Maak ‘n begin - Jou genealogiese navorsing

Bepaal jou doelwit voordat jy met jou navorsing begin, byvoorbeeld:
  • Wil jy al jou (manlike) voorouers aan vaderskant opspoor? Of al jou (vroulike) voorouers aan moederskant? Of al jou voorouers opspoor, dit wil sê 'n voorouer kwartierstaat opstel?
  • Wil jy al die nasate van 'n gemeenskaplike stamvader opspoor, miskien die eerste persoon met jou van wat in Suid-Afrika aangekom het?
  • Wil jy uitvind of jy verwant is aan 'n bepaalde historiese persoon, wat dieselfde van as jy het?
Nadat jy bepaal het wat jy wil bereik, kan jy besluit hoe jy dit moet benader en waarna jy moet soek.  Onthou dat jy agteruit moet werk van die bekende na die onbekende, begin by jouself, jou ouers en grootouers.
Bepaal die omvang van jou navorsing:
  • Onthou dat as jy 'n kwartierstaat van beide die vader en moederlyne wil opstel, die aantal persone in elke generasie verdubbel. Jy begin by jouself, twee ouers, vier grootouers, agt grootjies en so meer.
  • ’n Navorsingaktiwiteit wat te groot is, kan moelik raak om te bestuur en tydrowend wees.
  • Begin eerder met 'n beperkte omvang, soos om jou familie vier of vyf geslagte terug te voer en sodra daardie doelwit bereik is, brei jy die navorsing uit om nog twee of drie geslagte in te sluit.