Afrikaans

Ontmoet die Familie Stander

                                                                                                                           Potchefstroom Herald 5 Mei 2017
270 jaar gelede, in 1747 maar presiese datum is onbekend - arriveer die skip “Zaamslag” vanaf Breemen (Bremen)-Duitsland, in Kaapstad waar die bemanningslid Heinrich STANDER, “een ervaren matroos, ook belast met het afvuren van een kanon”, die skip verlaat om sy lewe in die kaap voort te sit. “Stander” beteken “die Standvastige” en met die stamvader se indienstreding by die VOC gee hy sy beroep as “Bosschieter”aan.Heinrich wie ongeveer 1727 gebore is, het gou sy voete in die nuwe land gevind en was as messelaar werksaam tot einde 1750, daarna bottellier (keldermeester) tot kort voor sy oorlye op 10.04.1785, “sonder testament te maken geen vrou dog kinderen nalatende”. Hy het die allermintige bedrag van ƒ7452-15-7in sy boedel nagelaat.Op 3.9.1752 tree hy in die huwelik met Helena Lindequast (Lindeque), ged.16.10.1729, ‘n dogter van Barend Lindeque en Magdalena Brits en weduwee van Adrianus Johannes Fictor (Victor).
Die egpaar het 10 kinders gehad waarvan die meeste se nageslag na Swellendam en later ook George in die Suidkaap verhuis het. Vir die volgende drie-vier geslagte het hulle nasate in die Suidkaap omgewing gewoon en gewerk totdat sommiges na die die destydse ZAR en Vrystaat uitgewyk het.
Vir Heinrich en Helena is tien kinders, almal seuns, gebore maar net vier van die seuns het nageslag nagelaat
b1 Frederik ged. 2.9.1753. (jonk oorlede)
b2 Barend ged.18.7.1756 oorl. George 3.2.1835 x 13.2.1785 Maria Elisabeth Barnard ged. 9.11.1766 d/v Adam Barnard en Lea le Roux. (Twee van haar susters, Catharina Margaretha & Geertruyda Elizabeth, was getroud met Barend se jonger broers Hendrik b5 en Adriaan)
b3 Paulus * 18.7.1756 – geen verdere inligting.
b4 Christoffel ged. 30.7.1758. – ook geen verdere inligting.
b5 Hendrik ged.11.1.1761, was ‘n burger van Swellendam wat oorlede is te George op 25.11.1826 x Swellendam 29.7.1781 Catharina Margaretha Barnard ged.28.04.1765 oorl. 9.8.1835.
b6 Frederik ged.27.3.1763 x 13.2.1785 Jacomina Mosterd geb 19.02.1758. (dogter van Jacob Mosterd en Maria Magdalene de Peronne).
b7 Helena ged.17.3.1765
b8 Adriaan ged. Swellendam 4.5.1766 x 17.12.1786 Geertruyda Elizabeth Barnard ged. 1.12.1771.
b9 Christoffel ged.10.7.1768 - geen verdere inligting.
b10 Johannes Jacobus * 23.9.1770 en oorl.11.12.1770.
Adriaan Hendrikus geb. 12.01.1817, ‘n kleinseun van Adriaan b8) x Elizabeth Catharina Wilman, het later bekenheid verwerf as kommandant tydens die slag van Boomplaas en as stigter van Standerton (nadat hy in die Marico ‘n draai gemaak het byna aan koors gesterf het).
Enkele ander bekende en ook berugte Standers is o.a Veldkornet Karel Hendrik Burger Stander geb. 30.8.1865 wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Die rugbyspelers Rampie Stander (rugby-springbok in die 1980’s) en C.J. Stander wat tans vir Ierland speel. Burry Stander was ‘n bergfietsryer (wêreldkampioen in 2009) wat tydens ‘n wedren in 2013 gesterf het nadat sy fiets deur ‘n voertuig raakgery is.
In die skoonheidswêreld is die Standers ook voor in die ry, daarvan getuig twee mej. SA, Mitzi Stander in 1968, en meer onlangs Rolene Strauss wie se moeder ‘n nooi Stander was.
‘n Berugte Stander was Andre, leier van die sogenaamde “Stander bende” wat in die 1980’s in die nuus was weens gewaagde rooftogte. As seun van ‘n offissier in die Suid Afrikanse Polisie was hy van jongs onder druk om ‘n loopbaan in wetstoepassing te volg en meld aan by die SA Polisiekollege. Hy het egter misdaad sy loopbaan gemaak nadat hy en twee makkers meer as 30 banke beroof het, is hulle gevang en hy is tot 75 jr (effektief 17 jr) tronkstraf gevonnis. Hulle het egter ontsnap en het na die VSA gevlug waar Stander te Fort Lauderdale tydens ‘n skermutseling met die VSA polisie gedood is.
(Vir meer inligting kontak Amanda Stander by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Besoek ook die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za)

