Skip to main content

GGSA HEADER AFR

Die de Klerks

Potchefstroom Herald 24.5.2013

Die De Klerk familie het deur Suid-Afrika versprei sedert die aankoms van Abraham de Clerq as jong seun, sy moeder Sara Cochet, sy suster Jeanne (Jannetjie) asook sy broer Joost.  Hulle arriveer op 26.4.1688 aan die Kaap as deel van ‘n groep Franse Hugenote.  Hulle vader Pieter is oorlede nog voordat hulle vanaf die eiland Walcheren in Zeeland in die suide van Holland vertrek het.  Sara was verloof aan Guilliaume du Toit (a 1686) en is na hulle aankoms aan die Kaap met hom getroud.
Abraham het verder op Stellenbosch opgegroei waar hy met Madeleine Mouton, d.v. Jacques Mouton en Marie de Villiers op 12.5.1709 in die huwelik tree. Hulle eerste kinders is dan ook op Stellenbosch gebore en gedoop.  Die lenings-plaas Vogelvallij (naby Gouda ) is op 7.9.1734 aan hom toegeken.
Daardie eerste jare was beslis nie maklik nie. Jan de la Fontaine, goewerneur aan die Kaap, wat in 1734 met sy geselskap na die strandingsplek van die Huis te Marquette te Mosselbaai gereis het, het hom en sy gesin in armoede op Vogelvallij aangetref . Hulle het 10 kinders gehad waaronder sewe seuns en drie dogters. Slegs drie van die seuns en hulle kinders naamlik die vierde kind Barend, die sesde Jacob en die sewende Joseph dra die De Klerk naam verder.  Daar is nog ander De Klerk families wat later in SA aangekom het.
Barend en gesin het na die Oos-Kaap getrek en na die Slagtersnekrebellie in 1815 is sommiges dieper die binneland in. Party het later na Potchefstroom verhuis waar hulle aan die universiteit asook die Gereformeerde Kerk verbonde was. De Klerks en de Beers was van die vroeë veeboer-trekkers tot teen die Groot (Oranje / Gariep)-rivier en later verder na die Waterberg omgewing in Transvaal. Die Dorslandtrekkers kom ook uit hierdie stamlyn.
Jacob het die Karoo binnegetrek en van daar het sy nageslag die Groot Trek meegemaak, te Potchefstroom vertoef en verder noord- en oos-waarts tot die huidige Oos-Transvaal waar hulle die vanvorm as de Cler(c)q behou het.  Sy kleinseun Jacob is in 1839 as die eerste landdros van Potchefstroom aangewys. Klerksdorp is na hom vernoem.
Joseph se nageslag het noordweswaarts tot in Namakwaland en Suidwes-Afrika getrek. Diegene wat in die Tulbagh distrik agtergebly het gebruik later die de Clerk vorm van die van. Sommige het later weer op Vogelvlei geboer voordat die plaas onder die Voëlvleidam verdwyn het.
Abraham se suster Jeanne (Jannetje) trou eers met Andre Gous en later met Pieter Bekker (sy is die Bekker-familie se stammoeder). Sy het na Bekker se verbanning uit die Kaap ook ‘n kind uit ‘n verhouding met Matthys de Maker gehad.
Sy broer Joost trou met Jacoba Campher en hulle seun Barend is kinderloos oorlede.
Van die beweegredes vir hierdie trekkery was dat hulle meestal veeboere was en agter weiding aan getrek het.  Andersins om onder die juk van Britse bewind uit te kom. Om ekonomiese redes het baie kinders die plase en platteland in die 1900's verlaat en ‘n heenkome in die stede gaan soek.
Die De Klerks was betrokke in feitlik alle konflikte waarin Suid-Afrika buitelands betrokke was.
Willem Johannes de Clerck – vanaf Belfast, Ierland in 1848 in die ZAR trou in 1856 op Potchefstroom en sy nageslag vestig hulle ook in die Transvaal.
Die van met variasies is nou nog redelik algemeen in Frankryk, Nederland, België en selfs in die VSA te vinde.
[Die artikel is saamgestel deur David de Klerk en navrae aan hom kan gestuur word aan die Noordwestak se e-adres op die webblad.
David is ook die outeur van die De Klerk geslagregister “Van Vogelvalleij na Verre Velde..” waarmee hy in 2012 vereer as GGSA se Genealoog van die Jaar]

 

 

  • Hits: 7070