Sam Basch 12 Mei 2013

By die Bergendal-monument buite Belfast in Mpumalanga het ek twee name onder mekaar op die swart granietpaneel gelees:  Van Elandskloof (Klik op die foto om te vergroot) {artsexylightbox path="images/stories/Noord_Transvaal/SambaschAHA" previewWidth="100" previewHeight="100"}{/artsexylightbox} - A. Basch; R. Basch.
Aanvanklik kon ek hierdie twee nie plaas nie, al was ek vanaf laat-2009 met die familienavorsing doenig.  Só onervare is mens dat ek nie dadelik gesnap het hierdie einste A. Basch was ons stamvader nie.
In 2010 bespreek ons selfs ‘n snerpend-koue naweek op Elandskloof, deesdae ‘n forelplaas naby Dullstroom, op soek na stamvader Alexander Oskar Adolf Berthold BASCH (1837-1902) se graf.  Volgens my inligting het hy tot 1902 op Elandskloof geboer. Ons gaan soek selfs in die ou begraafplaas op Machadodorp waar hy glo ‘n huis besit het.  Niks.
Dan kom ons op ‘n skokkende feit af uit sy vrou se dokumentasie in die argief: sy het verklaar dat hy op 20 April 1901 vermoor is.  Elria Wessels by die Anglo-Boereoorlog-museum in Bloemfontein bevestig die inligting in ‘n e-pos, maar dui die jaar aan as 1902.  En sy verwys ook na Robert (Gert) Basch, ouderdom 14, wat net soos Alexander twee myl buite Dullstroom vermoor is.
Nou weet ons hul name is dié wat op die Bergendal-monument verskyn, vermoedelik dan herbegrawe vanaf Elandskloof. Maar wie was jong Robert?
Alexander se Sterfkennis (SK) bevat die name van vier kinders uit sy eerste huwelik met Martha Christina Elizabeth Geertruida SMIT (1837-1870) en tien kinders by Aletta Petronella STOLTZ (1848-1920).  Maar daar is g'n Robert Gert aangeteken nie.

Kon dit dalk ‘n kleinkind wees?  Al soekend onder Alexander se manlike nageslag lewer die argiewe niks verder op nie. Dan gee dr David de Klerk uit Worcester my onlangs ‘n webskakel na die data van ABO-Museum in Bloemfontein, waar Alexander Oscar en Robert Gert se sterfdatum voorkom, as synde 3 Maart 1902.  Watter datum is korrek?
En hierdie week (9 Mei 2013) vertel my vriend en navorser uit Waterval-Boven, Piet Schoeman, dat die “joiners” - of “National Scouts” soos die Britte hulle genoem het - dikwels Boerekrygers doodgeskiet het.  Sou dit die geval met Alexander en Robert gewees het?  Volgens ‘n bron wat Piet geraadpleeg het (Military History Journal Vol. 1, 1998), was Alexander ‘n assistent-veldkornet wat ‘n heliograafstasie op Elandskloof  beheer het.
Dr De Klerk het ook ‘n ander skakel gegee, na die Universiteit van Kaapstad se data oor die konsentrasiekampe.
En Aha:  dáár vind ek die aanduiding onder Aletta Petronella BASCH, geb. Stoltz - destyds in die Barberton-kamp - dat “Robert Daniel, aged 15” saam met sy pa Alexander Oscar op kommando was.
Weliswaar verskil die tweede naam, asook die ouderdom, maar ek glo die waarskynlikheid is groot dat ons met dieselfde individu te make het:  Robert BASCH wat as penkop in die ABO geveg het en om die lewe gebring is.
Ten minste is sy naam by Bergendal verewig.