Voorvader van Afrika na Afrika

3H7B3588 WillieDr Rentia Landman Reid [Familia 2020 Vol. 57/1 p38-47]
Met die vraag of haar Reid-voorsate afstam van die oertydse Picts van hedendaagse Skotland of Vikings uit Skandinawië, het die skrywer haar broer se DNS as basis gebruik vir die artikel oor die herkoms van hedendaagse mense.
Homo sapiens (mens wat slim is) het uit Afrika ontstaan toe hoë reënval die Sahara en sub-Sahara hoogs vrugbaar gemaak het. Die laaste ystydperk het dit verander en die prehistoriese mens het noodwendig migreer. Haar familie se manlike lyn, Haplogroep IJK het hom later in die Vrugbare Halfsirkel (‘Fertile Crescent’) in die huidige Midde-Ooste bevind. Haar navorsing toon dat die stigtingsvoorvader ongeveer 43 000 jaar gelede aan die Europese kant van die Caucasusberge gebore is. Sy chromosoomvariant sou binne die Haplogroep I-M170 kon resorteer. Draers van hierdie haplogroep het weer na die huidige Oekraïne noord van die Swartsee migreer, en kon selfs grootwild jag met wapentuig van been en kwarts. Hulle het ook Venusfigure as simbole van vrugbaarheid gefatsoenneer. Hul lewenswyse staan as die Gravettiaankultuur bekend.
Verdere klimaatsveranderings het telkens tot migrasie en veranderde lewenswyse gelei, wat ook verdere chromosoomvariasie meegebring het. Die skrywer se navorsing het getoon dat migrante ongeveer 13 000 jaar gelede Skandinawië bereik het. Haar familie het, volgens DNS-resultate hoofsaaklik genetiese bande met Denemarke.
Vervolgens bespreek sy die ontstaan van landbou en veeteelt, asook taal wat weer eens met kontak tussen verskillende haplogroepe op mekaar ingewerk het. Sy wys dat haar voorvaders se taal mettertyd deel van die groot Indo-Europese taalfamilie geword het. Dat die voorvader uit Denemarke in Skotland beland het, kan sy toeskryf aan Viking-strooptogte en ook handel. Hoewel sy geen antwoord kon vind op die vraag of hy ‘n Viking-plunderaar of ‘n Deense visserman was nie, wat sy wel weet is dat haar familie se Skotse spore in Suid-Afrika dateer van 1861.
Uittreksel uit paneelbeoordelaars se kommentaar:
Hoewel nie ‘n artikel met veel name en datums soos meeste genealogiese artikels, is dit die verhaal van ons almal se voorouers... dis goed nagevors met die nodige verwysings en in vlot leesbare skryfstyl.
Die artikel spreek natuurlik van besondere navorsing in ‘n tot nog toe relatief onbekende veld.
DNS-data speel ‘n al hoe groter rol in genealogie. Hierdie artikel is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe rou DNS-data in ‘n genealogiese familienavorsing ingeweef kan word en ‘n akkurate raaiskoot en aanvaarbare teorie gekoppel kan word om historiese vrae te beantwoord.