Alexander, watter Alexander????

Ontmoet die Familie Alexander

                                                                                                                 Potchefstroom Herald 8 Augustus 2014

Indien jou van ALEXANDER is kan jy net vra “van watter ALEXANDERS”? Hoewel uit die skrywer se navorsing met reg gesê kan word dat die meeste ALEXANDER's afstam van twee ALEXANDER's is daar tot op hede minstens 121 stamvaders aangeteken. Die lande van herkoms sluit in: Rusland, St Helena, Skotland, Engeland,Noord-Ierland, Duitsland, Spanje, Ierland, Australië, Wes-Indië, Wallis, Mosambiek, Noorweë, Kanada en dan is daar vele wie se land van herkoms steeeds onbekend is.
Die grootste enkele Familie in Suid-Afrika is oorspronklik van Engeland, en hul stamvader emmigreer eers na St Helena (1695) en vandaar emmigreer hulle stuksgewys na Suid-Afrika vanaf 1820 tot 1890.
Die welbekende maatskappy Fraser Alexander & Kie wat bekend is in die mynwese,  is die breinkind van Fraser Frederick ALEXANDER 1864 – 1943. Die maatskappy is tans bedrywig in Afrika en Chile. In die veld van veeartseny is daar ook ‘n Raymond Albert ALEXANDER 1899 – 1965 wat diep spore getrap het in Suid-Afrika en selfs in die VSA waar hy vir die VSA-regering in die vroeë 1950 moes gaan help met die bestryding van bloutong in die VSA. Slegs een been van hierdie familie het verafrikaans. Dit is die nageslag van Frederick Augustus ALEXANDER 1834 -1864 en Maria Magdalena ROBINSON, wat in die huidige distrik Trompsburg, Vrystaat gevestig het. Sy seun was ook die enigste van die Saints ALEXANDER's wat aan die kant van die twee Republieke teen Britanje en haar bondgenote geveg het gedurende die ABO.
Ene Edward Richard ALEXANDER, gebore Engeland, 1858 – 1932, word in die ABO eers klerk van die Norvalspont Konsentrasiekamp, Vredefort, Konsentrasiekamp, bevorder tot assistent in die Uitenhage, Konsentrasiekamp, hy verklaar ook in 1903 dat hy nooit ‘n Vrystaatse burger was nie, hoewel hy opgeroep was in 1899 deur die Vrystaatse Regering. Hy verlaat ook die Vrystaat in 1902 om nie weer terug te keer nie.
Die stamvader van die tweede grootste ALEXANDER familie in Suid-Afrika is afkomstig van Engeland en het ‘n besonderse verbintenis met Mahatma GHANDI. In 1897 word Mahatma GHANDI in Durban gearresteer en aangehou in die Durbanpolisiestasie. Op die stadium is Richard Charles ALEXANDER 1841 – 1907 die Superintendant van die Durban Polisie en aandiens in die stasie. Daar is ‘n oproerige groep betogers by die stasie wat eis dat GHANDI uitgelewer moet word aan hulle sodat hulle hom kon ophang. Richard beveel vir GHANDI om ‘n polisie uniform aan te trek en stuur hom tesame met ander polisielede uit die stasie onder die oë van die skare. Hierna nooi hy die skare die stasie in om hulself te kom vergewis dat GHANDI nie in die stasie aangehou word nie. Teen die tyd wat die skare besef het hulle is met die kous oor die kop gevang, was GHANDI reeds in beskermde aanhouding in die hoofpolisiestasie in Durban. Richard en sy derde vrou ontvang later elkeen ‘n goue sakhorlosie, met gravering van GHANDI as dankbetuiging van sy vinnige en tydige hantering van die voorval.
Op sport gebied is daar ‘n paar bekende ALEXANDER's, in die eerste “amptelike” rugby toetse tussen Suid-Afrika en Groot Brittanje (later die Britse Leeus) in 1891 speel Frederick Augustus ALEXANDER in twee toetse.  Pietie COETZEE, welbekende hokkiespeelster van vroue hokkie in Suid-Afrika vanaf 1995 en wêreld rekordhouer vir die meeste doele as ‘n nasionale speler is die dogter van MJC ALEXANDER en G.P.N. COETZEE. Sy breek die 20 jarige rekord van Rusland se Natalya Krasnikova op 21 Junie 2011 toe sy haar 221ste internasionale doel vir Suid-Afrika aanteken. Teen Januarie 2013 bereik sy haar 250ste doel in haar 255ste wedstryd vir Suid-Afrika.
[Vir meer inligting besoek die Die Genealogiese Genootskap se webwerf  by www.genza.org.za ]

  • Hits: 6154