'n Ekonomiese raamwerk vir genealogiese navorsing?

3H7B3588 WillieDr Wilhelm Bernhardt [Familia 2019 Vol. 56/3 p23-41
Die artikel sit uiteen dat genealogiese aktiwiteite in ‘n spektrum van minstens vyf tipes wedersyds ondersteunende velde van belangstelling verdeel kan word. Al vyf hierdie tipes kan waarde put uit gedeelde metodes van ondersoek. Een so ‘n metode wat al vyf tipes navorsing in ‘n mindere of meerdere mate tot diens kan wees, is die skrywer se voorgestelde ekonomiese raamwerk vir genealogiese navorsing, en die gepaardgaande gebruik van tydlyne. Die voorgestelde raamwerk word verduidelik met voorbeelde uit die outeur se eie navorsing.
Deur kennis van die voorgeslagte te versamel, leer genealoë in werklikheid die hede beter ken, en beweeg nader aan antwoorde op die kernvrae van die genealogie: “Wie is ek?”, “Waarom is ek?” en “Wat het in die verlede gebeur dat ek is wie ek is?“ Die mees basiese doel – en vreugde – van genealogiese navorsing lê in die soektog na en die vind van antwoorde op vrae oor ons voorsate. Uit hierdie oogpunt beskou, is die voorgestelde ekonomiese raamwerk vir genealogiese ondersoek hopelik dus nog ‘n metode te midde van vele ander, wat genealoë van hulp kan wees om selfs nog meer genot uit hul gekose belangstellingsveld te put.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
  1. Die outeur slaag goed daarin om moderne navorsingspraktyke, naamlik genealogiese en historiese navorsing, te gebruik deur die opstel van ‘n ekonomiese raamwerk en ‘n nuwe manier om ‘n geïntegreerde prentjie te verskaf van hoe jou voorouers geleef het. Die artikel dien as uitstekende voorbeeld vir ander genealoë hoe om soortgelyke navorsing aan te pak, is iets besonders en lees lekker. Tegnies, is dit egter nie ‘n suiwer genealogiese artikel nie maar die oorspronklikheid van die aanslag, skep nie ‘n groot probleem nie.
  2. Dié artikel is een van dié beste wat nog in ‘n Familia verskyn het, maar ek plaas dit derde omdat my interpretasie is dat artikels genealogiese gegewens moet bevat, om vir dié toekenning te kan kwalifiseer. Aan die einde is daar wel genealogiese gegewens van die outeur se vader maar dit is net gebruik om die primêre doel, nl. om die ekonomiese raamwerk waar binne ‘n artikel geskryf kan word, te ondersteun.
  3. Die artikel beklemtoon opnuut die waarde van die inagneming van die veranderende omgewing waarteen die stamboom se generasies mekaar opvolg. Sy insluitende model moedig navorsers aan om doelbewus tydlyne van verskillende aard te benut om bv. insig in familiebesluite te verbeter EN dit verskaf ook riglyne vir verdere navorsing (bv. deur by ekonomies-sterker plekke na rekords te soek). Die artikel is goed aangebied met enkele bronverwysings.  In die lig daarvan dat dit sy voorstel (en eie breinvrug) is, is daar minder bronne ter sprake. Die outeur wou ‘n relatief vreemde konsep (veral die tydlyn-aspek) verduidelik en hy moes dit toelig met voorbeelde.
Die outeur het ‘n gemaklike skryfstyl en hy vul dit aan met tabelle en ander voorbeeldmateriaal.