Ontmoet die Pretoriusse

                                                                                                                                                                        [Potchefstroom Herald 27 Sept 2013]

Bestaande navorsing het die oorsprong van die Pretoriusfamilie teruggetrek na die provinsie/staat Nedersakse in Duitsland. Die oudste voorouer wat ons tot dusver kan naspoor, is Wessel Schulte, wat in Schüttorf in die ryksgraafskap Bentheim, gewoon het. Die streek is gekenmerk deur 'n gematigde klimaat, digte eikewoude en sandsteenbrûe en ambagslui was goed georganiseerd in gildes – onder andere leerlooiers en skoenmakers.
Kort voor die begin van die 17e eeu  aanskou Wessel Schulte se seun Barend Wesselszoon die lewenslig. Nadat hy sy opleiding as skoenmaker voltooi het, verlaat Barend Schüttorf en vestig hom in Leiden, waar hy die van Schout aanneem. (Die Duitse van Schulte beteken "Skildwag" en met sy hervestiging in Leiden neem Barend Wesselszoon Schulte die Hollandse ekwivalent van die van, Schout (“wag”), aan. Schout was ook die titel van ‘n amptenaar wat aangestel is om administratiewe take te verrig en regstoepassing te verseker - soortgelyk aan die huidige magistraat).
Barend se seun Wessel (gebore ongeveer Oktober 1614) het in 1636 by die Universiteit van Leiden ingeskryf, waar hy teologie studeer en later as dominee kwalifiseer het. In navolging van die destydse praktyk, het Wessel sy van ver-Latyns na Praetorius (die Latynse ekwivalent van "schout", oftewel "praetor"). Hierdie van sou mettertyd Pretorius word.
Na die voltooing  van sy studies word Wessel beroep na die Hervormde gemeente Ouddorp (op die hedendaagse Goerree-Overflakkee), waar hy van 1639 tot 1653 sou dien. Op 16.6.1641 word hy te Haarlem in die eg verbind met Josyntgen Claesdochter van Egmont. Drie seuns en sewe dogters is vir die egpaar gebore: een seun en vier dogters is te Ouddorp en twee seuns en drie dogters in Emmerik, waar Wessel die laaste jare van sy bediening verrig het.

Die stamvader Johannes Pretorius

Wessel en Josyntgen se oudste seun, Joannes (Johannes), word op 26 Oktober 1642 deur sy vader in die Hervormde Kerk in Ouddorp gedoop. Die doopinskrywing lees as volg:
"Den 26 October: van mij gedoopt mijn eersgeboren zoon en hebbe die genoemt Joannes. Getuigen zijn geweest mij vader Barent Schout, mijn swager Laurentius Nicolay van Egmont en Meutie Geertruij Reiniersdochter huisvrouw van Cornelis Gom".
Johannes het ook aan die Leidse Universiteit ingeskryf,maar verlaat die universiteit voor hy kwalifiseer. Hy tree in diens van die V.O.C. en vertrek op 17.12.1665 as soldaat op die 'Nuijtssenburgh" na die Kaap de Goede Hoop. Na 'n reis van sowat drie-en-'n-half maande arriveer die "Nuijtssenburgh" op 1.4.1666 aan die Kaap. Toe die "Nuijtssenburgh" op 15 April haar reis na Batavië voortsit, was dit sonder Johannes. In die monsterrolle van die offisiere, soldate en matrose wat op 15.5.1666 by die fort de Goede Hoop gestasioneer was, word "Johannes Pretorius van Goeree" aangegee as 'n adelbors ( 'n seekadet). Sowat twee maande later vertrek Johannes na Mauritius,waar hy as sieketrooster en later ook as sekunde of tweede-in-bevel diens sou doen.
Na meer as drie jaar se diens in Mauritius sit Johannes vir tweede en laaste keer op 9.12.1669 voet aan wal in sy nuwe vaderland.
Op 18.11.1673 trou hy met Geertruyda Meyntjes (soms Meyntings of Menthing), wie afkomstig was van Hasselt, Holland (tans België) en hertrou op 28.2.1677 met Johanna Victor, van  Amsterdam.

Uit eerste huwelik:

1. Wessel ged. Kaapstad 3.6.1674 x Geertruy Elbers.

Uit tweede huwelik:

2. Josina geb.1678.

3. Johannes geb.1680 x Helena Vosloo

4. Jeannetta geb.1682 x Jacob Keyser xx Hendrik Frappe.

5 Lodewyk geb.1688 x Maria ROSSOUW geb.1693

6 Elisabeth geb.1690 x Jan Frederik Delitsch.

Vroeg in 1670 word hy deur die Politieke Raad in die pos van 'assistent' in die 'secretarij' aangestel en het ook later as Sekretaris van die Weeskamer opgetree. Hy sterf op 30.4.1694.

[Inligting deur Colin Pretorius: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..   Besoek die Die Genealogiese Genootskap se webwerf  by www.genza.org.za]

  • Hits: 9674