Die Verstotelinge

3H7B0022 Charlie Els 1Charlie Els [Familia 2018 Vol. 55/2 p56]
Hierdie insiggewende artikel handel oor die soeke na die skrywer se stieftante, van wie die familie niks geweet het nie. Al wat een van sy niggies geweet het is dat hul ouma, Catharina Elizabeth Els (gebore Uys) voorheen met ‘n Van der Merwe getroud was en dat twee dogters uit die huwelik gebore is, waarvan een vroeg dood is. Die skrywer kon volgens die naamgee-patroon bepaal dat sy tante se naam Dina Magrietha van der Merwe was. Met hierdie inligting kon die skrywer haar spore volg tot by die Pretoria Melaatse Inrigting wes van Pretoria waar hy bevestiging kon kry dat sy die dogter van Catharina Elizabeth Els was. Dina word ook vermeld in die rekords van die Middelburg-konsentrasiekamp waar die toestande buitengewoon haglik was. Hy kon ook ander familielede opspoor wat op dergelike wyse deur die familie ontken is.
Die skrywer gee baie interessante inligting oor hierdie siekte wat reeds van Bybelse tye as verwerplik beskou is. Hy bespreek die hantering daarvan deur die eeue, wat daartoe gelei het dat hierdie mense deur hul families misken, verstote en vergete was. Ironies genoeg, is dit 'n bakteriële siekte wat maklik behandel kan word, soos ons vandag weet.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
Oor baie eeue is in die Christelike wêreld geglo dat melaatsheid as straf oor die mensdom gebring is a.g.v. sy sondes. Die Christelike oortuiging was so sterk dat melaatses wêreldwyd uit gemeenskappe verwyder en in isolering geplaas is. Teen die agtergrond word die tragiese verhaal van Dina van der Merwe en van haar ander familielede met ‘n tikkie hartseer gelees. Die artikel bied nuwe inligting tot ons genealogiese kennis. Is professioneel, interresant en lees lekker met volledige verwysings.
Die tema van hierdie artikel is verfrissend oorspronklik en die skryftrant hou die leser se aandag gevange. Hoewel die tema van melaatsheid beskou word in die konteks van die skrywer se ‘verlore’ familielid, word ook die oorsaak van die siektetoestand, die oorsprong van die gepaardgaande stigma en die wyer implikasies vir geaffekteerde individue en hul families deur die eeue heen in detail en met empatie hanteer.
Die skrywer maak die soekende genealoog indirek bewus van nog ‘n moontlike bron waar ‘n afwesige, verlore of verdwene familielid gesoek kan word – die rekords van melaatheidsheidshospitale, psigiatriese fasiliteite of soortgelyke instansies – waaraan menige genealoog nog nooit aan gedink het as ‘n soekplek nie.