 

  • Created on .
  • Last updated on .
  • Hits: 6545

Ontmoet die familie Pottas

                                                                                                                                     Potchefstroom Herald 30 Maart 2017
Of jou van nou POTTAS, POTHAS of POTAS is - jy is familie. Daar is egter ‘n gesin wat nie deel van die Pottas-familie vorm nie, naamlik die krieketspeler Nicolaas Pothas, wat op 'n stadium gedurende die 1990's vir Noord-Gauteng krieket gespeel het. Hy en sy vader is van Griekse afkoms. Sy oupa was 'n kontrakteur in die destydse Belgiese Kongo. Hy het later na Suid-Afrika gekom en is ongeveer in 2000 op een van die Griekse eilande oorlede. Daar het ook Russiese Joodse immigrante gedurende 1917 tot 1920 na Suid-Afrika gekom wat hul van as “Potash” spel.
Terug na die groter groep. Johann Simon is die stamvader van al die POTTAS-, POTAS,- POTHAS-families in Suid-Afrika. Die van word ook gespel as Pothast, Pothard, Pothorst, Posthast, Posthoff, Pottasch, Poltas, Botas, Botaas, asook 'n paar ander variasies. Die drie spelwyses wat in die begin vermeld word, is egter die aanvaarde spellings deesdae.
Die stamvader is in September 1736 gebore en is die seun van Johann Henrich POTHAST en Anna Margaretha DIEBROCKS. Hy het oorspronklik gewoon te Schwalenberg, Kreis, Lippe, wat ongeveer 160 kilometer suidwes van Hanover in die staat Nordrhein-Wesfalen in Duitsland geleë is. Daar is alreeds in 1231 'n inskrywing deur die hoofbiskop van die streek wat verwys na die “oppidium Saulenberg”, soos die dorpie toe bekend gestaan het. Aangesien die dorpie nie tydens die Tweede Wêreldoorlog gebomdardeer is nie, is baie van die geboue aldaar reeds ouer as 300 jaar.
Johann tree op 10.06.1761 in diens van die VOC in Nederland. Hy gaan as soldaat aanboord van die skip “De Vrouwe Geertruyde”, wat op 6.10.1761 onder bevel van kaptein Willem Everdingen van der Nieuwpoort uit Texel, Nederland vertrek en op 13.02.1762 in Kaapstad arriveer. Aan boord was 222 seeman, 103 soldate, 14 ambagsmanne en 6 passasiers. Johann is een van 15 soldate wat in die Kaap aanwal gestap het.
Hy was aanvanklik 'n soldaat tot 1762. Later word hy in die VOC se lyste van "Wagenryders en Beestewagters" vir die jare 1763 tot 1767 as 'n "Wagenrijder aan de Schuur" vermeld.
Hy tree uit die diens van die VOC op 13.01.1767 toe sy kontrak met die VOC beëindig is. Hierna word hy 'n "Vrijburger" aan die Kaap. In die Monsterrolle van die tyd, word hy aangeteken as 'n vrygesel, wat woonagtig in die Kaapstad omstreke is. Hy besit 'n geweer en 'n “degen”.
Hy is getroud met Maria NIEMANN, dogter van Diederik NIEMANN en die “vrije bastardin” Elizabeth VOOGD, en teen 1773 was hulle reeds woonagtig in die Swartland. Vanaf 1773 tot 1785 doop hulle 5 van hul 6 kinders in die NG Kerk Swartland in die hedendaagse Malmesbury. Teen 1805 word hy vermeld in die distrik van Swellendam en in 1806 is daar die laaste vermelding van hom.
Sy nageslag stam almal van sy een seun, Johannes Hendrik (gebore 1778) af. Hierdie nasate is deesdae oor die hele wêreld versprei. Sommige dra die familienaam en ander is afstammelinge van sy dogters met ander vanne.
Die eerste keer wat ‘n Pottas ‘n têrsiere kwalifikasie behaal het, was in die vyfde geslag. Voor dit was matriek selfs ‘n uitsondering in die familie. Die Pottas-familie is klaarblyklik swerwers. Daar is al die opmerking gemaak dat die Pottasse met wiele in plaas van voete gebore is.
Die Pottas DNA vind sy oorsprong uit Noordoos-Afrika. Dit het via Duitsland weer sy spore na Afrika teruggevind. Vandag kom Johann Simon se nageslag voor in meer as 20 lande wêreldwyd.
Bron: Johan J. Pottas - Die Pottas skerwe vanaf Schwalenberg tot Windhoek.
Vir meer inligting besoek die Genealogiese Genootskap se webwerf by www.genza.org.za

