Ontmoet die Familie Eloff

Written by Ferdie Van Wyk.

                                                                                                                                          Potchefstroom Herald 29 April 2016

Die meeste lede van die familie ELOFF wat vandag feitlik oor die hele Suid-Afrika versprei is, kan geredelik aanvaar dat hulle die afstammelinge is van Zacharias Arend Eloff, seun van Johan Andreas Eloff en Eleonore Strinhof van Werscherode by Gandersheim in Sentraal-Duitsland. Hy was die enigste Eloff wat na Suid-Afrika verhuis het. Eloff is ook van die weinige vanne wat tot in die skemertye van die ou Wikings en Noormanne in Europa teruggespoor kan word. Vyftien eeue gelede was die van bekend as "Agilwolf", dit is, die "heilige wolf" en draer van die "swaard" (Agil) van die Nordiese god Wodan. Later is die spelling verander tot EELWOLFF en in Suid-Afrika is dit aanvanklik EELHOFF en soms ILHOFF geskryf. Mettertyd is dit tot ELOFF vereenvoudig. In 1759 onder die regering van Goewerneur Ryk Tulbagh en meer as honderd jaar na die koms van Jan van Riebeeck, het Zacharias Arend Eloff as soldaat in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie met die skip "Keukenhoff" na die Kaap verhuis. In die omgang was hy om een of ander rede as "Jan" Eloff bekend. Waarskynlik was sy volle naam Johannes Zacharias Arend, want die eerste twee name is, volgens tradisie, aan sy eerste kleinseun gegee. In 1765 het hy die soldateberoep gelos en timmerman of skrynwerker in diens van die Kompanjie geword totdat hy in 1767 burgerskapverkry en hom op die boerdery in die wyk Drakenstein toegelê het. Kort daarna, op 2.5.1772, is hy met Maria (Martha) Sophia du Plessis, dogter van Charl Jean du Plessis en Maria van Ellewee, in die Paarl getroud. Zacharias (Jan) Eloff se huwelik met Maria du Plessis het nie lank geduur nie. In 1777 het hy aansoek gedoen om ‘n plaas in die Paarl, maar op 8.1.1778, nog voordat hy die plaas kon ontvang, is hy deur 'n slaaf, ene Januarie van Beubac, wat in die diens van sy buurman, burger Jan Smit Jurriaanse was, vermoor. Hierdie slaaf is in Junie 1778 deur die Geregshof aan moord skuldig bevind en gevonnis om aan sy nek opgehang te word "totdat die dood hom verlos". Zacharias Eloff se weduwee het hom met twee kinders oorleef: Charl Johannes (geb.1775) en Anna Sophia (geb.1776). Die derde kind, Zacharias Arend (geb.1778) is meer as drie maande na die vader se dood gebore en jonk oorlede. Die Suid-Afrikaanse Eloffs is dus Charl Johannes en eggenoot Cornelia de Wit se nageslag. Na die geboorte van hulle eerste vier kinders, Anna Susanna (1797), Johannes Zacharias (1798), Frederik Christoffel (1800) en Martha Sophia (1803) het Charl Johannes Eloff en sy vrou Cornelia saam met die veeboere wat al dieper die binneland binnegedring het, verder na Graaff-Reinet omgewing verskuif. In 1806 is hulle vyfde kind, Charl Johannes, in Graaff-Reinet gedoop en later ook Cornelia Maria (1808), Neeltje Christina (1810) Charlotta Catharina (1814), Ernst Hendrik (1816) en Petrus Johannes (1818). Hierdie jongere geslag het verder die binneland in getrek en hulle in die omgewing van Cradock, aan die Brakrivier en agter die Sneeuberge gevestig. As grensboere het hulle goed kennis gemaak met die destydse grensprobleme, onrus en selfs oorloë op die voorposte weens die weifelende grensbeleid van die Kaapse Regering, veral onder die Britse bewind. Dit verbaas daarom nie dat byna die hele Eloff-familie, oud en jonk, by die Groot Trek aangesluit het nie. Onder die bekende Eloffs is kmdt. Sarel Eloff van Rustenburg en sy twee seuns Frederik Christoffel Eloff, getroud met Elsje Francina Kruger, dogter van Pres. Paul Kruger, asook sy jonger broer, Jan, na wie Eloffstraat in Johannesburg vernoem is. [Bron: Van Dijk J.H. – Stamregister van die Familie Eloff. RGN Genealogiese publikasie No 1 Pretoria 1972]