ellen HarmseGermaine Lisel Rosslyn Smith is gebore in wat bekend staan as die Stad van Rose op 'n pragtige Saterdag wintersmiddag tydens 'n baie belangrike rugbywedstryd – van alle dinge! My ouers is Arthur Leslie Rosslyn Smith en Carol Evelyn van den Berg.
Ek het in Bloem gewoon en was ‘n leerling van een van die beste meisieskole, naamlik Eunice Primary. Later verhuis ons na Drie Riviere by Vereeniging waar ek my laerskooljare aan Milton Primêre skool voltooi en daarna aan Riverside High matrikuleer. My liefde vir kuns het my geneem om beeldende kunste aan die Vanderbijlpark Technikon te studeer, maar vandag teken ek meer op my rekenaar as op doek.
Ek het my Britse erfenis aan vaderskant begin ondersoek (Smith en Farmiloe). Hulle was van Britse afkoms en twee reise na die Verenigde Koninkryk het my daartoe gelei om my familie van my oupa te vind en baie van die dokumente te kry wat ek destyds gesoek het.
My moederlyn neem my so ver terug as die Voortrekkers en die Britse-setlaars. Dit gaan opwindend wees om na te vors, aangesien dit my oupa en ouma sou dek. Die vanne Holder, Dicks, Thompson, Durand en De Bruin was my ouma se erfenis. Hulle kom almal uit die Dordrecht- en Maclear-streek in die Oos-Kaap. Ek moet nog steeds die bewysfoto ontvang dat my groottante op 'n ossewa gebore is tydens die uiters moeilike trek na Natal.
Ek is die voorsitter van die Vaaldriehoekse GGSA-tak en vind dit strook met my geaardheid om ons lede aan te moedig en te help om hul familielede te vind waarna sommiges al dekades lank soek.