  • Created on .
  • Last updated on .
  • Hits: 2922

Ontmoet die Familie Gous/Gauch

Die stamvader van die GOUS familie in Suid-Arika is ene André GAUCH wat in Le Pont-de-Montvert, Lanquedoc, Frankryk gebore is (datum onbekend).
Op 13.1.1683 trou hy in Celigny (naby Geneve, Switzerland), met Jacqueline DECRE en uit die huwelik is 2 kinders gebore, Etienne *ca 1684 en Marie *Amsterdam 1690.
Weens die vervolging van die Protestante vlug hy (voor die herroeping van die Edik van Nantes op 23.10.1685) na Amsterdam waar sy eggenoot oorlede is.
In 1691 vertrek hy en sy twee kinders met die skip “Spierdijk” na die Kaap. Tydens die reis is sy dogter Marie oorlede. (Volgens ‘n ander bron is sy eggenoot ook tydens die reis oorlede).
In die Kaap aangekom gaan vestig hy in Drakenstein naby die huidige Simondium as grofsmit en boer en op 19.8.1691 trou hy met die 15-jarige Jeanne De CLERCQ *1675 +1770 (dv Pieter de CLERCQ en Sara COCHET). Vier kinders is gebore voordat André in Augustus 1698 in vreemde omstandighede sterf. Sy liggaam is gevind in die veld waar hy sy vee inspekteer het. Volgens onbevestigde gerugte is hy vermoor deur ene Pieter Bekker, met wie sy jong vrou na bewering ‘n buite-egtelike verhouding gehad het.
Op die stadium was sy jongste skaars ‘n maand oud en hy laat sy jong weduwee met ‘n stiefseun en 4 eie kinders na – die oudste skaars 6 jaar oud.
Kort na sy moord tree Jeanne in 1698 in die huwelik met Pieter BEKKER, die beweerde moordenaar van haar eggenoot en hulle eerste kind Gideon word in 1698 gebore.
Die naam van sy plaas is nie bekend aangesien hy vermoor is voordat hy die titelakte ontvang het. Gous was een van die min Franse vlugteling wie nie finansieële bystand of vee van die Kompanjie ontvang het nie, omdat hy nie deel van die hoofgroep Hugenote was nie.
In 1694 het Ds. Simmond in sy persoonlike hoedangheid ‘n lening aan hom toegestaan.
Uit sy boedeldokumente blyk dit dat hy ‘n moeilike bestaan gehad het. Die plaas was nie geskik vir saaiboerdery nie, sy gereedskap was oud, hy het drie perde en een slaaf besit en sy skuld aan die kompanjie en andere was ongeveer 1800 Riksdaalders. Aan die ander kant het hy probleme gehad om gelde wat aan hom verskuldig was in te vorder.
Sy kinders uit die twee huwelike was:
b1 Etienne *Switzerland 1684 was ‘n boer op die plaas "Elandsvalleij" aan De Swartberg x Kaapstad 27.2.1718 Catharina BO(C)K *ongeveer 1705 =Kaapstad 1.1.1713. Sy was ‘n gebore slavin wat in 1709 vrygestel is en was ‘n d.v. Christian Bock van Wolfenbuttel, Duitsland en Anna Groothenning van Bengale.
[Etienne se jongste seun Andries Stephanus *1740 was getroud met Maria Hendrina Mulder en hulle word die pleegouers van Andries Carel Eduard Alexander FACULYN wie in Frankryk gebore is maar wees agtergelaat word toe sy ouers beide op die seereis na die Kaap sterf. [Andries Carel Eduard Alexander trou later met Alida Jacoba Mosterd en hulle oorlewende seuns se nageslag word mettertyd in die GOUS stamboom opgeneem].
b2 Marie *Amsterdam 1690 - as kind oorlede.
b3 Pieter *ca 1693, boer "De Doorne rivier", aan de Brakkefontein, Land van Waveren x Stellenbosch 4.5.1721 Johanna (Anna) OOSTHUIZEN = Paarl 29.11.1705 +1745 (d.v. Johannes Oosthuysen en Johanna Maartens).
b4 Sara * c. 1694 †Des 1722 x Christiaan GOBRECHT * c. 1686 soldaat van Maagdeburg, Duitsland.
b5 Jeanne gedoop Drakenstein 25.9.1695. Ongetroud oorlede.
b6 Andries geb. 1698, boer oorl Junie 1735 x Paarl 14.5.1719 Johanna CONTERMAN d.v. Jan
Jacob Conterman en Catherina Cleeff.
[Info supplied by Richard Ball: Juna Malherbe (in Jannetje de Clerc, Huguenot Society of South Africa Bulletin 35, 1998), writes that there was also a child named Gideon Bekker born 1698. She questions the date, which from the evidence of the Joernaal-boek der Caapse Weesen 1698 would appear to be impossible, but she accepts the existence of the child itself, but she presents no evidence. I have found none].

