StoriewaDie GGSA Vaal se eie publikasie.

Wat is GENEALOGIE? ( Wikipedia)

Die woord is vanuit Griekse afkoms nl “ Genea “ – Afkoms en “Logos” – Kennis. Die studie van afkoms. Die studie van gesinne en hulle afstammelinge.

Genealoë gebruik mondelinge tradisies, historiese rekords, genetiese analise en ander bronne om inligting oor families te bekom.

Genealogie word meestal as ‘n stokperdjie beoefen.

Wat is die GGSA? ( Wikipedia/ GGSA)

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika is ‘n Suid-Afrikaanse genealogiese organisasie van persone (toegewyde amateur-familienavorsers) wat hulle besig hou met die studie van genealogie, familiebome en familiegeskiedenis wat ‘n Suid-Afrikaaanse verbintenis het. Die GGSA is in 1964 gestig.

Mense het van oor die wêreld na Suid-Afrika gekom, families begin en vêr en wyd versprei binne en buite die grense van Suid-Afrika. Om hierdie gesinne se voetspore te volg en om insig te kry in hulle kulturele, geestelike, godsdienstige en politieke sieninge is ‘n moeilike dog interessante en verykkende ervaring.

Wat is die GGSA VAAL? Bydrae deur Hendrik Potgieter (Pottie)

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Vaaldriehoek tak is in Sept 1999 gestig as 'n organisasie sonder winsbejag met die volgende doelstellings:

  • om met almal wat belangstel in genealogiese navorsing kontak te maak
  • om die wetenskap van genealogie te bevorder
  • om steun te verleen aan die bewaring van genealogiese en ander waardevolle verwante dokumentasie.

Alhoewel die Vaal Tak 'n baie eenvoudige ontstaan gehad het met net 5 lede wat aangesluit het, het die Tak stelselmatig uitgebrei oor die jare met ‘n konstante ledetal van 25 lede per jaar vir die laaste 5 jaar. 3

Na die stigting in 1999 was die Vaal Tak verskeie kere by verskillende adresse in die Vanderbijlpark-,en Vereenigingomgewing gesetel en is die behoefte vir ’n meer permanente adres nog steeds ’n droom vir die toekoms.

Ten spyte van die “klein tak” status wat die Vaaldriehoek het, word hier elke jaar groot dinge deur die bestuur en lede van die tak vermag. Die konstante vraag van “wat doen julle by die Tak”, kan maklik beantwoord word met:

  • Vergader een keer per maand.
  • Gereelde interessante gassprekers wat vir ons inligtingsessies aanbied.
  • Takuitstappies na ander relevante instansies.
  • Biblioteek wat bestaan uit boeke en cd’s.
  • Opleidingsessies aangebied by vergaderings.

Van die projekte wat die Tak aktief bedryf is deelname aan die nasionale Begraafplaasprojek. Die fotografering van grafte by die begraafplase is baie belangrik vir almal binne en buite die landsgrense.

Die absolute hoogtepunt is natuurlik die jaarlikse Ons Storiewa uitgawe. Ons Storiewa verskyn hierdie jaar vir die 8ste keer. Dit is die geleentheid wanneer al die Tak se lede ’n bydrae kan lewer om in hierdie publikasie as vertoonkas te wys waarmee hulle as amateur en gesoute navorsers en genealoë besig is.

Indien mens na die publikasies kyk, besef jy baie gou dat dit nie formele, stywe navorsingspublikasies is nie. Dit is sommer net lekker leesstories en staaltjies en dan besef mens die waarde van “Wat is Genealogie?”

Dit is die navorsing van ’n familie se erfenis.

Genealogie is die lyn van ’n nagevorsde afstammeling, onafgebroke van ’n Stamvader of Stammoeder.

In ons geval werk ons van onself af tot by ’n Stamvader of Stammoeder.

Genealogie is ’n passie en in baie gevalle ’n lewenslange missie. Die algemene gevoel is dat ‘n mens baie selde ‘n volledige stamboom met al sy sytakke sal hê.

Die stories wat ons skryf, is die murg en been van die verlede.

Onthou - Genealogie sonder dokumentasie is Mitologie.

Dit is met groot trots dat ons deel is van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) wat uit 12 takke met ongeveer 1,000 lede landswyd en in die buiteland bestaan.