Ontmoet die Familie Greyvenstein

                                                                                                                Potcefstroom Herald  1 Desember 2016

Die betekenis van Greyvenstein/Greifenstein : Huis van griffioene(legendariese voëls). Ook ‘n Duitse pleknaam.
Greifenstein is eintlik ‘n gemeenskap in die distrik Lahn-Dill-Kreis in die provinsie Hesse in Duitsland. Die naam is afkomstig van die Greifenstein kasteel in die distrik. Die van Greifenstein spruit dus uit die naam van die Greifenstein kasteel en die Greifenstein gemeenskap. Die naam van die kasteel en dorpie is later aangeneem as ‘n van. Die stamvader Johann Jacob Greifenstein het gedurende 1759 in die Kaap gearriveer en in dokumente word Greifenstein ook geskryf as Gravenstein , Greivensteyn , Grijvenstein ens. Die van is geskryf soos wat betrokke amptenare dit uitgespreek het en so het dit verander totdat die van Greyvenstein/Greyvensteyn en Gravenstein bly vassteek het.
Johann Jacob Greifenstein arriveer in Kaap de Goede Hoop op 28 Maart 1759, op die skip Kronenberg as soldaat in die diens van die H.O.I.K. Die Kronenberg was op pad vanaf Texel na Batavia en aan die stuur was skipper Willem Hoogland. Op skeepsdokumente word Johann aangegee as Jacob Geijgesteijn, soldaat. Gedurende 1762 verkry Johann Jacob burgerskap, tree gedurende 1763 uit diens van die H.O.I.K en vestig hom in die Kaap as messelaar.
Op 30 Julie 1769 tree Johann Jacob in die huwelik met Sophia van die Kaap, ‘n vrygegeven lyfeigene, ‘n slawemeisie wat haarself Sophia Kluysman noem.
Johann Jacob Greifenstein sterf die 22ste Desember 1793 . In boedeldokumente word sy woonadres aangegee as: Een huijs en erf staande ende gelegen in dese Tafelvalleij in de Waalestraat in het blok P.P en aldaar N.o.8'
Kinders wat uit die verbintenis en huwelik van Johann Jacob en Sophia gebore is:
b1. Geertruida Barbara Kluysman – ‘n buite-egtelike kind van Sophia maar deur Johann Jacob as sy eie kind aanvaar.
b2. Johann Jacob (Hans) gedoop in Kaapstad, 20 Augustus 1769.
b3. Helena Catharina gedoop in Kaapstad, 26 April 1772.
b4. Johanna Jacoba gedoop in Kaapstad, 2 Oktober 1777 (haar moeder word op die doopinskrywing aangegee as Johanna Regina Roelen, dus ‘n buite-egtelike kind van Johann Jacob).
b5. Johanna Antonia gedoop in Kaapstad, 16 November 1777.
b6. Aletta Abigail gedoop in Kaapstad, 20 Augustus 1780.
b7. Barbara Christina gebore 25 Februarie 1779.
Johann Jacob (stamvader) het slegs een seun gehad, alle Greyvensteins in verskillende spelvorme (Greifenstein, Greyvenstein, Greyvensteyn, Gravenstein, Gryvenstein ens.) stam dus van hom af. Hy trou op 20 jarige ouderdom op 11 Februarie 1789 te Kaapstad met Johanna Maria Louw, sy sterf gedurende die vroëe 1800's kort na die geboorte van hulle tweede kind en hy trou op 3 Augustus 1805 in die huwelikshof te Graaff Reinet met Heyltje (Heila) Magdalena de Beer. Hans se twee oudste kinders is albei jonk oorlede. Hans en Heila vestig hul eers in die Graaff-Reinet omgewing maar trek later na die Cradock distrik, hulle het saam elf kinders, sewe seuns en vier dogters.
Gedurende 1836, ‘n jaar nadat Hans oorlede is, trek ook sy weduwee en gesin na die noorde tydens die Groot Trek. ‘n Kleinkind, Jan Hendrik Jacobus Antonie Greyvenstein verbrand in ‘n oop vuur en die familie draai weg na Molteno se kant waar daar nog oop staanplekke was. Van die Groot Trek het daar dus vir hierdie gesin niks gekom nie en hulle het hulle wortels diep in die Noordooskaap ingegrawe.
Eers gedurende die laat 1800's en vroeë 1900's begin van die jonger geslagte noordwaarts trek, eers net na die Vrystaat en later ook na die Johannesburg omgewing.
[Vir nadere besonderhede kontak vir Marie Greyvenstein by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za]

  • Hits: 6815