Die Familie De Wet

Lucas se verhaal van die De Wets
                                                                                                                    Potchfstroom Herald 23-05-2014

Ek is nie ‘n gebore de WET nie maar van kindsbeen af het ouma Martie, ‘n nooi de WET my vertel van die “dapper Generaal, hy veg so dapper in Transvaal” en het geleer om die liedjie te sing met die herhaling van die van wat daarin voorkom. En sy was so trots dat sy verwant was aan ons beroemde Generaal – haar oupa, het sy vertel was ‘n broer van die Generaal se vader.
Nie dat ek oumatjie nie geglo het nie, maar ek wou bewyse hiervoor vind en dit was nog lank voordat Henk de WET se wonderlike “Familie de WET - 300 Jaar”  beskikbaar was. Ek het ‘n brief van haar vader nou nog in my besit maar hy het net met sy voorletters geteken en ek kon dit nie uitmaak nie. Na elf maande se weeklikse besoeke aan die LDS in Centurion waar die microfilms wat nou in Parktown is, toe beskikbaar was, en ek deur elk van groot oupagrootjie se broers se familie gewerk het, was ek nog niks wyser nie en toe ontvang Janet Melville Henk se manuskrip en help sy my om die nodige bewyse te vind.
En nou is dit my groot vreugde om te poog om Henk se inligting uit te bou en soek ek narstiglik na elke moontlike de WET wat ek kan vind.
Stamvader Jacobus de Wet het sy diens by die H.O.I.K, op 17.1.1693 begin en het op 19.8.1693 as Adelbors in Tafelbaai aangekom op die Hollandse Vlootskip “Nichtevecht” wat op pad was vanaf Texel na Batavia. Sy salaris was 10 gulden per maand. Simon van der Stel was toe kommandeur in die Kaap en het versoek dat Jacobus nie na Batavia gaan soos hy van voornemens was nie maar aan die Kaap moes bly. Hy word toe aangestel as tydelike klerk in diens van die H.O.I.K en word op 4.8.1696 bevorder as sekretaris van die Hof van Klein Sake. Verdere bevorderings het spoedig gevolg. Toe die Vryburgers in opstand teen die Kommandeur en sy gunstelige, waarvan Jacobus een was, gekom het moes hy kies tussen amptenaar bly  of voltyds te boer en tree toe op 31.8.1708 uit dien van die Kompanjie. Hy gaan woon toe aan die Liesbeeckrivier.
Kort na sy aankoms in die Kaap, het hy bevriend geraak met Josina PRETORIUS, tweede kind van vryburger Johannes PRETORIUS en sy tweede vrou, Johanna VICTOR en het haar gereeld besoek. Hierdie besoeke is egter kort geknip toe sy verwagtend geword het en hy geweier het om met haar te trou. Josina se kind, Jacobus, is op 2.9.1696 in die Kaapse Kerk gedoop met die vader “onbekend” aangegee maar hy was mettertyd as Jacobus Wilhelmus de WET bekend en 95% van al die de WETs in Suid-Afrika stam van hom en sy vrou Helena BEKKER af (Bekend as die onwettige de WETs).
Op 13.4.1698 trou stamvader Jacobus toe met Christina BERGH, dogter van Oloff BERGH en uit die huwelik is vyf kinders gebore, 2 seuns en drie dogters. Die ander 5% (Die wettiges) stam af van hul jongste seun Johannes Carolus. Terloops, die wie lief is vir die voggies, kan vandag nog Olaf Bergh brandewyn nuttig en nou weet waar hierdie naam vandaan kom.
Daar was in die de WET voorgeslagte welbekende kunstenaars wie se werke vandag nog in paleise soos “Holyroodhouse” in Engeland gesien kan word. Die skilder was weliswaar bekend as James de WITT maar ons ken hom as Jacob of Jacobus de WET (De Jonge) en vader van ons stamvader. Hy is in ongeveer 1660 in Haarlem, Noord-Holland getroud met Helena STALMANS. Ook sy vader Jacob Willemsz de WET, getroud op 12.5.1639 met Maria Jacobs van DIEMEN was ‘n bekende kunstenaar en het ook ‘n broer Gerrit (Geradus) gehad – ook ‘n skildenaar.
Ons stamvader se agter, agterkleinseun Johannes Marthinus de WET gebore 2 Oktober 1757 in Stellenbosch trou op 8.8.1778 te Stellenbosch met Catharina Magdalena (Helena) OPPERMAN en hul kleinseun kry van OPPERMAN kant af die name Christiaan Rudolph en twee geslagte later (hoewel nie in direkte lyn nie) word op 7.10.1854 te Leeukop in die Smithfield distrik gebore Christiaan Rudolf – die groot Boere Generaal van wie oumatjie my vertel het. Stories oor hom en sy perd “Fleur” is legio en ‘n standbeeld van hulle twee kan gesien word voor die Ou Raadsaal in Bloemfontein.

[Bydrae deur Lucas Rinken (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.) soos geplaas in die Potchefstroom Herald dd 23.5.2014]