President - Hendrik Louw 2023

Hendrik LOUWEk is op 9 September 1959 in Kenhardt gebore as die tweede kind (vier seuns) van Willem Jacobus Nicolaas Louw en Elizabeth Maria de Waal.
My kinderdae op die plaas Loogkolk waar ek grootgeword het, was sorgeloos. Ons moes van vroeg af help, maar het ook die ope wye veld gehad waar ons gespeel het. In my jare voor skool was dit droogtejare in die Boesmanland. Soos baie boere het my ouers tydelik weiweld in Suidwes-Afrika gaan soek; my moeder se ouers was Suidwesters.
Ek het Sub A in Kenhardt begin, maar Sub B was weer 'n droë jaar en opnuut was dit Suidwes toe. In 1968 is ek terug in die Boesmanland en voltooi my skoolloopbaan in Kakamas aan die Hoërskool Martin Oosthuizen.
Ná skool is dit Bloemfontein toe waar ek ‘n B.Com-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) verwerf. In 1986 tree ek in die huwelik met Sharon Gail Lockhart. Ons het drie kinders, Chantel, Jaco en Sindy.
Ná 39 jaar in die bankwese, begin ek my eie eiendomsfirma (HESHA Eiendomme) HE = Hendrik + SHA = Shar in Kemptonpark waar ons steeds woon.
Die Genealogie-gogga het my gebyt toe ek rondom 1970 vir Oupa Izaak Jacobus Louw sy broers en susters se name moes neerskryf. Hoewel hy sestien kon onthou (hy sterf op 103 jaar in 1990), wys navorsing dat daar minstens 22 kinders was. In 2009 dien ek vir die eerste keer as president van die Genealogiese Genootskap van Suid Afrika (GGSA). Ek hanteer steeds GGSA se produkteportefeulje.