Die Families BOSCH in Suid-Afrika

                                                                                                                                Die Potchefstroom Herald 27 Junie 2014

Die Bosch-naam is redelik bekend in Suid-Afrika. Alhoewel daar etlike stamvaders met hierdie van in die Kaap aan wal gestap het, stam die grote meerderheid Bosche van één of twéé stamvaders af. Die ou-Kaapse Bosch-families dra vandag die gene van hul Hugenote, Nederlandse en Duitse voorvaders, maar ook dié van ander Europeërs, asook dié van Oosterlinge - soos die meerderheid van 'blanke' Suid-Afrikaners.
Jan Hendrik Bosch (in 1747 in die Kaap gedoop) se ouers was Anna Maria Bruijnings en 'zogezegde' Hermanus Bos. Jan Hendrik trou in 1774 te Tulbagh met Aletta du Plooy, 'n kleindogter van die du Plooy stamvader Simon du Plooy (Plooijer) en Catharina Koopman. Die vier seuns van Jan Hendrik en Aletta was vóór 1800 reeds as trekboere aan die Oosgrens; hulle was Johannes Carolus, Michiel Coenraad, Simon Christoffel en Johannes Hermanus; name wat vandag steeds onder nasate voortleef. Die stamvader se dogters, Maria Aletta en Aletta Cecilia, trou onderskeidelik met Antonie Botha en Johannes Cornelis Engelbrecht. Hierdie stoere Afrikaners met hul gades - wat saam met die Britse setlaars swaargekry het en dikwels ook Engels geleer het - was familie-trots, hardwerkend, spaarsaam maar vrygewig, soms effens koppig. Hulle het groot gesinne gehad - kinders wat later genoop was om 'n heenkome op die Witwatersrand en elders te soek. Wanneer hulle die geleentheid gebied is, het Bosche op akademiese gebied presteer; mediese dokters, professore, onderwysers, ingenieurs en regsgeleerdes met dié van is bekend.
Ander Bosch-stamvaders.
Dirk Bosch is ongeveer 1645 in Amsterdam gebore en is vóór 1673 oorlede; op 29.04.1668 trou hy in die Kaap met Geetruijd Meijtinghs; hulle het twee dogters gehad.
Salomon Bosch land in 1747 aan die Kaap en is in 1751 in diens van die HOIK as meesterhouthakker. Sy eerste vrou was Elisabeth de Nys - hulle het sewe kinders gehad. Salomon en sy tweede vrou Gesina Maartens het twee seuns gehad. Hy het 'n vierkamer-huis op die buitepos 't Paradijs' aan die bo-Liesbeekrivier gebou. Nadat dit in onbruik geraak het, het Lady Anne Barnard en haar man Andrew Paradys in 1797 betrek en is dit as 'n somershuis gebruik. In Salomon se inventaris van Mei 1768 word vyf seuns en twee dogters genoem; uit hierdie lys van meubels, kledingstukke, silwer, ens., blyk dit dat Salomon 'n welgestelde man was.
Johann Heinrich Bosch van Minden was van 1787 tot 1790 in diens van die HOIK aan die Kaap.
Johann Jacob Bosch van Berlyn, trou in 1791 met Elisabeth Dorothea Roos - hulle het vyf kinders gehad.
Johannes Hieronimus Bosch (van Bremen, gebore 1772, oorlede 1838) trou in 1807 in Stellenbosch met Catharina Johanna Momberg; hulle het een seun, Hendrik Mattheus, en ses dogters gehad.
Enkele Bosch-uitblinkers.
Gerald Bosch speel in die 1970s vir Transvaal rugby en het die Springbok-trui tienmaal gedra. Gerald is in 1949 in Vereeniging gebore en woon tans in Australië. Die krieketspeler Tertius Bosch (1966-2000) is ook in Vereeniging gebore - hy speel in slegs één toetswedstryd vir Suid-Afrika. 'n Jong krieketspeler wat vandag naam maak, is Corbin Bosch (gebore 1994 in Durban) - hy kolf en boul vroeg in 2013 teen Engeland in Suid-Afrika se onder-19-span.
David Jacobus Bosch, gebore 1929 in Kuruman, was 'n wêreldbekende missioloog voordat hy in 1992 op tragiese wyse in 'n motorongeluk oorlede is; sy sending-teorie word vandag nog as maatstaf beskou.
Bekende Bosch-kunstenaars sluit Esias, Anton, Esra en Cornelius Bosch in, maar 'n jonger garde soos Beatrix, Reuel en Carla Bosch maak steeds opgang.
Etlike Bosche het in musiek naamgemaak. Onder andere: Fanie Bosch (1925-1980) - 'n ou-bekende in konsertinakringe, beide as meesterspeler en komponis. Die Kaapsgebore Leon Bosch (1961) is 'n wêreldbekende basvioolvirtuoso, vandag 'n Britse burger.
[Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za vir meer inligting] Saamgestel deur Johannes Bosch, Virginia, VSA: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

  • Hits: 10154