BRONNE:
BALL Richard Ball: Korrespondensie.
HEESE J.A. Suid-Afrikaanse Geslagsregisters Deel 2 D-G. RGN 1989 ISBN 0 7969 0752 8.
Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za)

                                                                     

  • Created on .
  • Last updated on .
  • Hits: 2955

Ontmoet die Familie Oelofse

                                                                                                                                  Potchefstroom Herald 2 Maart 2017
Die ontstaan van die Oelofse’s as Suid-Afrikaanse familie is, glo dit as u wil, deur die lot beslis! In ‘n ou VOC regsdokument is die verhaal hoe die Oelofse-Familie in Suid-Afrika sy beslag gekry het.
In die eerste deel van die dokument gedateer 24.03.1668 verskyn ‘n opsomming van aanklagte wat in die openings verklaring weergegee word: “Alsoo Andries Oloffse van Cristiaan Stadt oudt 26 jaaren, geweesen matroos in dienst der ed. compe.op t' Huijs te Velsen jegenwoordig 's Heeren ...”
Die 26 jarige Andreas Oelofse was afkomstig van Christiaanstad (Oslo). Opgesweep deur ‘n mede-passasier op die skip, het hy ingestem deel te wees van ‘n komplot om die skip se offisiere in hul kajuite te vermoor. Vir die doel het hy ‘n mes in sy sak versteek en ene Hans Oelsen sou hulp verleen.
Die tweede deel handel daaroor dat ‘n regering wat wet en orde handhaaf nie sodanige dade kan oorsien nie en dat ‘n voorbeeld van hom (en ander) gemaak moet word deur aan hulle die maksimum voorgeskrewe straf op te lê.
Hy het voor die Kommisarisse van die hof, die Kommandeur, asook die bevelvoerders van retoervloot (wat op daardie stadium in Tafelbaai voor anker was) verskyn en is gevonnis in die naam van van die “Staten Generaal de Verenigde Nederlande”.
Die vonnis het bepaal dat sy lot (om te lewe of te sterwe) op die dag en plek van teregstelling bepaal sou word deur trekking van een van twee strooitjies. - Indien hy die kort een trek, was die vonnis dat hy “aan sy nek sou hang totdat hy dood is en al sy bates en besittings sou konfiskeer word”.
Indien hy egter die lang strooitjie sou trek moes hy die maksimum aantal houe met ‘n rottang ontvang terwyl hy op die skavot staan met die galgtou om sy nek, waarna hy met brandyster as krimineel gebrandmerk sou word. Daarna moes hy ook nog 25 jaar op Robbeneiland in kettings deurbring en ook sy besittings aan staat afgee.
Die blote feit dat hy minder as twee jaar later getrou het maak dit duidelik watter strooitjie hy getrek het!
Andreas Oelofse trou op 14.4.1690 te Kaapstad met Sara Van Gyselen d.v. Leendert Janz van Gÿselen en Maria Willemsdogter van die Kaap. (Daar word ook na haar verwys as "Sara from the Cape, a half-caste female belonging to the Company, promised that upon her death (and after her marriage to Andries Oelsen), she would leave half her possessions to the Company in return for the education she had received as child).
Hulle kinders was:
b1 Leendert *ca 1690 x 16.8.1711 Margaretha Beyers *ca 1690 -3 seuns, maar hulle nageslag is redelik klein in getal.
b2 Fure *ca 1692.
b3 Dorothea *ca. 1695 x 7.1.1709 Cornelis Campher +ca 1686.
b4 Margaretha *ca 16.9.1696 x 24.3.1726 Johann David Pfannenstiel xx 27.8.1741 Heinrich Fehrsen.
b5 Sara Magdalena *ca 1698 x Kaapstad 2.12.1731 Johan Michiel Kromhout van Königsberge.
b6 Cornelis *ca 1699 (ongetroud).
b7 Anna *ca 1703 x 2.3.1721 Johann Adam Clank van Naumburg.
b8 Johannes *ca 1706 (ongetroud).
b9 Roelof *ca 1708 +26.09.1743 x 15.08.1728 Sara Cordier *Paarl 1713. Die egpaar het 4 kinders (2 dogters en 2 seuns) gehad en die jongste, Andries x Maria Susanne Roi, is waarskynlik voorouer vir die meeste Oelofse’s in Suid-Afrika. Hy was “baaspadmaker” van die Langkloof. Die egpaar het gewoon op die plaas Rietvlei waar die dorp Uniondale aangelê is.
Die mees bekende Oelofse is sekerlik Hansie, sprinbokskrumskakel in 1953. Lt. Nicolaas Petrus Oelofse was tydens die tweede Vryheidsoorlog ‘n knap kannonier.

Bronne:
Heese J.A: Suid-Afrikaanse Geslagregisters. Vol 7 O-Ph. GISA 2002;
www.genza.org.za
http://www.stamouers.com

