Die Barnards
ONTMOET DIE VERSKEIE FAMILIES BARNARD
Herald dd 3.10.2014
Verskeie Bernhard(t) of Barnard immigrante het sedert van Riebeeck voet aan wal gesit het, hul heil in Suid-Afrika kom soek. Daar was ‘n Carl Phillip uit Dresden, Carl Wilhelm wat in die Knysna omgewing woonagtig was, Christiaan Johannes van die Jansenville, Herman in die Aberdeendistrik, uit Westerburg-Duitsland ‘n George geb.1728, en ook Johann Christian geb.1811wat in 1848 in die Kaap arriveer. Dan ook Johann Christoffel uit Wollenberg in die Palatinate, en ‘n Johan Bernard vanuit Helmstedt (1761)
Moet nie vergeet van Lady Anne en haar eggenoot Andrew, een van die eerste Britse goewerneurs aan die Kaap. Dan nog Daniël Francois geb. te Brabant 1780 asook ene David Barnard - ‘n Britse Setlaar wat slegs 20 jr oud was met sy aankoms.
Die artikel fokus egter op die herkoms en verspreiding van die getalrykste Barnard familie – die nageslag van ene Johannes Bernardt wat later Barnard geword het en wie se familie-inligting in vroeë geslagsregisters as volg aangeteken is:“Barnard/Bernardt, Johannes * Köln /Deutchland, Ausreise mit Schiff “De Overwinnaar”, in England desertiert und spätter aufgegriffen, von dort mit Schiff “Vryburgh” zum kap. Ankunft 1708, Soldat bei der HOIK., Burger 5-8-1710 + Kapstadt 27 –12-1727 x Kapstadt 2-3-1710 Sarah Strand/Heyn, aus Amsterdam/ Niederlande. Ankunft vor 1710 + ? XX Stellenbosch 15-7-1753 Johann George Hansen aus Berlin.”
Volgens bostaande is Johannes Bernardt gebore te Keulen in Duitsland, op die skip Overwinnaar vertrek maar in Engeland het hy die skip verlaat (gedros) om later met die “Vryburg” na die Kaap te reis waar hy volgens alle aanduidings op 24.7.1708 aangekom het.(Volgens die VOC se skeepsgegewens is die Overwinnaar “op 3–6-1708 door de Franse veroverd tussen de evenaar en de Kaap de Goede Hoop”)
In die Kaap het hy as soldaat gedien tot 05.08.1710 toe hy burgerskap verkry en dus vryburger geword en toe in die omgewing van Stellenbosch gaan boer het. Op 'n stadium het hy 4 000 wingerdstokke as bate opgegee.
Johannes was getroud met Sara Pieters Strand en van die egpaar se drie kinders het net die middelste seun Adam, gebore 1717, oorleef. Johannes self is in 1727 oorlede en eggenoot Sarah na 1767.
Adam Jnr. is getroud met Lea le Roux d.v. die Franse Hugenoot Jean le Roux en Maria Catharina Le Febre.(le Lievre).
Na hulle huwelik het die egpaar geleidelik ooswaarts getrek en teen 1744 was hy op die plaas Zevenfontein, die hedendaagse Voorbaai, tussen Mosselbaai en Hartenbos gevestig. Vir Adam en Lea is 6 kinders gebore, 1. Johannes Hendrikus geb.1735 x Maria Dietlof, 2. Sarah Maria geb.1739 x M.C. Botha, 3. Lea Magdalena geb.1742 x W. Boshoff, 4. Hendrik geb. 1744 x Magdalena Botha 5. Maria Margaretha geb.1747 x Jacobus Johannes geb.1741 en 6.Adam geb.1750 x Maria Susanna Koen geb.1757.
Vir meer as 100 jaar was die meerderheid van sy nageslag in die George-Mosselbaai, Knysna omgewing woonagtig alvorens verder getrek is – dit moontlik weens die topografie van die omgewing wat verdere beweging bemoeilik het.
Behalwe die bekende Dr. Chris Barnard wat stam uit Adam se vierde kind, Hendrik, is enkele ander bekendes die skrywer Chris Barnard, skrywer; Dr Neil Barnard, voormalige D.G. van die Dept van inligting; Prof A.C. Barnard - betrokke by nuwe liedboek van die Afrikaanse kerke; Mnr. S.P. Barnard - Administrateur van die Vrystaat; die rugbyspringbokke Willem (1949-1951) en Jannie Barnard; (1960/70's); die atletiekspringbokke Jan (eerste atleet met Springbokkleure vir baan, pad en veldloopnommers), Adam (hamergooi), Sandra, ook die SA kampioen oor die 100m en 200m in die vroeë 1980's en les bes, in Dalene Mathee se boek “Kringe in ‘n bos” is die hoofkarakter “Saul Barnard”.
Saamgestel deur Simon du Plooy, Potchefstroom (
- Hits: 11461