Ontmoet die Familie Pieters

ONTMOET DIE FAMILIE
Barend Pieters en Johanna Nel en hulle nageslag.                                                                                                                                   Potchefstroom Herald 2016-7-21

Daar heers gereeld groot verwarring oor nageslag van die twee stamvaders, Barend Pieters van Wesel, en Hermanus Pieters van Nederland. Barend se enigste seun wat volwassenheid bereik het, se naam was Hermanus (gedoop Stellenbosch op 19.9.1717) – en die ander Hermanus, aan wie die dorpie Hermanus sy naam ontleen het, is eers in 1777 in Nederland gebore.
Barend Pietersz – hy het nie ‘n van gehad nie, maar ‘n patroniem, dws “seun van Pieter” – tree in 1709 in diens van die VOC en kom op 20.12.1709 met die hekboot, die Oegsgeest, in Kaapstad aan. Die volgende jaar begin sy dienstydperk as soldaat in die Kaap. In Desember 1714 word hy ‘n Vryburger. Hy is waarskynlik dieselfde jaar met Johanna Nel, ‘n weduwee, getroud. Hulle doop altesaam sewe kinders, maar net een seun en twee dogters trou uiteindelik. Hy was ‘n wingerdboer en het ook koring geplant, aanvanklik in die Stellenbosch omgewing, oa op Vergelegen en Blaauwklippen. Vanaf 1739-1747 kry hy weidingsregte “aan die Mossel Rivier over Hottentot Hollands Cloof.”
In 1762 verskyn sy naam vir die laaste keer op die opgaafrol – hy is dus tussen 1762 en 1763 oorlede. Sy seun, Hermanus (1717-1756) trou met Maria Elizabeth Swart, en laat slegs twee seuns na. Volgens sy boedel laat hy ‘n opstal op die plaas Kwartelfontein, op die hoek van die Swartberg, na, asook beeste, perde, skape en ander artikels. Sy weduwee hertrou met Casparus Bester (7 kinders) en na Bester se dood trou sy vir ‘n derde keer, en wel met Johannes Gideon de Wege, ‘n man wat byna twintig jaar jonger was as syself – trouens, hy is presies ‘n week na haar oudste seun, Petrus Johannes Pieters, gedoop!
Petrus Johannes (gedoop op 1 November 1850) en sy vrou, Magdalena Catharina Maree, het agt kinders –twee seuns en ses dogters – gedoop, maar het skynbaar geen manlike Pieters-nasate nie – sy oudste seun, Petrus Hermanus Josias, was kinderloos en sy tweede seun, Hendrik Oostwald Johannes, het net een seun en een Pieters-kleinseun gehad, maar van hom kon geen huwelik of boedel gevind word nie. Al die Pieters-nageslag stam dus uit die tweede seun, Bernardus Jacobus (gedoop 1.10.1752, oorlede na 1809) en sy vrou, Margaretha Brits. Hulle het nege kinders gedoop, waarvan vier seuns en vier dogters grootgeword het. Sewe van die agt kinders is met Groenewalds getroud.
Sy oudste seun, Hermanus Bernardus (18.11.1776-4.2.1851), getroud met Susanna Maria Groenewald, en sy hele gesin, was Voortrekkers. Hy span uit op die plaas Windhoek/Pietersdal naby Bethlehem, trek verder na Natal, en trek uiteindelik terug na Windhoek, waar hy sterf en sy seuns later vir hom ‘n pragtige sandsteengrafsteen oprig. Sy enigste seun wat in Natal agterbly, is die moeilike Coenraad Lucas (1804-1890), wat groot oorlog in sy gemeente veroorsaak, en dit oor kerkbanke. Van sy kleinkinders word dan ook in Biggarsberg se Rebelle gemeente gedoop.
Barend se nasate dra die van Pieters, Pieterse, Pietersen en Peters – iemand wat na Amerika geemigreer het, het ‘n Engelse Peters geword, en iemand wat in Windhoek gewoon het, het ‘n Duitse Peters geword. Vandag is almal uiters gesteld op die spelling van hulle van, en dat dit die korrekte vorm is! ‘n Pieters is ‘n Pieters, en nie ‘n Pieterse nie! (En natuurlik andersom!)
Hermanus Bernardus se jonger broer, Bernardus Hermanus (1782-1845) se een seun, Hendrik Nicolaas Pieterse (11.2.1824-15.4.1874), sy vrou en tien kinders, trek omstreeks 1863 na die Potchefstroom omgewing, waar hy op Syferfontein boer en sterf. Nege van sy kinders sterf in die Potchefstroom omgewing. (‘n Dogter, Margaretha Johanna Jonker, sterf in 1901 op Walkraal, Wolmaransstad.) Vandag is daar nog talle Pieters/e/ns in Noordwes provinsie.
(Bron: Roux Alta: Barend Pieters en Johanna Nel en hulle nageslag – Privaat uitgawe. Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za)

  • Hits: 9220