  • Created on .
  • Last updated on .
  • Hits: 3011

Ontmoet die Familie Greyvenstein

                                                                                                                Potcefstroom Herald  1 Desember 2016

Die betekenis van Greyvenstein/Greifenstein : Huis van griffioene(legendariese voëls). Ook ‘n Duitse pleknaam.
Greifenstein is eintlik ‘n gemeenskap in die distrik Lahn-Dill-Kreis in die provinsie Hesse in Duitsland. Die naam is afkomstig van die Greifenstein kasteel in die distrik. Die van Greifenstein spruit dus uit die naam van die Greifenstein kasteel en die Greifenstein gemeenskap. Die naam van die kasteel en dorpie is later aangeneem as ‘n van. Die stamvader Johann Jacob Greifenstein het gedurende 1759 in die Kaap gearriveer en in dokumente word Greifenstein ook geskryf as Gravenstein , Greivensteyn , Grijvenstein ens. Die van is geskryf soos wat betrokke amptenare dit uitgespreek het en so het dit verander totdat die van Greyvenstein/Greyvensteyn en Gravenstein bly vassteek het.
Johann Jacob Greifenstein arriveer in Kaap de Goede Hoop op 28 Maart 1759, op die skip Kronenberg as soldaat in die diens van die H.O.I.K. Die Kronenberg was op pad vanaf Texel na Batavia en aan die stuur was skipper Willem Hoogland. Op skeepsdokumente word Johann aangegee as Jacob Geijgesteijn, soldaat. Gedurende 1762 verkry Johann Jacob burgerskap, tree gedurende 1763 uit diens van die H.O.I.K en vestig hom in die Kaap as messelaar.
Op 30 Julie 1769 tree Johann Jacob in die huwelik met Sophia van die Kaap, ‘n vrygegeven lyfeigene, ‘n slawemeisie wat haarself Sophia Kluysman noem.
Johann Jacob Greifenstein sterf die 22ste Desember 1793 . In boedeldokumente word sy woonadres aangegee as: Een huijs en erf staande ende gelegen in dese Tafelvalleij in de Waalestraat in het blok P.P en aldaar N.o.8’
Kinders wat uit die verbintenis en huwelik van Johann Jacob en Sophia gebore is:
b1. Geertruida Barbara Kluysman – ‘n buite-egtelike kind van Sophia maar deur Johann Jacob as sy eie kind aanvaar.
b2. Johann Jacob (Hans) gedoop in Kaapstad, 20 Augustus 1769.
b3. Helena Catharina gedoop in Kaapstad, 26 April 1772.
b4. Johanna Jacoba gedoop in Kaapstad, 2 Oktober 1777 (haar moeder word op die doopinskrywing aangegee as Johanna Regina Roelen, dus ‘n buite-egtelike kind van Johann Jacob).
b5. Johanna Antonia gedoop in Kaapstad, 16 November 1777.
b6. Aletta Abigail gedoop in Kaapstad, 20 Augustus 1780.
b7. Barbara Christina gebore 25 Februarie 1779.
Johann Jacob (stamvader) het slegs een seun gehad, alle Greyvensteins in verskillende spelvorme (Greifenstein, Greyvenstein, Greyvensteyn, Gravenstein, Gryvenstein ens.) stam dus van hom af. Hy trou op 20 jarige ouderdom op 11 Februarie 1789 te Kaapstad met Johanna Maria Louw, sy sterf gedurende die vroëe 1800’s kort na die geboorte van hulle tweede kind en hy trou op 3 Augustus 1805 in die huwelikshof te Graaff Reinet met Heyltje (Heila) Magdalena de Beer. Hans se twee oudste kinders is albei jonk oorlede. Hans en Heila vestig hul eers in die Graaff-Reinet omgewing maar trek later na die Cradock distrik, hulle het saam elf kinders, sewe seuns en vier dogters.
Gedurende 1836, ‘n jaar nadat Hans oorlede is, trek ook sy weduwee en gesin na die noorde tydens die Groot Trek. ‘n Kleinkind, Jan Hendrik Jacobus Antonie Greyvenstein verbrand in ‘n oop vuur en die familie draai weg na Molteno se kant waar daar nog oop staanplekke was. Van die Groot Trek het daar dus vir hierdie gesin niks gekom nie en hulle het hulle wortels diep in die Noordooskaap ingegrawe.
Eers gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s begin van die jonger geslagte noordwaarts trek, eers net na die Vrystaat en later ook na die Johannesburg omgewing.
[Vir nadere besonderhede kontak vir Marie Greyvenstein by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Besoek die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf www.genza.org.za]

  • Hits: 3461

Contact the Web Manager

Feedback, suggestions and corrections are welcomed.

Please contact the Web Manager

Visitors to this web site

Today150
Yesterday651
This week3558
This month14432

Visitor Info

  • IP: 3.227.254.12
  • Browser: Unknown
  • Browser Version:
  • Operating System: Unknown

Who Is Online

7
Online

Saturday, 21 September 2019 06:48